Uitspraak oor tu00e9 lang vonnisse verwelkom
Uitspraak oor tu00e9 lang vonnisse verwelkom

Uitspraak oor té lang vonnisse verwelkom

'n Menseregtekenner meen nie eens gevangenes wat lang vonnisse uitdien, behoort die reg ontneem te word om te kan verander nie.
Denver Kisting
Denver Kisting



'n Hooggeregshofuitspraak Dinsdag waarin vonnisse wat gevangenes se verwagte lewensduur oorskry, ­ongrondwetlik verklaar is, is uit menseregte- en ander geledere verwelkom.

Die Regshulpsentrum (LAC), het by monde van sy direkteur, me. Toni Hancox, gesê niemand het die reg om te beweer 'n veroordeelde kan nie sy weë verander nie. “Daar moet 'n balans vir alles wees. Mense kan verander. Dit is ook onder meer hoekom ons van die doodstraf ontslae geraak het.”

Sy sê daar moet egter onthou word die uitspraak sal nie noodwendig die vreugdesvure in korrektiewe instellings hoog laat brand nie.

Dit is omdat die uiteindelike besluit steeds by die paroolraad berus om te besluit of iemand wat 'n lewenslange vonnis uitdien, na verwagting nie weer 'n oortreding sal begaan nie en 'n opbouende bydrae tot die same­lewing gaan maak.

Voorts het adv. Werner Boesak, wat namens die appellante­ opgetree het, gistermiddag by navraag gesê: “Dis 'n baie welkome uitspraak. Misdadigers is aan die einde van die dag steeds mense, al het hulle baie groot foute begaan.”

Hoewel die naasbestaandes van mense wat slagoffers van die oortreders se misdade was, moontlik nie die howe gelyk sal gee nie, moet die lewe aangaan, sê Boesak.



Inbreuk

Die hooggeregshof in Namibië het Dinsdag bevind vonnisse wat só lank is dat die veroordeelde nie 'n realistiese hoop het om in sy of haar leeftyd vrygelaat te word nie, is ongrondwetlik.

Appèlregter Dave Smuts, ­bygestaan deur vier ander regters, onder wie hoofregter Peter Shivute, het bevind sulke lang vonnisse kom neer op wrede, afbrekende en onmenslike strawwe, en maak inbreuk op die gevangenes se grond­wetlike reg op menswaardigheid.

Die uitspraak is gelewer in die appèlverhoor van vier veroordeelde oortreders wat in Februarie­ 2002 lang ­gevangenisstrawwe opgelê is. Zedekias Gaingob, Erenstein Haufiku, Salmon Kheibeb en Nicodemus­ Uri-khob is destyds elk tot langer as 60 jaar tronkstraf ­vir onder meer twee klagte van moord gevonnis.

Dié vonnisse is Dinsdag ter syde gestel en met twee lewens­lange vonnisse vir elkeen van die mans vervang wat gelyktydig en terugwerkend van Februarie 2002 uitgedien sal word.

Die appellante in dié saak dien benewens vir moord ook vonnisse­ uit weens een klag van huisbraak met die doel om te roof en roof met verswarende­ omstandighede, asook twee klagte van huisbraak met die doel om te steel en diefstal.

Die uitspraak word allerweë as 'n waterskeidinguitspraak beskou.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer