Tygerberg-hospitaal teen R10 mjd. vervang
Tygerberg-hospitaal teen R10 mjd. vervang

Tygerberg-hospitaal teen R10 mjd. vervang

Die Tygerberg-hospitaal is vervalle, kan nie meer die druk hanteer nie en moet teen 'n minimum koste van R10 miljard vervang word.

So het die parlementêre portefeulje­komitee oor gesondheid vandeesweek gehoor in 'n voorlegging deur die Wes-Kaapse departement van ­gesondheid, berig Business Day.

Dit is die grootste akademiese hospitaal in die Wes-Kaap, en ­duisende ­pasiënte wat spesialisdienste benodig, word daarheen verwys.

Die ander akademiese hospitale in die provinsie is Grootte Schuur en die Rooikruis-kinderhospitaal.

In 2014 is berig 'n nuwe hospitaal sal op die landgoed waarop die ­hospitaal is, gebou word. Die ­provinsiale ­departement van gesondheid het toe gesê dit sal na verwagting teen 2019 of 2020 voltooi wees.

'n Studie was toe onderweg oor wat met die bestaande struktuur gedoen moet word: of dit behou of gesloop moet word.

Daar is toe gesê die nuwe hospitaal gaan eintlik twee in een wees: 'n kleiner akademiese spesialis­hospitaal op die perseel en 'n groter streekhospitaal wat elders gebou gaan word, moontlik in Kraaifontein. Die twee sou as 'n eenheid funksioneer.

Die R10 miljard is net vir dié nuwe akademiese hospitaal wat verwant is aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit gesondheidswetenskappe en geneeskunde.

Mark van der Heever, adjunkdirekteur van kommunikasie van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het Donderdag gesê berigte dat die Tygerberg-hospitaal moet toemaak, is onwaar en kan lei tot paniek.

“Die Tygerberg-hospitaal is 'n ­strategiese en deurslaggewende deel van ons gesondheidsorgstelsel en die hospitaal is geoormerk om vervang te word, nie om toe te maak nie.

“Daar sal twee projekte wees: die nuwe Tygerbergse Sentrale Hospitaal en die nuwe Tygerberg-streekhospitaal. Dit sal saam gedoen word, op kort en lang termyn.”

Dr. Beth Engelbrecht, departementshoof, skakel met die ­nasionale departement en nasionale tesourie vir die bou van die sentrale hospitaal.

“Omdat dit 'n megaprojek is, hoop ons om aan al die voorwaardes te voldoen sodat ons in 2023 met die ontwerp- en boufase kan begin.

“Die sakemotivering vir die nuwe Tygerberg-streekhospitaal is reeds vir goedkeuring by die nasionale ­departement ingedien.”

Op kort termyn is die opknapping van teaters, hysers, die riool-, water- en brandstelsel en ander meganiese werk 'n voorkeursaak.

In 2017-'18 is 66 200 pasiënte in die hospitaal opgeneem en 309 816 is as buitepasiënte behandel.

Daar werk 4 000 mense.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!