Uitdagings vir lugvragvervoer
Uitdagings vir lugvragvervoer

Uitdagings vir lugvragvervoer

Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn in Cancun, Mexiko - Die belangrikheid van die modernisering van lugvragvervoer en om voordeel uit die ontwikkeling van die digitale era te trek, was een van die onderwerpe wat op die algemene jaarvergadering van die Internasionale Lugvervoervereniging (IATA) bespreek is.

Mnr. Glyn Hughes, IATA se globale vraghoof, het op 'n nuuskonferensie daarop gewys dat goedere ter waarde van US$5,9 triljoen jaarliks met lugvrag vervoer word.

Dit verteenwoordig 35% van globale handel. Afgesien hiervan word 62 500 ton humanitêre bystand jaarliks per lug afgelewer.

Vir lugrederye beteken die ­inkomste uit vrag jaarliks 'n opbrengs van US$50 miljard. Tog wys Hughes daarop dat lugvrag sukkel in vergelyking met die vervoer van passasiers, en dat dié bedryf sedert 2011 min groei getoon het.

Swak groei op die gebiede van bruto binnelandse produk en oorskotkapasiteit het verdienstes belemmer.

Dié sektor is ook stadig om te ­moderniseer in vergelyking met die passasiersektor.

Maar daar is positiewe vooruitsigte wat groei sal bevorder.

Hierdie vooruitsigte sluit in: e-handel wat met dubbelsyfers toeneem; die groei in die farmaseutiese mark, waar afleweringstyd doeltreffend moet wees en wat na verwagting teen 2022 tot US$1,12 triljoen sal groei; uitvoerbestellings wat sterk is; globale handel wat aan die verbeter is en moderne breërompvliegtuie wat uiters geskik vir die vervoer van vrag is.

Tydens die algemene jaarvergadering van IATA in Cancun, Mexiko, is 'n resolusie aanvaar waarvolgens lugrederye hulle tot die modernisering van lugvrag verbind.

In dié resolusie word gevra vir die volle digitalisering van die voorsieningsketting, wat onder meer sal behels dat papierwerk uitgeskakel word en dat 'n globale e-omsendbrief aanvaar word.

Moderne standaarde wat veilige en doeltreffende funksionering verseker, veral wat die vervoer van gevaarlike goedere betref, moet aanvaar word.

Daar moet vinniger van verbeterde tegnologie gebruik gemaak word. Dit sluit onder meer die naspeuring van goedere, digitale vrag en slimgeriewe in.

Volgens Hughes sluit die bedryf se transformasieprogram die volgende in: die modernisering van vragverspreiding, die kapitalisering van e-handel, die optimale benutting van opeenvolgende reise, die vervoer van vrag op aanvraag, die ontwikkeling van regstreekse interaksie en om gehalte relevant te maak.

Hy het benadruk dít sal vereis dat regerings aan boord moet wees.

Die Montreal-konvensie van 1999 maak voorsiening vir die implementering van e-vrag.

Hughes sê die fasiliteringsooreenkoms van die Wêreldhandelorganisasie (WTO) moet vinnig geïmplementeer word om handel goedkoper, vinniger en makliker te maak.

Wysigings aan die WTO se Kyoto-konvensie is ook noodsaaklik om slimmer oplossings vir die oorsteek van grense te vind om die kompleksiteit daaraan verbonde te verminder, asook die koste.

Die verwydering van ­beperkende grenstariewe sal oorgrenshandel verder vergemaklik.

Hughes sê vragvervoer in Afrika sukkel veral weens die beperkinge van infrastruktuur.

Dit is byvoorbeeld goedkoper om vrag via die Midde-Ooste te stuur van een Afrika-land na 'n ander, as regstreeks.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer