Uber met meer as US$1 m. beboet
Uber met meer as US$1 m. beboet

Uber met meer as US$1 m. beboet

Die app-gegronde taxidiens Uber is met meer as US$1,1 miljoen beboet omdat hy versuim het om gebruikers se persoonlike inligting te beskerm.

Die Britse kommissaris van inligting en haar Nederlandse eweknie het elkeen afsonderlik ’n boete aan Uber opgelê nadat miljoene gebruikers van dié gewilde diens se inligting in 2016 deur kuberkrakers bekom is.

Meer as 57 miljoen mense wêreldwyd se inligting is gesteel. Minstens 2,7 miljoen was Britse burgers, het die kommissaris bevind. Minstens 174 000 Nederlanders se inligting het ook uitgelek.

“Dit was nie net ’n ernstige skending van dataveiligheid deur Uber nie, maar ook ’n totale verontagsaming van die kliënte en bestuurders wie se persoonlike inligting gesteel is,” het Steve Eckersley, direkteur van ondersoeke van die Britse kommissaris van inligting se kantoor, in ’n verklaring gesê.

“Daar is destyds geen poging aangewend om mense wat hierdeur geraak is te kontak of om hulp of ondersteuning aan te bied nie. Dit het hulle kwesbaar gelaat.”

Die ondersoek het ook bevind byna 82 000 Uber-bestuurders in Brittanje se inligting het uitgelek. Dit sluit in besonderhede van hoeveel passasiers hulle tot in daardie stadium al vervoer het en hoeveel hulle daarvoor betaal is.

DRUPPEL IN EMMER

Die inbraak op Uber se stelsels het in Oktober en November 2016 plaasgevind.

Dit was voor die bekragtiging van die Europese Unie se nuwe wet oor die beskerming van sy burgers se inligting in Mei vanjaar.

Daarvolgens kan enige maatskappy wat die algemene databeskermingsregulasies (GDRP) oortree, boetes van tot 4% van sy wêreldwye jaarlikse inkomste opgelê word.

Derhalwe is ’n boete van US$1,1 miljoen maar ’n druppel aan die emmer van wat Uber beboet sou kon word as die inbraak ná Mei vanjaar plaasgevind het.

In reaksie het die Amerikaanse maatskappy gesê hy is “verheug om hierdie hoofstuk oor die data-voorval van 2016 af te sluit”.

“Soos ons in die ondersoek aan Europese owerhede verduidelik het, het ons ’n aantal tegniese verbeteringe aangebring wat die veiligheid van ons stelsels betref.” – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!