• Tuisblad
  • Sport
  • Uitgestelde Spele vir ‘oues’ dalk jaar te ver

Uitgestelde Spele vir ‘oues’ dalk jaar te ver

Olimpiese Spele
Marnus Kok - Sou die Olimpiese Spele in Japan weens die wêreldwye Covid-19-pandemie uitgestel word, kan dit ook gevolge inhou vir verskeie sportmanne en -vroue wat die einde van hul loopbane nader.

Een van hulle is die fietsryer Ashleigh Moolman-Pasio (34), ’n beroepsryer wat in Spanje gesetel is. Sy is die huidige Suid-Afrikaanse padresies- en tydtoetskampioen.

Nadat Kanada en Australië Maandag reeds aangedui het dat hulle nie spanne na die Spele gaan stuur nie, word verwag dat die skouspel tot 2021 of selfs 2022 uitgestel kan word.

“Daar hang ’n groot vraagteken oor die Olimpiese Spele. Daar gebeur egter tans groter dinge in die wêreld as dit.

“Hoewel die Spele die afgelope vier jaar my mikpunt was en ek in ’n sekere mate steeds hoopvol bly, het ek ook vrede gemaak: as dit nie kan plaasvind nie, dan kan dit nie. Dit is net hoe die lewe is,” sê Moolman-Pasio, wat as een van die wêreld se voorste vrouepadfietsryers tel.

“Hopelik word dit uitgestel. Maar ook dit laat vir my op onbekende terrein. Ek word nie jonger nie.

“As dit volgende jaar herskeduleer word, is dit waarskynlik nog binne my bereik. Maar as dit geskeduleer word vir oor twee jaar, is ek nie 100% seker nie, omdat ek nie weet vir hoe lank ek nog op ’n mededingende vlak gaan meeding nie,” sê sy.

Ook Daryl Impey (35), wat in 2019 ’n skofsege in die prestigeryke Tour de France behaal het, is waarskynlik naby aan die einde van sy loopbaan. Hy sou ook in alle waarskynlikheid vanjaar vir sy derde Spele aangetree het.

Die dilemma van ouderdom is moontlik vir ’n paar Blitsbokke ook ’n kopseer. Vanjaar kan spelers soos Cecil Afrika (32), Chris Dry (32) en Branco du Preez (29) se laaste seisoen wees.

Indien die Spele uitgestel word, kan dit veral vir Dry en Du Preez ’n bitter pil wees om te sluk. Dié twee is oor die hoof gesien vir die Suid-Afrikaanse sewesspan wat in 2016 die bronsmedalje by die Spele in Rio de Janeiro verower het.

’n Verdere probleem uit ’n sewesoogpunt is dat die Wêreldbeker-toernooi in die korter weergawe van die spel, asook die Statebondspele in 2022, plaasvind.

Dit, saam met sewes se Wêreldreeks, beteken nie net ’n oorvol kalender nie, maar kan ook meebring dat sogenaamde tweedekeuse-spelers aan van die toernooie deelneem. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!