Unam, Wanderers hou aan wen

Al vier derbies was soos verwag baie kompeterend.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - In 'n naweek van derbies in die Namibië Rugby-unie se premierliga, is geen groot opskuddings gelewer nie. Drie van die vier wedstryde is met bitter klein punteverskille beklink, terwyl FNB Wanderers met 35-23 teen Trustco United die stryd vir ligapunte met vier-nul gewen het.

Te danke aan drieë deur senter Janry du Toit en flank Dirk de Meyer, tesame met twee doelskoppe en twee strafdoele deur Mahco Prinsloo, was die Wit Hingste teen rustyd reeds met 20-9 voor. Die tuisspan se skopper Winmar Rust het met drie van sy vier strafskoppogings geslaag.

Ná rustyd het Wanderers se slot en kaptein Kevin Vorster 'n verdoelde drie gedruk, maar United, wat vir Naudé Neethling met 'n geel kaart afgestaan het, het 'n strafdrie bewerkstellig wat terselfdertyd vir Wanderers se vleuel Malcolm Moore 'n geel kaart meegebring het (27-16).

Ethan Beukes het 'n netjiese strafskop vir Wanderers bygevoeg, maar haker Niël van Vuuren het van sy eie tien minute in die koelkas terug­gekeer om ná 'n lynstaan deur te bars. Rust het verdoel om sewe punte agter te wees met 19 minute speeltyd oor.

Beide spanne het later opsigtelik begin moeg raak, maar dit was Wanderers wat vir oulaas 'n aanvallende lynstaan opgestel het vir skrumskakel Enem Kritzinger om sy gaping doellyn toe te vat. Stut Nian Berg se doelskop was mis.

Wanderers (34) bly ses punte agter die voorloper FNB Unam.



KUDUS KLOP WALVISBAAI

Die twee kusspanne het in Walvisbaai vir 'n behoorlike naelbyter gesorg voordat Kudus met 17-16 geseëvier het.

Kudus se sege lei hul gerieflik van 19 na 23 ligapunte (vierde op punteleer), terwyl Walvisbaai (sesde met 17) een bonuspunt verdien omdat hy met minder as sewe punte verloor het.

Vir Kudus het Zane Williams vir 'n drie oorgeval, met skrumskakel Ulriato Lawrence en Luke Jansen wat beide met twee strafskoppe slaag.



REHOBOTH KLOP FALCON

Die twee spanne van Rehoboth het Saterdag opnuut vir uithalerrugby gesorg in 'n wedstryd wat ses drieë opgelewer het. Hoewel Falcon rustyd met 7-5 voor was, moes hy die knie met 22-18 buig om steeds laaste op die punteleer met vier (een bonuspunt) te bly.

Rehoboth se oorwinning het hom 'n stewige hupstootjie van 12 na 17 punte (sewende) laat vorder.

Vir Rehoboth het die agtsteman Charl Freygang, heelagter Reduane Beukes, flank Charl Fortuin en losskakel Nazume Swartz gaan druk. Swartz slaag met een doelskop.

Falcon se drukkers was losskakel Deslee Beukes en regtervleuel Steward Swartz. Beukes klits twee strafdoele deur die pale en skrum­skakel Howard Titus slaag met een doelskop.



UNAM KLOP SUBURBS

In 'n skoon wedstryd het FNB Unam as tuisspan ná 'n gesukkel daarin geslaag om die besoekers met 16-11 onder te kry.

Hoewel skeidsregter Danie Koen 'n paar geel kaarte vir minder ernstige oortredings uitgedeel het, was dié spannende botsing sonder enige ernstige voorvalle.

Johan Diergaardt, afrigter van Unam, sê hy is baie bly oor die uitslag, hoewel beide spanne baie foute begaan het en die wedstryd gevolglik nie lank onthou sal word nie.

“Ons skrums en lynstane was goed en ons het baie ­geleenthede geskep, maar het andersins nie besonder goeie rugby gespeel nie.”

Unam het as voorloper in die 2017-seisoen vier punte by sy totaal gevoeg (40) om 13 ligapunte voor Suburbs (derde met 27, een bonuspunt) te lê. Die studentespan se punte kom van een strafdrie (sewe punte) met heelagter Lorenzo Louis en Denver Murorua wat onderskeidelik ses en drie punte met strafskoppe bydra.

Vir Suburbs het plaasvervanger-voorspeler Vaughan Petersen gaan druk en heelagter Ricardo Swartz voeg ses punte met strafskoppe by.

• Reserweliga: Walvisbaai II klop Kudus II met 22-10; Unam se tweedes klop Suburbs II met 20-18; Rehoboth II klop Falcon II met 27-12; Wanderers II klop United II met 22-14.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!