Uitsaaibedryf bekommerd
Reguleerder besig met gedragskode vir bedryf
Augetto Graig - Die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie van Namibië (Cran) het Maandag die wind van voor gekry op sy openbare vergadering om ’n gedragskode vir die uitsaaibedryf te bespreek.
Mnr. Clement Daniels, die media-ombudsman; mnr. Joseph Tuhafeni Ailonga, die voorsitter van die redakteursforum; me. Gwen Lister namens die Namibië Mediatrust; en me. Natasha Tibinyane van Misa Namibië, was almal teen die staatsreguleringsvoorstel gekant.
Me. Wendy Rosenberg, namens MultiChoice Namibia, het die voorgestelde gedragskode vir uitsaaiers se doelwitte as “onekonomies,” “onprakties,” en “onwerkbaar,” beskryf.
Cran se hoof uitvoerende beampte, mnr. Festus Mbandeka, het gesê die huidige selfregulering wat die bedryf toepas, is kragtens die Wet op Kommunikasie, Wet 8 van 2009, nie voldoende nie.
Hy het verwys na dié deel van die wet wat bepaal ’n gedragskode vir uitsaaiwese in Namibië kan toegepas word indien nodig. Volgens Mbandeka sal die kode uitsaaidienste, toegang tot uitsaaidienste, en uitsendingsinhoud in belang van die publiek reguleer. In die tweede plek sal dit deursigtigheid, aanspreeklikheid en openbare debat bevorder en plaaslike inhoud vermeerder.
Cran se hoofregsverteenwoordiger, me. Emilia Nghikembua, het oor die inhoud van die voorgestelde gedragskode uitgebrei en verskeie hoogtepunte uitgewys. Die kode bepaal onder meer dat advertensietye beperk word, sekere tipe programme met voorgeskrewe waarskuwings vooraf net op sekere tye uitgesaai word asook dat kwotas vir plaaslike inhoud bepaal word.
Verder moet alle gemeenskapsradiostasies en televisie-uitsendings in Namibië binne drie jaar 30% plaaslike inhoud bevat, handelsuitsendings moet 30% bevat, en subskripsie-uitsendings moet 45% plaaslike inhoud bevat. Die NBC moet 40% plaaslike inhoud binne drie jaar bereik.
Volgens Rosenberg kan die kwotas nie met MultiChoice se sakemodel vir die verskaffing van verskeie kanale werk nie. Eerstens weier kanale om hul inhoud vir spesifieke lande enigsins te verander, en tweedens sal dit beteken MultiChoice moet tot 17 kanale sluit. In effek sal die uitsaaikode ’n “ontmoediging vir die uitsending van plaaslike kanale” vir Multichoice wees, sê sy.
Ailonga het gewaarsku dat die uitsaaikode Namibië in wêreld se oë sal laat sleg lyk ná die land so ’n goeie naam vir mediavryheid opgebou het. “Die kwessie is een van staatsregulering teenoor selfregulering. Staatsregulering neem vryheid van uitdrukking weg,” het hy gesê.
Lister het dit as ’n misbruik van mag beskryf en gesê al is mediavryheid soms “'n doring in die vlees van die politieke elite, benadeel die media glad nie die arm man op straat nie”. Volgens haar beteken die uitsaaikode dat “Namibië se status van mediavryheid in Afrika in gedrang is”.
Media-ombudsman Daniels het gesê hy praat as ’n Namibiër wat vir onafhanklikheid en die Namibiese grondwet geveg het wanneer hy sê: “Ná verlede jaar se konsultasies het ons die pad vorentoe uitgewys; dat Cran en die redakteursforum moet praat en selfregulering versterk. Ek weet nie waarom sit ons nou na ’n jaar weer hier nie. Al die kwessies in die uitsaaikode, soos kinderpornografie byvoorbeeld, is reeds in die etiese gedragskode vir die media ingesluit,” het hy gesê.
Wilfried Hähner van Hitradio het gesê dié onderneming voer ’n bestaan uit advertensies in ’n vryemarkstelsel en as advertensies beperk word, kan die radiostasie nou reeds sy deure sluit. Margaret Laubscher van Radio Wave wou weet hoe hulle 35% plaaslike musiek sal kan implementeer.
Mbandeka het gesê Cran soek steeds terugvoering oor die uitsaaikode voor ’n finale besluit geneem word en het belanghebbendes aangemoedig om oor die inhoud van die kode vóór die 20 September-sperdatum bydraes te lewer.
Die finale besluit sal volgens hom van hierdie bydraes afhang, maar Nghikembua het vroeër laat deurskemer: “Ons het opdrag van die ministerie ontvang dat ons die kode moet finaliseer.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie