Unam bly enigste onoorwonne span

Western Suburbs het met die rug teen die muur 'n waardevolle sege teen Wanderers behaal.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die FNB Universiteit van Namibië bly onverstoorbaar op die wenpad ná drie rondtes van die premierliga van die Namibië Rugby-unie (NRU), nadat hy Saterdag op sy tuisveld die aanslag van Kudus met 45-0 uit die pad gevee het.

Sy medefinalis van die laaste drie jaar, FNB Wanderers, het hom vasgeloop in 'n nederlaag met 27-30 teen FNB Western Suburbs wat op sy tuisveld desperaat was om nie die nuwe seisoen met drie opeenvolgende nederlae te begin nie.

Trustco United het Vrydagaand ook sy veldtog op koers gehou deur die besoekende Reho Falcon met 56-17 te verslaan.

Die uitslag by Suburbspark in Khomasdal was waarskynlik die verrassing van die naweek, toe Wanderers ondanks sy sterbelaaide span nie die knoop kon deurhaak nie.

Suburbs het in die eerste helfte met 12-4 die voordeel van skeidsregter Zaid Isaacs se strafskoptelling geniet, maar ná rustyd is sewe strafskoppe aan Wanderers en twee aan die tuisspan toegeken om op 14-11 te eindig.

Wanderers is veel eerder gesink deur skewe stelskopwerk – een van die hoofredes dat hy ondanks vyf drieë teen vier aan die verloorkant geëindig het. Belowende aanvalswerk is soms ook deur ongedwonge vorentoe aangeë en ander hanteerfoute in die wiele gery.

Op die dag se spel het Suburbs se losskakel Justin Nel die beste afgekom in sy tweestryd teen Stiaan van der Merwe. Nel se taktiese skopwerk het sy span baie goed uit verdedigende situasies gered, terwyl hy ook goed pale toe gekorrel het.

Suburbs – altyd geseën met 'n vinnige en vaardige agterlyn – het twee nasionale vleuels as sy senterpaar gebruik (Russell van Wyk en Gino Wilson), met Johnny Namene en Collins Omalu as vleuels en Nikin Cloete as heelagter.

Twee strafdoele deur Nel het Suburbs met 6-0 laat voorloop, voordat Wanderers met 'n onverdoelde drie deur flank Dirk de Meyer geantwoord het.

Suburbs het sy besoek aan die Wanderers-gebied laat geld toe agtsteman Tjingairi Katjivi onder die pale gaan druk het, vir Nel om te verdoel (13-5).

David Philander het sy eerste drie in 'n Wanderers-trui gaan druk ná konstruktiewe opbouwerk van 'n gesteelde lynstaan af, wat vir die nasionale vleuel een verdediger gelaat het om te klop om sy pad hoekvlag toe oop te maak. Heelagter Mahco Prinsloo kon egter weer nie verdoel nie.

Die agterstand met 10-13 is egter voor rustyd in 'n voorsprong met 17-13 omskep. Dirk de Meyer het 'n bal op die grond gesteel en senter Jamie Joseph het sy sentermaat Francois Wiese op 'n lopie van 35 meter doellyn toe gestuur.

Afrigter Llewellyn Winkler se Suburbs-manne was egter gereed om veggees te wys en ná 'n strafdoel deur Nel het die losskakel ook die rigting van 'n aanval slim verander. Nikin Cloete het die lyn reguit gemaak en sy aangee weggekry na Gino Wilson wat te veel spoed gehad het om gekeer te word. Met Nel se doelskop was die tuisspan met 23-17 voor.

Wanderers het twee dryfmaal-drieë deur haker Gerhard Lötter behaal wat beide onverdoel gebly het, terwyl Suburbs se deurslaggewende vierde drie weer deur Gino Wilson gedruk is. Dit was die gevolg van skrumskakel Bronwyn Willemse wat druk op sy teenstander geplaas en die bal twee keer deurgeskop het.



KUDUS VAL OOK VOOR UNAM

Die Walvisbaaise span Kudus is in die eerste helfte oorrompel, toe Unam reeds 'n voorsprong met 33-0 opgebou het.

Met drieë deur agtsteman en kaptein Bradley Klazen, vleuel Chess Lawrence en 'n onderskepdrie deur flank Rheinhardt Carelse het die studentespan reeds 'n kussing van 21-0 opgebou, maar daar was tyd vir nog twee drieë voor rustyd.

Eers het senter Camlo Martin uit sy eie helfte dwarsdeur pale toe gehardloop, voordat regtervleuel Silvano Beukes 'n beweging met krag in die regterhoekie moes gaan afrond.

Laasgenoemde drie was die enigste waarvan die doelskop bo heelagter Lorenzo Louis se vuurmaakplek was.

Die blou truie het in die tweede helfte veel beter spel gelewer en was ongelukkig om nie met 'n oënskynlik wettige drie deur Cameron Langenhoven beloon te word nie. Die flank het met een verdediger op sy rug in die linkerhoek gaan druk, maar die vlagman was oortuig dat sy voet aan die kantlyn geraak het.

Unam kon in die tweede helfte net twee drieë byvoeg. Milaan van Wyk, wat later van senter na skrum­skakel verskuif is, het opportunisties ná 'n vinnige tikskop oorgeduik, en met die heel laaste beweging was die plaasvervanger Unomasa Kavita op die linkervleuel om 'n beweging af te rond.

Afrigter Johan Diergaardt het agterna gesê sy Unam-span het voor rustyd baie goeie spel gelewer en hy is tevrede dat hulle ook in die tweede helfte goed verdedig het toe Kudus meer balbesit op die aanval kon gebruik het. “Ons hanteer elke wedstryd as 'n kans om op ons vorige vertoning te verbeter.”

Die sameroeper van Kudus se afrigterspan, Zane Jansen, het gesê sy span bly gemotiveerd om 'n plek in die halfeind te verdien.

“Ons het rustyd gesê ons moet begin ons man staan teen Unam se fisieke aanslag, maar Unam se fiksheid en ervaring het hulle deurgedra. Ons is 'n les geleer om ons take meer sekuur uit te voer.”



VYFTIGTAL VIR UNITED

Rustyd was United Vrydagaand op sy tuisveld net met 14-10 voor teen Reho Falcon, voordat hy in die tweede helfte veral met sy agterlyn losgetrek het vir 'n dubbele bonuspuntsege.

Reho Falcon het met 'n strafdoel deur losskakel Deslee Beukes geopen, en het ook die laaste verdoelde drie voor rustyd behaal toe agtsteman Elrico Benade 'n beweging afgerond het wat begin het toe vleuel Donaville Lebereki naby die halflyn deur die duikslag van United se losskakel Riaan van Zyl gebreek het.

Tussenin het United egter twee drieë voor rustyd behaal – deur sy hardwerkende flank Niël van Vuuren agter 'n lynstaandryf, asook 'n strafdrie danksy hul oorheersende skrum.

In die tweede helfte was Reho Falcon se enigste hoogtepunt toe hulle naby die doellyn 'n tikskoppie kon neem en stut Reginald Araeb kon oorbars, vir Beukes om te verdoel.

United het stelselmatig beheer oorgeneem, vandat slot Lionel Nantes van 'n lynstaanfout deur die opposisie kon gaan druk.

Die Filistyne se haastige linkervleuel Nandivatu Karuuombe, skrum­skakel Morné Blaauw, senter Tuna Amutenya (2) en agtsteman Naudé Neethling het verdere drieë gedruk.

Skeidsregter Oscar Lambert het twee keer na elke kant sy geel kaart uitgehaal om Alcino Izaacs (binnesenter) en Elmo van der Byl (heelagter) aan United se kant, asook Greg Stein (flank) en skrumskakel Samile Loubser van Reho Falcon koelkas toe te stuur.

Ná die eindfluitjie het humeure tussen spelers, bestuurslede en ondersteuners opgevlam, maar die opflikkering is redelik gou tot bedaring gebring.



RESERWELIGA

Wanderers se tweede span klop Western Suburbs II met 43-24, met haker Stefan Hattingh wat drie drieë druk. Die verdedigende kampioen Unam II klop Kudus se tweede span met 27-10, terwyl United se tweedebestes met 35-18 die oorhand teen Reho Falcon kry.



EERSTE LIGA

Dolphin klop Vikings met 16-9 (een drie teen nul).

Vipers klop Jaguars met 65-7 (tien drieë teen een).

Eastern Bulls verslaan NUST met 89-7 (13 drieë teen een).

Keetmanshoop klop Mariental met 17-7 (twee drieë teen een).

Oranjemund klop Ocean Swallows met 27-7 (vyf drieë teen een)

Walvisbaai klop Erongo Rugby Academy met 29-5 (5 drieë teen een).

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer