Uitstalling oor 'meesterras' op Lüderitz

'n Uitstalling geskep deur 'n Amerikaanse museum het ten doel om anti-rassistiese onderrig te ondersteun.
Die uitstalling Deadly medicine: Creating the Master Race is tans by die nuwe maritieme museum op Lüderitz te sien.

Dit kan tot 30 Augustus besoek word en lewer 'n belangrike bydrae tot anti-­rassistiese onderrig in Namibië.

In sy toespraak tydens die opening van die uitstalling het mnr. Jan Scholtz, die voorsitter van die ||Kharas- streeksraad, gesê dit is uitlokkend en ontstellend, maar baie belangrik en relevant vir Namibië.

Die opvoedkundige uitstalling verduidelik die manier waarop idees van wat 'n 'ras' is, opgestel is.

Scholtz het uitgewys die gediskrediteerde 'wetenskap' van eugenetika is in 1883 deur mnr. Francis Galton ontwikkel. Eugenetika het die basis gevorm vir rassistiese oortuigings dat sommige rasse beter as ander is. Galton was in die 1800's een van die eerste Britse besoekers aan Namibië.

Die uitstalling verwys ook na die Duitse wetenskaplike dr. Eugene Fischer wat oor die Rehoboth Basters geskryf het en met sy terugkeer na Duitsland die direkteur van die Kaiser Wilhelm-instituut vir antropologie, menslike oorerwing en eugenetika geword het.



Eugenetika

Die uitstalling is deur Amerika se US Holocaust Memorial Museum ontwikkel en fokus hoofsaaklik op die manier hoe eugenetika die Joodse volksmoord beïnvloed het.

Die Nazi-bewind in Duitsland was gegrond op die oortuiging dat minder­waardige rasse, insluitende die Jode, en individue uit die Duitse same­lewing verwyder moes word sodat die fiksste 'Ariërs' kon floreer. Die Nazi-staat het hom ten volle verbind tot die implementering van 'n unieke rassis­tiese en anti-Semitiese variasie van eugenetika sodat hulle 'n 'voortreflike ras wetenskaplik' kon bou.

Teen die einde van die tweede Wêreldoorlog is ses miljoen Jode vermoor. Miljoene mense het slag­offers van vervolging en moord deur die Nazi se 'rassehigiëne'-programme geword. Die programme was ontwerp om Duitsland van 'biologiese dreigemente' te reinig wat 'n gevaar vir die nasie se 'gesondheid' was.

Dit het ingesluit 'buitelandse bloed' van die Roma en Sinti (sigeuners), mense wat met 'oorerflike siektes' gediagnoseer is en homoseksuele, wat almal vervolg is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!