Uitvoere moet landbou se herstel lei
Uitvoere moet landbou se herstel lei

Uitvoere moet landbou se herstel lei

Sektor moet homself herskik
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher - Die onlangse verlaging van uitleenkoerse deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank dui op ’n hele klomp verwagtinge.

Eerstens verreken dit die ervaarde verlangsaming van inflasie, terwyl dit ook verligting kan bring in terme van verminderde druk op besteebare inkomste. Die vermindering is klein vergeleke met wat die ekonomie nodig het om te groei, maar belangrik is dat dit ‘n demper plaas op sienings van kroniese prysstygings.

Die man op straat bly uitgelewer aan ander en meer negatiewe prysneigings wat op hulle beurt weer vooruitsigte van ‘n beter lewe inperk. Tragies dat baie verbruikers ‘n beter lewe tans net sien as minder skuld en bietjie meer geld wat op iets ander bestee kan word.

Daar is welkome tekens van sagter kosinflasie soos gemeet aan die Mei 2019-bewegings van die verbruikerspryse. Kosinflasie het in geheel gedaal, maar komponente van dié mandjie het tog nog gestyg. Gegewe die tyd van die jaar voorspel dit nie goeie nuus nie, want veral administratiewe inflasie vind nou neerslag.

Hieronder tel verhoogde energiekoste en die impak van wisselkoerse op die internasionale oliepryse. Laasgenoemde is weer afhanklik van die grille van internasionale politici en enige styging in die brandstofprys word eenvoudig herlei na die sak van die verbruiker.

Gelukkig is daar darem ‘n tydspeling voordat sulke verhogings implementeer word, maar dit wek die idee dat pryse net een pad ken en dis opwaarts.

Die nasionale bemarkingsraad het ‘n waghondfunksie ten opsigte van kospryse en publiseer maandeliks prysbewegings vir ‘n mandjie van 28 items. Alhoewel daar van April 2019 tot Mei 2019 ‘n daling was van 0,5% na R874,70, het dié mandjie se koste jaar-op-jaar nogtans met 3% toegeneem. Individuele items in die mandjie soos polonie (13,8%,) bruinbrood (10,9% vir ‘n brood van 700 gram), witbrood (8%) en 5 kg mieliemeel (12,5%) se stygings is egter nie goeie nuus nie.

Dit ‘n groot gros van die bevolkings wat juis gebuk gaan onder ongekende werkloosheid, baie negatief.

Wat die res van die jaar betref, bly dit goeie nuus dat graanproduksie na verwagting voldoende gaan wees in die geval van die somergrane om nie te hoef invoer nie.

Die nasionale oesskattingskomitee gaan later die week die volgende raming van die somer-oes bekend maak. Sover lyk dit of dar in die binnelandse vraag en uitvoerverpligtinge voorsien sal kan word. Gegewe die veranderde produksie-omstandighede van grane met minder aanplantings van somergrane, is die aanduiding van verhoogde toewysing van hektare aan koringproduksie, goeie nuus.

Dit sal invoerafhanklikheid verminder en so kan die wisselvalligheid van eksterne prysfaktore soos die wisselkoers gebuffer word. Die mate waartoe dit broodpryse kan bevoordeel, sal net die tyd leer.

Die herstelpad van landbou in Suid-Afrika sal volgens die Landbousakekamer in uitvoere gesetel moet bly. Net minder as 50% van die waarde van landbouproduksie word tans uitgevoer en dié posisie kan nie versmaai word nie.

Binnelandse vraag is tans gestrem as gevolg van ontoereikende inkomste wat weer die gevolg is van die uiters negatiewe stand van die ekonomie. Die landbou het ‘n rol te speel in die skep van ekonomiese groei en die handhawing daarvan, maar benodig die regte aanstekers. Die vuur sal brand, maar dan moet daar gunstiger omstandighede kom.

Dit bly insiggewend tot watter mate die bedrywe reg is om te reageer, sou die beleidsklimaat enigsins toon dat regerings ernstig hieroor is. Wat egter nodig is, is om beter struktuur te gee aan wat verwag word.

Dit is so dat strategie visies praktyk kan maak en dat struktuur strategie volg, maar om landbou sy rol te laat speel sal strategiese belyning anders aangepak moet word.

Tensy korttermyn-strategieë aanvar word vir die regtrek van ooglopende strukturele gebreke, sal die deelgenote van die visie telkens aan die korste ent trek.

Die regtrek van die sektor is nodig voordat uitvoering gegee sal kan word aan versnelde groeistrategieë.

Noodsaaklike herstrukturering sal omvattend moet wees en hieronder tel herskikking van regeringsinstansies en die privaat sektor vir beter intra-sektorale belyning.

Besigheid-soos-altyd sal ons deur dieselfde slaggate laat ry. Soos wat die ekonomie moet groei vir die landbou om te gedy, rus daar ook ‘n verpligting op die sektor om anders te werk te gaan in die lei van dié herskikking.

Daar gaan te min wees om te eet as die ekonomie sy akkers in ‘n ry kry.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!