Unam beïndruk met vyftigtal

Die kampioene van 2015 tot 2017 het die naweek weer hul stem dik gemaak soos van ouds.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die eerste rugbyspan van FNB Universiteit van Namibië se wegholsege Vrydagaand op hul tuisveld het 'n duidelike boodskap uitgestuur oor wat voorlê vir enige span wat hom vanjaar van die Namibië Rugby-unie (NRU) se premierliga-kroon wil weghou.

Die studentespan het met sy sege van 52-15 teen Trustco United onteenseglik die topposisie op die puntelys by die bloues oorgeneem.

Die oorheersende vertoning is met 'n jeugdige groep behaal – sonder 'n volle twaalf spelers wat in die voorlopige Wêreldbekergroep van vyftig is en dus uit klubrugby onttrek is.

Is afrigter Johan Diergaardt se nuwe geslag weer aan die opbou na 'n oorheersende periode soos die Unam-span wat vanaf 2015 drie opeenvolgende titels gewen het?

Die Filistyne, en veral hul ondersteuners, het waarskynlik gewens vir die eindfluitjie lank voordat skeidsregter Jacky Husselmann se tagtig minute verby was.

United, afgesien van sy stewige agttal, het in die tweede helfte toenemend tandeloos gelyk sonder van sy spelbrekers soos Niël van Vuuren (haker of flank), Thomas Kali (flank) en skrumskakel Herman Stroh.

Van Vuuren is tans die klub se enigste verteenwoordiger in die nasionale oefengroep.

Ironies genoeg was United met 10-0 voor, te danke aan 'n drie deur skrumskakel Pieter van Vuuren, tesame met die doelskop en 'n strafdoel deur Winmar Rust.

Van Vuuren het egter kort daarna 'n geel kaart op die lyf geloop en Unam se reaksie was oortuigend. Eers het die senter Camlo Martin gaan druk, voordat die flank Gilad Plaatjies die volgende twee drieë ná mekaar gaan druk het. Vir sy eerste het hy van agter 'n lynstaandryf weggebars, voor sy volgende vyfpunter waar hy in die middelveld deurgebreek en netjies om die heelagter geswenk het.

Heelagter Lorenzo Louis, wat reeds sy eerste drie skoppe deur die pale gejaag het, het ná opbouwerk deur fases sy span se vierde drie aan die steelkant gaan afrond en met die doelskop die rustydvoorsprong 28-10 gemaak.

Unam se groeiende selfvertroue in hul fiksheid en flair was te sien in hul eerste drie ná rustyd, wat begin het toe senter Camlo Martin van 'n skrum in sy eie kwartgebied gestormloop het. Sy flank en kaptein Berry Gande was die volgende baldraer en Lorenzo Louis was die middelman wat sy sneltrein aan die regterkant, Shareave Titus, weggestuur het om die laaste twee verdedigers met sy voetwerk te klop en onder die pale te gaan druk (35-10).

Dalk Unam se mees insiggewende drie was in die 53ste minuut. United het op die halflyn 'n lynstaan gewen en het alles in die stryd gewerp om 'n lynstaandryf vorentoe te beur. Selfs agterspelers het betrokke geraak, maar Unam het sowaar die bal gesteel en Gilad Plaatjies het steelkant om weggebreek. Skrumskakel Sunday Haitembu was langs hom om vir Shareave Titus op sy blitslopie na die regterhoekvlag te stuur (40-10).

'n Hoogvat deur Gande is raakgesien en hoewel die plaasvervanger-flank Roaldo Rittmann in dieselfde beweging in die linkerhoek oorgeduik het, is die “drie” gekanselleer en Gande het 'n geel kaart gekry.

Die spel is met 'n strafskop vir United op die middellyn hervat. Van die daaropvolgende lynstaan het die blou span hul plaasvervanger-voorspeler Ovengi Tuaandi vir 'n drie oorgewerk, wat Rust nie kon verdoel nie.

'n Laat geel kaart vir Roaldo Rittmann, ná United se vinnige tikskop op die doellyn, het geen invloed gehad om United se telling te vergroot nie.

Verdere sout is in United se wonde gevryf met drieë deur flank Cameron Langehoven en 'n opportunistiese lugskoppie-en-vangdrie deur Delron Brandt, wat as losskakel by Renier Benade oorgeneem het.

Die Filistyne se agterlyn het 'n nagmerrie beleef, met die opskietverdediging en gebrekkige kommunikasie wat enige deurdringingsvermoë on­skadelik gemaak het.



WANDERERS STOTTER, MAAR WEN

FNB Wanderers het darem die pyp gerook met 'n bonuspuntsege op sy tuisveld teen Rehoboth-rugbyklub (35-27), terwyl hulle met die punteverskil van agt verhinder het dat die besoekers enige bonuspunt kon inoes.

Afrigter Vince Dreyer en ondersteuners van die Wit Hingste het egter heelwat frustrasie beleef met die ongedwonge foute wat Wanderers steeds teister.

Rustyd was die tuisspan met 22-7 voor, nadat hulle reeds vier drieë gedruk het, naamlik deur binnesenter Bredell Wessels, losskakel MP Pretorius, vleuel Nandivatu Karuuombe en flank Dirk de Meyer. Net een hiervan is deur heelagter Léan Stoop verdoel.

Toe Wanderers weer hul oë uitvee, was dit Rehoboth wat met 24-22 die voortou geneem het met 'n paar minute speeltyd oor.

'n Laat duikslag op die halflyn het meegebring dat 'n strafskop toegeken is op die plek waar die Rehoboth-speler se skop te lande gekom het, naamlik diep in Wanderers se kwartgebied. Die Rooi Bulle het só vinnig 'n tikskoppie geneem dat Christo van der Merwe, flank van Wanderers, van 'n onkant posisie betrokke geraak het.

Vir hierdie oortreding het skeidsregter Stephan Kellerman nie net 'n strafdrie onder die pale aan Rehoboth toegeken nie, maar ook vir Van der Merwe met 'n geel kaart afgestuur.

Skaars twee minute later het die 22-14 verander in 22-21, toe Rehoboth se senter Henrique Olivier sy tweede drie van die dag gaan druk en verdoel het. Dié keer kon hy op die voorvoet op die doellyn afstorm nadat agtsteman Johann Wohler eers die bres geslaan het.

Met strafskoppe vir oortredings by losskrums en ongedwonge aanslane het Wanderers hulself keer op keer in die voet geskiet en Olivier het sy span met 'n strafdoel laat voorloop (24-21).

'n Rehoboth-agterspeler het egter onder druk teen sy eie man vasgeskop wat vir Wanderers die strafdoel vir onkantspel besorg het, van waar 'n lynstaan opgestel is. Christo van der Merwe het 'n vurige stormloop van stapel gestuur en aan die steelkant was haker Stefan Hattingh in posisie om dit verder te neem en oor die doellyn te bars.

Brandon Groenewald het verdoel en het ook twee strafdoele behaal om Wanderers se totaal tot 35 op te stoor, terwyl nog 'n strafdoel deur Henrique Olivier hom met twintig punte laat eindig het.

'n Onnodige geel kaart vir 'n laatvat het Dirk de Meyer ook die eindfluitjie van die kantlyn af laat aanhoor.



KUDUS STUIT SUBURBS

Op Walvisbaai het Kudus sy stem dik gemaak deur FNB Western Suburbs met 28-25 te klop.

Die wenpunte het met die laaste beweging van die wedstryd danksy 'n strafdoel deur losskakel Aurelio Plato gekom.

Plato en sy eweknie Justin Nel het vroeër strafdoele uitgeruil tot 6-6, voor die enigste verdoelde drie van die eerste helfte deur flank Richard Mupewa wat vir Suburbs rustyd met 13-6 laat voorloop het.

Met hul eerste kans ná die hervatting het Kudus se flank Virgill Bampton die doellyn oorgesteek vir Plato om te verdoel en die telling weer gelykop te maak.

Plato en sy eweknie Justin Nel het die volgende twee drieë gedruk, maar net Plato se doelskop was oor en Kudus was met 20-18 voor.

Die tuisspan se heelagter Lloyd Jacobs het 'n onverdoelde drie bygevoeg, maar vir die derde keer het die telling gelykop geword toe Suburbs se Morgan Esterhuizen gaan druk en sy vleuelmaat Ricardo Swartz verdoel het.

Met die laaste beweging het Kudus 'n strafskop onder die pale gekry wat Plato in die wenpunte omskep het.

“Die wedstryd was baie fisiek en albei spanne het met alles ingeklim. Skeidsregter Oscar Lambert het 'n goeie vertoning gelewer. Toeskouers is tot die laaste oomblik in spanning gehou oor wie sou wen,” sê ons joernalis op die toneel, Otis Finck.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!