Unieke paar vind mekaar
Tanja Bause - “Ek het ’n jaar lank gebid en gedroom ek sal ’n lewensmaat ontmoet.
“Toe gebeur dit met my, en nou gaan ons trou,” sê me. Juanita van Vuuren (28).
Wat die troue besonders maak, is dat Juanita met downsindroom gebore is en haar verloofde, mnr. Gert Muller (37), verstandelik gestrem is.
Die Van Vuurens het op ’n plaas in die Hochfeld-omgewing gaan kuier toe hulle hoor Gert is eensaam en soek ’n maat.
“Gert se mamma het my mamma gebel en hulle het gereël dat ons by ’n kafee in Windhoek ontmoet. Ons het melkskommels gedrink en baie lekker gekuier en verlief geraak,” sê Nita.
Dit was in September 2017 en die paartjie was kort voor lank onafskeidbaar.
Nita het by Gert op sy ouers se plaas in die Hochfeld-omgewing gaan kuier en Gert het Nita in Windhoek besoek.
“Hy het my weer plaas toe genooi en ons het veld toe gegaan. Daar by ’n miershoop het hy op een knie neergesak en my gevra om te trou. Natuurlik het ek ja gesê, en hy het ’n ring uitgehaal en ons het verloof geraak,” sê Nita.
Dit was op 15 Julie verlede jaar, en eerskomende Saterdag hak die twee die knoop in Windhoek deur.
Gert se ouers het vir die paartjie ’n huis op die plaas gebou en Nita sal ná die troue ’n plaasvrou word.
“Gert is ’n hoenderboer, maar die haan skop hom altyd. Nou kan ek vir Gert help om die eiers uit te haal, en hy is baie bly dat ek hom met die boerdery kom help,” sê sy.
Volgens haar sal sy die wasgoed was, die huis skoonmaak en kook. “Maar my man moet braai.”
Nita was ’n leerling aan Dagbreek Skool in Windhoek.
Daarna het sy vir twee jaar by die Kabouterland-kleuterskool gewerk.
“Ek het met die kinders gehelp, maar meestal het ek net liefde gegee en drukkies uitgedeel.”
Sy het ook elke Donderdag by Floorworld uitgehelp.
“Daar het ek ook drukkies uitgedeel en liefde gegee, maar ek het ook koffie gemaak en so ’n bietjie kantoorwerk gedoen. Ek het nou bedank, want ek gaan plaas toe trek.”
Nita bak elke Woensdag piesangbrood, wat sy by haar ma se skool en haar werk verkoop het.
“Nou sal ek vir die boerevereniging en vir my man bak.”
Gert is by geboorte verkeerdelik as gehoorgestremd gediagnoseer.
Die Muller-gesin het drie jaar lank op Worcester in die Wes-Kaap gewoon sodat hy die nodige hulp kan ontvang.
Toe die regte diagnose gemaak is, het die gesin teruggetrek Namibië toe.
Gert was ook in Dagbreek Skool, maar het op die plaas grootgeword.
“Gert weet alles van boer en beeste,” sê me. Rentia van Vuuren, sy ma.
“Hy het ook daarvan gedroom om ’n lewensmaat te ontmoet, en nou het beide ons kinders iemand gevind wat hulle liefhet en vir wie hulle kan lief wees,” sê Van Vuuren.
“Gert sê hy is baie lief vir my en hy kan my nie los nie, en ek is baie bly daaroor,” sê Nita.
Aanvanklik was dit ’n skok vir die familie toe hulle uitvind Nita is met downsindroom gebore.
“Maar ons het besluit ons gaan haar soos ons eersgeborene grootmaak en haar niks ontneem nie. Sy sal alles wat haar broer gehad het, ook ontvang.”
Nita is op drie reeds kleuterskool toe.
“Toe sy op 18 klaar was met skool, het ek vir haar en die ander kinders ’n matriekafskeid gereël. Ons het ’n rok laat maak, ’n voertuig en ’n saal gehuur en sy het ’n afskeid gehad – nes haar broer.”
Sy het ook ’n groot 21ste verjaardagpartytjie gehad.
“Sy speel die tamboeryn in die kerk en deel nagmaal uit. Nita is deel van die gemeenskap en sy beteken baie vir die mense wat haar ken. Nita wil net liefde hê en gee – en baie daarvan.”
Van Vuuren besef die huwelik gaan met baie uitdagings gepaard.
“Beide van hulle het iemand nodig wat ’n ogie oor hulle hou. Jy raak so gewoond aan hulle, jy vergeet hulle is mense met spesiale behoeftes. Ek is bekommerd daaroor of sy byvoorbeeld elke dag die kos op die tafel gaan sit. Maar ook gerus dat Gert se ouers naby is en ook besef hulle is ’n paartjie met spesiale behoeftes,” sê sy.
“Ek het haar na die beste van my vermoëns grootgemaak en voorberei, en sy weet ook ek is net ’n oproep ver as sy my nodig het.
“Ek sien baie uit daarna om in my eie huis met my man Gert te bly,” sê Nita.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie