Uitverkoping raak rof
Bestuur beplan strenger toegangsbeheer.
Augetto Graig
'n Uitverkoping laas Dinsdag en Woensdag by Foschini-winkels in die Sanlam Sentrum en die Wernhil Park-winkelsentrum in die hoofstad, het in 'n stormloop ontaard toe honderde winskopiejagters die persele oorval het.
Chaotiese tonele is afgeneem en video's van kopers wat stoei oor klere op uitverkoping, is op sosiale media versprei.
Volgens 'n ooggetuie het die skare by die Sanlam Sentrum in Onafhanklikheidslaan ingestorm toe die deure Woensdag ná 07:00 oopgemaak is. Sy sê sekuriteitswagte het vir haar gesê van die mense het vanaf 04:00 gewag nadat nuus oor die uitverkoping van items teen minder as N$60 die vorige aand versprei is. “Dit was chaos ná die stormloop en 'n ambulans moes later ontbied word om 'n vrou weg te neem. Die polisie moes kom om die mense te verwyder nadat die bestuur die uitverkoping vir eers gestop het. Daarna het hulle die deure toegemaak en mense net in klein groepe laat ingaan,” vertel sy.
By die ander winkel, in Wernhil, was dit Woensdag redelik kalm in vergelyking met die opening Dinsdag.
“Ek het mense hoor skree nadat hulle oopgemaak het. Gister (Dinsdag) was dit baie vol daar, en wild. Hulle het die alarmstelselpilare ook afgebreek. Vandag was dit sonder drama aangesien die meeste van die voorraad al verkoop is,” het 'n werker van 'n nabygeleë klerewinkel vertel.
Teen Woensdagnamiddag was die deure van Foschini in Wernhil toe, met 'n kennisgewing wat lees: “Ons is toe!”
Die hoof van Foschini Namibië, mnr. Gustav Jansen, sê in sy verklaring oor die voorval: “Wat 'n dolle uitverkoping! Die ongekende opkoms het ons verwagtinge oorskry en ons is tevrede met die getal getroue en entoesiastiese Foschini-kliënte wat ons tweedaagse spesiale veiling op bestaande produkte tussen 2 en 3 Mei 2017 by ons twee Windhoek-winkels bygewoon het. Ons glo dat ons groot waarde aan ons Namibiese kliënte gebied het en sal graag in die toekoms soortgelyke geleenthede en verkope wil hê.”
Volgens hom is bykomende personeel en sekuriteit beplan “in ooreenstemming met die verwagte klanteopkoms en die eerste dag van die verkope het baie goed gevaar. Foschini wil egter sy opregte spyt uitspreek teenoor enige kliënte wat nie op 3 Mei 'n goeie ervaring gehad het nie weens die groot aantal kopers en verwante wanorde by ons Windhoek-winkel.
“Foschini streef daarna om sy kliënte eerste te stel, en om hul veiligheid te verseker, sal ons tydens die toekomstige verkope strenger toegangsbeheer instel. Ons sal ons bes doen om te verseker dat die inkopie-ervaring in ons winkels altyd veilig, aangenaam en onvergeetlik is,” sê Jansen.
Foschini Namibië behoort aan die Foschini-groep, met meer as 1 700 winkels in Suider-Afrika.
Die groep is in 1924 deur George Rosenthal gestig en die hoofkantoor is in Kaapstad, Suid-Afrika. Die maatskappy is sedert 8 Julie 1941 op die JSE-aandelebeurs genoteer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie