Uitstalruimte vir Namibiese musiekerfenis
Uitstalruimte vir Namibiese musiekerfenis

Uitstalruimte vir Namibiese musiekerfenis

’n Musiekmuseum is verlede week amptelik ingewy en is nou oop vir die publiek.
Yandi Du Plessis
Die Museumvereniging van Namibië (MAN), die afvaardiging van die Europese Unie (EU) in Namibië en die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het verlede Donderdag die Museum van Namibiese Musiek (MUNAMU) virtueel geopen.

Die bekendstelling van dié museum is een van die vier komponente van 'n projek getiteld “Museumontwikkeling as instrument vir die versterking van kulturele regte in Namibië” en word deur die Europese Unie (EU) gefinansier en deur MAN geïmplementeer. Die projek is op 27 November 2018 in die hoofstad van stapel gestuur.

Die museum is amptelik deur me. Faustina Caley, die adjunkminister van onderwys, kuns en kultuur, geopen. Me. Sinikka Antila, die ambassadeur van die afvaardiging van die EU in Namibië en verskillende belanghebbendes van die projek het ook toesprake gelewer.

Die groep wat die ontwikkeling van die museum moontlik gemaak het, bestaan uit belanghebbendes in die vorm van musikante uit alle kulture, genres en demografieë, argivarisse, kultuurbeamptes van die direktoraat van nasionale erfenis- en kultuurprogramme, musiekdosente aan die College of the Arts (Cota), die Universiteit van Namibië (Unam) en APC, toerisme- en intellektuele eiendomskenners van die ministerie van die omgewing en toerisme en die Namibiese Vereniging vir Komponiste en Outeurs van musiek (Nascam), museumkenners, komponiste en musikoloë.

Me. Ndapewoshali Ndahafa Ashipala, die bedryfsbestuurder van MAN, sê: “Die Museum van Namibiese Musiek beoog om 'n ruimte te bied waar ons ons musikale erfenis kan dokumenteer en vier. Ons wil graag die museum as 'n 'organiese' ruimte beskou, wat beteken dat dit mettertyd moet groei en verander.

“Ons het begin met die vraag: ‘Wat is Namibiese musiek?’ Ons definisie was: 'Namibiese musiek is musiek wat vervaardig is deur, of met die insette van Namibiërs, of in Namibië, wat ’n uitdrukking is van die Namibiese geskiedenis, kultuur of leefstyl'.”

Die groei en sukses van die museum is afhanklik van individue of groepe wat na vore kom om herinneringe, foto's en artefakte te deel wat kan help om die diverse verhale te vertel wat Namibië se musikale erfenis sal weerspieël en nuwe uitstallings kan inspireer. Die MUNAMU het 'n beroep op die publiek gedoen om betrokke te raak.

Die museum is langs die streekbiblioteek in die hartjie van Omuthiya in die Oshikotostreek geleë en sal weeksdae van 10:00 tot 18:00 vir die publiek oop wees.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer