UK-biblioteek: Belangrike versamelings bly behoue
Die moeisame proses om kosbare versamelings dokumente uit die puin van die Jagger-leeskamer van die Universiteit van Kaapstad (UK) te red, het Woensdag begin.
Die oorgrote meerderheid van die UK se Afrikastudies-versameling van ongeveer 70 000 items is in die brand Sondag vernietig, asook 3 500 DVD’s van die Afrikastudies-filmversameling, maar ander belangrike versamelings het behoue gebly.
Dit sluit in die seldsame Bleek-en-Lloyd-versameling, wat die taal, volksoorlewering, gewoontes en gebruike van die Boesman-bevolking opgeteken het van 1848 tot 1956.
Ook die Bolus Herbarium, wat in 1865 gestig is en die oudste funksionerende herbarium in Suid-Afrika is, het behoue gebly. Dit is ’n samevatting van die diversiteit van die Suid-Afrikaanse flora, veral dié van die Kaapse Floristiese Streek.
OMVANG VAN DIE SKADE
Die brand het die Jagger-leeskamer vernietig, sy dak het ingeval en die aangrensende galerye en kantore vernietig, het die UK Woensdag in ’n verklaring gesê.
Die argiewe en gedrukte versamelings wat in die leeskamer gehou is, is deur die vlamme verteer. Die Afrikastudies-versameling, wat in 1953 begin is, het omvattende werk in genderstudies, mediastudies, MIV/vigs-kwessies en debatte oor die karakter van Afrika-studies as ’n dissipline bevat.
“Daar was ’n belangrike versameling oor Suider-Afrikaanse tale, wat in die 1950’s aan die universiteit geskenk is. Sommige van die titels in dié versamelings was uiters skaars,” lui die UK se verklaring.
Ook regeringspublikasies van Suid-Afrika en van dwarsoor die vasteland wat gereeld gebruik is, en manuskripte en argiewe wat in die leeskamer bewaar is vir verwerking of digitalisering, is verlore.
“’n Beduidende institusionele verlies is die oorspronklike kaartkatalogusse vir manuskripte en argiewe, die geskiedenis van UK-biblioteke, die kantoor vir spesiale versamelingsargiewe en administratiewe rekords,” lui die verklaring.
Op die kaartkatalogusse, wat gebruik is om ’n boek op te spoor, was daar benewens die boek se besonderhede ook inligting oor wanneer die boek verkry is en wie dit almal al uitgeneem het.
WAT BEHOUE GEBLY HET
Prof. Pippa Skotnes, hoof van die Curating the Archive-sentrum, het Woensdag aan Netwerk24 gesê die oorspronklike Bleek-en-Lloyd-versameling, waaroor akademici plaaslik en internasionaal bekommerd was, het behoue gebly.
Die versameling van derduisende bladsye word erken as ’n nasionale skat en word deur die Verenigde Nasies gereken as ’n “heugenis van die wêreld”.
“Ek het Dinsdag die wonderlike nuus gekry dat hoewel daar baie waterskade in die ondergrondse vertrekke is, is BC 151 (die naam van die afdeling waar dié versameling geberg is) ongeskonde en veilig,” sê Skotnes.
“Ek het die arme siele wat eerste die gebou binnegegaan het, gepes dat hulle moet gaan kyk. Toe hulle my laat weet dit het behoue gebly, was dit soos ’n berg van my skouers af.
“Vir my was dit van slapelose nagte na pure blydskap en verligting. Dit was amper asof ek gehoor het my grootouers is gered. Daardie versameling is absoluut onvervangbaar en enig in sy soort.”
Sy sê die belangrikste deel van hierdie versameling is die notaboeke van dr. Wilhelm Bleek en sy skoonsuster Lucy Lloyd, en later dié van sy dogter Dorothea.
Die |xam en !kun-taal, volksoorleweringe, gewoontes en gebruike van die Boesman-bevolking is daarin opgeteken. Die versameling beslaan ’n tydperk van ongeveer ’n eeu, van omstreeks 1848 tot 1956.
Daar is interessante foto’s van Boesmans, sommige portrette en ander wat hul skuilings, werktuie en lewenswyse toon, hoofsaaklik versamel deur Dorothea Bleek.
Die skrywer Antjie Krog het dit as ’n bronteks gebruik vir haar digbundels Die sterre sê ‘tsau’ en Met woorde soos met kerse.
Skotnes sê boodskappe het ingestroom van geleerdes van dwarsoor die wêreld wat hul kommer en skok uitgespreek het oor die Bleek-en-Lloyd-versameling, asook oor die Afrikastudies-biblioteek in die algemeen.
Nog ’n kosbare versameling wat ongeskonde is, is die Bolus-versameling. Die Pearson-gebou vir biologiese wetenskappe, waar dit gehuisves is, is egter beskadig, sê prof. Sue Harrison, adjunkvisekanselier.
Die Bolus Herbarium, wat in 1865 gestig is, is die oudste funksionerende herbarium in Suid-Afrika. Navorsing wat verband hou met die herbarium fokus hoofsaaklik op taksonomie, sistematiek, biogeografie en inheemsheid.
Met ’n versameling van meer as 350 000 eksemplare is dit die derde grootste herbarium in Suid-Afrika en die derde grootste universiteit-herbarium in die Suidelike Halfrond.
Die versameling word erken vir sy uitstekende voorstelling van die Kaapse flora.
Harrison het in ’n verklaring van die Curating the Archive-sentrum gesê dat die skade aan die gebou en die noodsaaklikheid om hierdie belangrike versameling te bewaar, biologiese wetenskappe en verwante navorsing kan raak.
NOG SKADE VERWAG
As gevolg van die oorstroming van die gebou en moontlike insypeling van water na die onderste verdiepings, verwag die biblioteekspan nog skade.
Die gebiede wat moontlik beskadig is, huisves ’n deel van die Afrikastudies-versameling; die pamfletversamelings; skaars en antieke boeke; primêre bronmateriaal insluitend manuskripte; moderne fotografie-afdrukke; die All Things UCT-versameling wat foto’s, nuusbrokkies, tydskrifte en publikasies bevat wat verband hou met die geskiedenis van die universiteit; en die argitektoniese versamelings wat groot argitektoniese tekeninge bevat.
Een van die skaars en antieke boeke sluit in ’n eksemplaar van ’n Nederlandse Bybel uit 1535, vermoedelik die oudste Bybel in Suid-Afrika. Hierdie spesifieke uitgawe is onderdruk en byna alle ander eksemplare is verbrand.
Die oudste boek in die versameling is Facta et dicta memorabilium deur Valerius Maximus, die Romeinse historikus en moralis van die eerste eeu n.C., wat in 1471 gepubliseer is in Mainz, Duitsland, deur Peter Schöffer.
Die skrywer Olive Schreiner se oorspronklike briewe in koeverte is ook onder dié items wat moontlik skade gely het, asook oorspronklike komposisies van Suid-Afrikaanse komponiste.
“Die biblioteekspan sal vir nog ’n hele ruk lank nie die volle omvang van die skade weet nie,” lui die UK se verklaring.
VERLORE ITEMS SO TERUGGEKRY
Skotnes sê inligting word nou ingesamel oor hoe om dokumente wat in die ondergrondse verdieping gestoor is en moontlik waterskade gely het, te red.
“Ons kry raad van vakkundiges wat dokumente gered het in die vloed in Florence, Italië, in 1966,” sê sy.
Meer as 100 mense is dood en miljoene kunswerke en seldsame boeke is in dié vloed beskadig of vernietig.
Dr. Maha Rafi Atal, postdoktorale navorsingsgenoot aan die Kopenhagen-sakeskool in Denemarke, het vandeesweek die inisiatief geneem om ’n register op te stel van kopieë van moontlik verlore materiaal van die UK wat navorsers oor die wêreld heen tussen hul navorsingsmateriaal het.
Akademici wat afskrifte het van die materiaal, is gevra om hul besonderhede aanlyn te registreer en aan te dui watter soort afskrifte hulle het.
Skotnes sê die digitalisering van die materiaal in biblioteke is belangrik, maar sal nooit die oorspronklikes kan vervang nie.
“Daar is baie wat ’n mens kan leer oor die skrywers van ’n dokument wanneer jy die oorspronklike bekyk. Dit is amper asof jy meer kyk na die inkmerke op die papier, die manier hoe die bladsye gevou is en die handskrif, as wat jy die inhoud lees.”
Sy sê die gedigitaliseerde afskrifte is daar om die inligting beskikbaar te stel. Die oorspronklikes is amper soos ’n museum.
’n Groot gedeelte van spesiale versamelings, soos die Afrikastudies-versameling en die Afrikastudies-filmversameling, is reeds gedigitaliseer en op die internet beskikbaar. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie