Uitdagings vir Brasiliaanse president
Uitdagings vir Brasiliaanse president

Uitdagings vir Brasiliaanse president

Francoise Steynberg
Brasilië se nuwe, waarnemende president, Michel Temer, vervang ’n bitter ongewilde leier en gaan met baie van dieselfde probleme te doen hê as wat pres. Dilma Rousseff moes trotseer.
Brasiliane hoop hul regering kan aanbeweeg ná ’n maande lange stryd oor die geskorste Dilma Rousseff­ se staat van be­skuldiging.
Dit het die aandag afgelei van die land se ander probleme, waaronder die ergste resessie in jare en die reëlings vir die Olimpiese Spele wat in Augustus begin.
Hoewel Temer (75) die steun van sakelui het, meen politieke ontleders hy sal dieselfde struikelblokke as Rousseff teëkom.
Rousseff (68) is Donderdag deur die senaat vir tot 180 dae geskors vir haar verhoor nadat sy in ’n staat van beskuldiging gestel is. Sy het glo begrotings­probleme verswyg om tot president herkies te word.
Temer, ’n regse veteraan, is ook nie juis gewild in Brasilië nie.
Hoewel Rousseff se goedkeuringsyfer onder 10% gedaar het, sal Temer maar 1% of 2% van die stemme in ’n presidentsverkiesing kan lok, is in ’n onlangse peiling bevind.
Rousseff het hom uitgekryt vir die leier van ’n “staatsgreep” om van haar ontslae te raak en hy moet nou die open­bare vertroue herstel in ’n politieke stelsel wat Brasiliane as korrup beskou.
“Hy sal baie van die Brasiliane­ se ontevredenheid erf oor die soort tradisio­nele politiek wat hy verteenwoordig.
“Dit sal vir hom moeilik wees om hom as ’n nuwe mens sonder enige verbintenis met die vorige leiers­korps te herskep,” sê ­Thiago Bottino, ’n ontleder aan die Getulio Vargas-­stigting.
Lincoln Secco, ’n historikus aan die Universiteit van São Paulo, sê Temer kan later ’n ander probleem hê: Rousseff.
“Vir vyf of ses maande (terwyl die verhoor aan die gang is) het ons ’n nie-uitvoerende president.
“Haar skadu sal oor Temer hang en daar sal druk op sy regering wees om gou resultate op te lewer.”
Die Temer-administrasie­ se hoop is gevestig op die herstel van die sukkelende ekonomie.
Die sakewêreld sien reeds uit daarna om ’n regering te hê wat markvriendeliker is ná jare van linkse beleid en groeiende tekorte. Brasilië is in sy tweede jaar van ’n resessie en sal na verwagting eers teen 2018 groei toon.
Om die ekonomie aan die gang te kry, het Temer ’n “brug na die toekoms” voorgestel, waaronder besnoeiing van staats­uitgawes en handels­hervormings.
Onder Rousseff en haar voorganger Luiz Inácio Lula da Silva het die land se maatskaplike programme miljoene mense uit armoede gelig.
Vir talle Brasiliane is Temer ’n tree terug.
“Ek dink burgerlike bewegings sal die strate invaar. Hulle gaan die lewe nie maklik maak vir Temer nie,” sê Debora Messenberg van die Universiteit van Brasilië.
- Netwerk24/Nampa/AFP

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!