Uitstel kan o.20-span grootliks bevoordeel
Die Afrika-toernooi se nuwe begindatum is 24 Junie.
Andrew Poolman – Afrigter Jood Opperman en sy spelersgroep het meer tyd om hul beste voet voor te sit, ná die aankondiging dat Rugby Afrika se onder 20 Barthés-toernooi met drie maande uitgestel is.
Terwyl sy nasionale groep wat ná laas naweek se proewe gekies is, skaars vier weke sou hê voordat die toernooi in Nairobi, Kenia, sou afskop, het die Afrika-beheerliggaam vandeesweek in 'n twiet van 'n enkele sin bloot aangekondig dat die toernooi se nuwe datums nou van 24 Junie tot 4 Julie is.
Hoewel geen rede hiervoor verstrek is nie, kan aangeneem word dat die komplikasies van 'n oorgrens spansportbyeenkoms gedurende die Covid-19-pandemie die reis- en ander reëlings moeilik sou maak.
“Ek voel nogal verligting, want ons sou ons prosesse baie moes versnel om alles gedoen te kry vir die toernooi (se aanvanklike begindatum van 25 Maart),” het Opperman dié week op ons oggendprogram Kletskompas gesê.
“Die ander spanne is in dieselfde bootjie en Covid is maar oral en kan enige tyd sake omver gooi. Ek glo die uitstel is 'n bedekte seën, want ek weet pap sou op die grond geval het met die haastigheid om alles in 'n kort tyd in te prop.
“Ons spelers by universiteite het nou kans om te gaan registreer.
“Ons sal hul fiksheid gereeld monitor om seker te maak hulle voldoen en ons werk ook om twee oefenkampe gereël te kry sodat ons die span in geheel kan organiseer.”
SIEN UIT NA UITDAGING
Opperman sê hoewel Kenia as die laaste titelhouer van 2019 (geen toernooi is in 2020 gespeel nie) na die sterkste kompetisie lyk en ook die voordeel van sy tuisskare sal hê, moet Madagaskar en Senegal as die ander twee spanne ook nie misgekyk word nie.
“Madagaskar het vir Zimbabwe uitgeskakel om tot hier te vorder en sal graag hul beste wil lewer.
“Ek glo as ons op Afrika-vlak konstruktiewe rugby speel en die bal vir 'n klompie fases behou, en voortdurend goed verdedig, veral ná die derde en later fases, dan behoort ons die pyp te rook.
“Kenia is 'n harde neut om te kraak en sal hul toeskouers agter hulle hê en dit sal harde werk kos om hulle onder te kry, maar ek sien baie uit na wat voorlê.”
Uit die bykans 90 spelers wat vir die proewe geregistreer en aangemeld het, is die groep van 35 saamgestel waaruit Namibië se toerspan gekeur sal word.
Vanweë Covid-19-regulasies is die oggend se drie proefwedstryde voor leë pawiljoene gespeel.
Nie eens ouers óf spelers betrokke in die ander wedstryde, was in die stadion te sien nie.
Spelers wat op die plaaslike toneel grootliks onbekend was, het egter gedurende die proewe van hulle laat kennis neem. Om enkeles uit te sonder, was daar die stewige binnesenter Kian Fransman, wat by Grey Kollege in Bloemfontein op skool was.
Oela Blaauw, die skrumskakel, is ook terug op sy tuiswerf Keetmanshoop nadat hy tot in sy matriekjaar sy rugby by Paarl Gimnasium gespeel het.
Brian Bayer het ook op nommer 9 die afsnypunt oorleef en het met flinke diens aan sy agterlyn gewys hoekom hy toelating tot die Vrystaat se rugby-akademie gekry het, hoewel hy na verneem word om akademiese redes besluit het om nie vanjaar na Bloemfontein te reis nie.
• Vir die gasheerland Kenia sal die uitstel eweneens waardevolle tyd koop.
Kenia het skaars elf dae gelede 'n nuwe afrigter vir sy o.20-span aangestel. Curtis Olago het tevore vir die nasionale span op senter uitgedraf en het vandat hy begin afrig het, vier nasionale klubtitels in vyf jaar met KCB-rugbyklub gewen.
Net die wenspan van die Afrika Barthés-toernooi dring jaarliks deur na die Wêreldrugby O.20 Trofee-toernooi.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie