Uitsaailegende, sportleier groet
Gerhard Roux het ’n groot nalatenskap in Namibië en word as geduldige mentor onthou wat jong omroepers opgelei het.
Elvira Hattingh
Die uitsaailegende mnr. Gerhard Roux, wat Afrikaanse, Engelse en Duitse radiodienste in Namibië van stapel gestuur het en ook diep spore in die land se sportbedryf getrap het, is Vrydagnag in die Silwerkruin aftree-oord op Wellington in die Wes-Kaap oorlede.
Hy was 95 jaar oud.
Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) het Roux, hoof van die destydse Suidwes-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SWAUK), opdrag gegee om Afrikaanse, Duitse en Engelse radiodienste plaaslik te begin.
Hy was Die Matie se eerste redakteur en het op 21-jarige ouderdom by die SAUK begin werk.
In 1951 het hy sy eerste krieketwedstryd in Port Elizabeth uitgesaai. Hy was 'n skakelbeampte by die Rembrandt-groep in 1959.
Die afgetrede omroeper André Henning vertel vanuit Swakopmund Roux het hom en Rhona Gouws, met wie Henning later getroud is, as die eerste vaste omroepers by die SWAUK aangestel.
“Hy was ons mentor en ons het baie by hom geleer.
“Aanvanklik was dit moeilik, want ons het regtig niks van uitsaai geweet nie. Hy het baie druk van sy seniors gekry om jongmense goed oor die radio te laat klink. Hy was baie geduldig met ons en het ons mooi geleer, ten spyte van al die druk op hom,” sê Henning.
Hy sê Roux moes ook pa staan vir die Duitse én Engelse radiodienste se omroepers.
“Later het ons met Kanaal 7 begin, dit was die eerste private radiostasie. Hy was die eerste stem op Kanaal 7 toe dit op Maandag 6 Desember 1993 om 07:10 vir die eerste keer begin uitsaai het,” sê Henning.
“Later het Roux by Ohlthaver & List begin werk, maar was steeds as vryskut omroeper beskikbaar. Toe is ek nou amper sy senior, terwyl ek eintlik by hom geleer het. Oor die jare het ons kontak behou en mense het vertel hy het steeds radio geluister – veral na Kanaal 7.”
Henning sê hy het intussen self ook talle omroepers opgelei.
“Wat ek en Rhona by Gerhard en sy seniors geleer het, kon ons weer aan nuwe omroepers oordra wat onder ons gewerk het.
“Wat ons baie van Roux waardeer het, is dat hy altyd 'n mooi voorbeeld gestel het en baie taktvol was as hy ons reggehelp en geleer het. Ons het dit baie waardeer,” sê Henning.
Nog 'n oud-omroeper, Paul Brits, sê hy het aanvanklik in 'n ander afdeling as Roux gewerk.
“Wanneer ek wel met hom te doen gekry het, was hy 'n eersteklas mens – by die werk, met uitsaai, maar ook in sy privaat lewe.
“'n Mens kon in alle opsigte na hom opkyk,” sê Brits.
“Hy was altyd bereid om raad te gee en te help waar hy kan.”
Brits sê Roux het ook Afrikaanse kommentaar tydens rugbywedstryde vir SAUK-TV gelewer.
Mnr. Frikkie Wallis sê Roux was nie net sy baas nie, “maar ook 'n groot vriend van my en van die ganse Namibië”.
Wallis vertel Roux was die laaste administrateur-generaal, Louis Pienaar, se amptelike woordvoerder.
Hy was sekretaris-generaal van die Namibiese Olimpiese Komitee en in 1966 oudpresident van die Rugby-unie.
“Hy het in die aftreeoord krieketverslae vanuit sy kamer vir Radio Pretoria gedoen. Hy word deur twee dogters oorleef,” sê Wallis.
Roux is al in die media as 'n “sportkommentator van formaat met 'n jong, ondeunde siel soos dié van 'n student, die geheue van 'n olifant en 'n onblusbare humorsin” beskryf.
Hy was volgens Maroela Media boonop baie sjarmant “met 'n stem wat enige nooi (van kleuter tot bejaarde) se voete onder haar sou uitslaan”.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie