Unam vat voortou nadat Hingste gly
Unam vat voortou nadat Hingste gly

Unam vat voortou nadat Hingste gly

Die verwisseling in die voorlo­pers was 'n groot keerpunt in die derde naweek se aksie.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - FNB Wanderers se tuisnederlaag met agt punte teen FNB Western Suburbs het meegebring dat hy geen ligapunt op die puntelys van die Namibië Rugby-unie se premierliga kon byvoeg nie.

Die verdedigende kampioen FNB Universiteit van Namibië het dié kans aangegryp om hom boaan die agt spanne tuis te maak, te danke aan sy oorwinning met 43-14 teen Rehoboth.

Terwyl Wanderers, Unam en Western Suburbs die meeste spelers aan die nasionale oefengroepe afgestaan het, sal hulle ook verlig wees dat alle fikse spelers vir komende Saterdag se klubwedstryde vrygestel behoort te word.

Die Wit Hingste moet juis volgende by die Unam-stadion besoek aflê.

Die ander uitdagers, asook neutrale kykers wat van 'n spannende wedloop hou, sal dit waarskynlik verwelkom dat die twee finaliste van 2016 en 2015 nie beide weer aan die wenkant was nie en dat meer spanne nou vir hulself 'n geleentheid sien.

Vreemd genoeg het Unam, wat ná sy skrapse rustydtelling (15-14) totaal die oorhand gekry het, minstens twee gulde geleenthede laat glip om 'n sewende drie te druk wat vir hom nóg 'n bonuspunt sou beteken. Een daarvan was wel 'n briljante stukkie dekverdediging toe twee Rehoboth-manne vir Milaan van Wyk ná 'n lang lopie beetgekry en agter die hoekvlag uitgeduik het.

Johan Diergaardt se studentespan het opnuut beïndruk. Nie net kan hulle 'n vloeiende vyftienman-patroon speel nie, maar ook voorlangs met enigiemand kan stoei. Met die vlak van fiksheid en diepte in hul eerste en tweede spanne sal dit iets spesiaals kos om Unam se string oorwinnings (tans 16) kort te knip.

Unam se ses drieë is uiteindelik deur die linkervleuel Sunday Haitembu, skrumskakel Cameron Klassen, agt­steman en kaptein Bradley Klazen, senter Milaan van Wyk, flank Renaud van Neel en regtervleuel Silvano Beukes gedruk. Binnesenter Denver Murorua het met vyf uit ses doelskoppe geslaag, terwyl losskakel Rodney Coetzee met 'n skepdoel van hom laat kennis neem het.

Rehoboth se enigste driedrukker was die vleuel Julian Afrikaner, terwyl skoppunte van Chase Diergaardt (twee strafdoele) en Sergé Loock (een strafdoel) gekom het.



WANDERERS 17 SUBURBS 25

Die skrumskakel Biza Willemse en vleuels Nikin Cloete en Collins Omalu was drie van die Suburbs-helde wat gewis hul aandele laat styg het.

Willemse het in die tweede helfte die veld met 'n ligte besering verlaat, maar hy het 'n rol gespeel in twee van die wenspan se drie drieë waarmee hulle die tuisspan onder groot druk geplaas het.

Wanderers het met sy swaarder agttal die oorhand in die vaste fasette gehad, maar agterlangs het die kombinasies nie gevlot nie.

Toe dié oorheersing ondanks groot moeite teen 'n hardnekkige Suburbs-agttal nie in punte omskep is nie, het die groen-en-wittes onmiddellik hul teenhoue ingekry wanneer hul hegte verdedigingslyn enige besit by Wanderers kon afneem.

Buitesenter Alastair Miller het só 'n kans gekry om sy regtervleuel Collins Omalu op 'n lang lopie doellyn toe weg te stuur waarin hy net vir Wanderers se heelagter Zaynor Platt moes wegstamp.

Met dié drie was Suburbs met 8-3 voor, nadat Willemse en Ethan Beukes tevore met strafdoele geslaag het.

Met die laaste beweging voor rustyd het Willemse ná 'n swakkerige lynstaanbal deurgebreek. Sy agt­steman Roderique Victor was in posisie om aan te sluit en die lopie hoekvlag toe te wen. Justin Nel het verdoel (15-3).

Tien minute ná die omdraai het 'n Wanderers-beweging op die aanval weer skipbreuk gely en Willemse was daar om vir Omalu diep uit sy eie helfte weg te stuur pale toe. Justin Nel se doelskop het die druk ten volle op Wanderers geplaas.

Die Hingste het hard gewerk om drieë deur regtervleuel Deselvano Beukes en binnesenter Ethan Beukes te skep, wat beide deur Beukes verdoel is (22-17).

'n Nel-strafskop het Suburbs egter met agt punte voor geplaas en hoewel dié losskakel hom kort daarna misgis het deur die bal in sy eie kwartgebied uit te skop omdat hy gedink het die speeltyd is verstreke, het die Khomasdallers geseëvier op 'n veld waar hulle twee seisoene tevore op 'n afdag met 50 punte verslaan is.



UNITED 48-31

Trustco United was die enigste span van die naweek wat die hoogste moontlike ligapunte uit 'n wedstryd (ses punte, vir sewe drieë of meer) ingepalm het.

Die Filistyne het op hul tuisveld vir Walvisbaai voor stok gekry met die eindtelling 48-31.

Die wenspan het drieë deur die haker Kamaa Kajau, slot Jan-Hendrik Augustyn, flank Zayne Groenewaldt, vleuel Stefan Louw, senter Donovan van Wyk asook die plaasvervangers Naudé Neethling (agtsteman) en Morenzel Strauss (skrumskakel) bewerkstellig. Die kaptein en slot Winmar Rust het die ander 13 punte met die skopvoet bygevoeg.

Vir Walvisbaai het losskakel Dirkie von Weidts twee driee gedruk, albei verdoel en ook 'n strafdoel deur die pale gejaag. Die plaasvervanger-voorspelers Cevin Harding (tevore 'n flank vir United) en Wolfgang Rohl (gewoonlik slot, maar dié keer stut) het ook gaan druk. Twee doelskoppe van Steward McAlpine was suksesvol.

Die Baaienaars was agterlangs bykans op volle sterkte, maar moes die reis sonder vyf van hul gereelde voorspelers aanpak. Die kusspan sien dus uit na hul komende eerste tuiswedstryd vir die jaar en om teen Reho Falcon die knoop deur te haak.



REHO FALCON 15 KUDUS 22

Op Rehoboth was tuisvoordeel nie genoeg vir Reho Falcon nie, met Kudus van Walvisbaai wat 'n spannende wedstryd met 22-15 beklink het.

Vir Kudus was sy stewige senter Anthony (AJ) Jevu vir die derde naweek op 'n streep onder die driedrukkers. Die besoekers se ander drieë het van die voorspelers Grant Nash en Lee-uwardo Sitzer gekom, terwyl losskakel Uliratio Lawrence twee doelskoppe en 'n strafdoel bygevoeg het.

Reho Falcon se haker Jeandre Cloete en buitesenter Hillian Beukes het sy drieë gedruk, terwyl heelagter Xavier van Wyk nog vyf skoppunte bygevoeg het.

• Komende naweek se wedstryde: Unam tn Wanderers by Unam; Walvisbaai tn Reho Falcon op Walvisbaai; Western Suburbs tn United op Suburbspark; Kudus tn Rehoboth op Narraville.



Reserweliga uitslae: Western Suburbs II klop Wanderers II 23-7 (drie drieë teen een); Reho Falcon II klop Kudus II 33-3 (vier drieë teen nul); Unam II klop Rehoboth II 87-0 (13 drieë teen nul); United II klop Walvisbaai II 26-15 (vier drieë teen twee).

Eerste liga: Eastern Bulls klop Unam III 30-15; Grootfontein klop Otjiwarongo 22-15; Tsumeb klop Oshakati 67-21 (11 drieë teen drie).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!