Uitspraak voorbehou in parlementêre stryd
Mnr. Sisa Namandje sê die parlement kan self 'n besluit neem, maar die LPM se regsverteenwoordiger, adv. Gerson Narib, sê die Speaker se bevel is onwettig.
Augetto Graig
Regter Kobus Miller moet die belange van verdeling van magte binne die regering teenoor burgers se regte tot verteenwoordiging en insette tot Namibië se wetskeppende proses versigtig oorweeg wanneer hy op 6 Mei uitspraak lewer.
Die Landless People's Movement (LPM) se leiers en parlementslede, mnre. Bernadus Swartbooi en Henny Seibeb, het 'n dringende aansoek voor hom ingedien teen die Speaker, prof. Peter Katjavivi, se bevel om hulle uit die Nasionale Vergadering (NV) te skop.
Miller het gedurende voorleggings deur albei partye se regsverteenwoordigers gevra of die parlement nie eerder die kwessie moet hanteer nie, aangesien dit ontstaan het uit beweerder wangedrag van parlementslede gedurende 'n sitting.
Katjavivi se bevel is op 19 April toegepas nadat hy op 15 April die sitting moes opskort weens ontwrigting gedurende die vraag-en-antwoord-sessie ná president Hage Geingob se staatsrede.
“Die reëlskomitee kan die besluit van die Speaker ter syde stel,” noem Miller en, “behoort ek dit ter syde te stel, of moet dit eers deur die betrokke staande komitee oorweeg word?”
INTERNE SAKE
Katjavivi se regsverteenwoordiger, mnr. Sisa Namandje, het daarmee saamgestem en aangedring die parlement is in staat om sy eie interne sake af te handel.
Hy het daarop aangedring dat die aansoek van die hand gewys word.
Advokaat Gerson Narib wat namens die LPM-leierskap optree, het gesê die hof moet tussenbeide tree as Katjavivi se bevel onwettig bewys word. Dit is omdat die onreg teenoor stemgeregtigdes deur die uitsluiting van hul verteenwoordigers uit die parlement elke dag vererger.
Hy sê Katjavivi se besluit was onwettig, omdat dit nie deur die reëls van die parlement ondersteun word nie.
“Die Speaker het buite die omvang van sy magte opgetree. Sy optrede is onwettig en U Edelagbare moet dit ter syde stel,” het hy gesê.
Narib dring aan op 'n tussentydse hofbevel om sy kliënte onmiddellik toegang tot die parlementsgebou te gee, 'n finale bevel om Katjavivi se opdrag ter syde te stel, en dat die respondente die regskoste moet dek.
Die parlementêre komitee oor reëls en bevele het Katjavivi se bevel gehandhaaf en die kwessie na die komitee oor voorregte verwys.
Volgens mnr. David Nahogandja, die NV se woordvoerder, het die komitee oor voorregte gister 'n sitting gehad. Hy sê hulle het in ooreenstemming met die Wet op Magte, Voorregte en Immuniteit van die parlement, nommer 17 van 1996, besluit om hul eie ondersoek oor die kwessie van stapel te stuur.
Die komitee sit weer môre om die tydsberaming en modaliteite vas te stel, sê hy.- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie