United teen Falcon skielik op 'provinsiale' vlak
Opponente – van wie United die eerste is – sal moet rekening hou met die gedugte aanwinste in Reho Falcon se geledere.
Andrew Poolman – Trustco United, die heersende titelhouer in die Namibië Rugby-unie se premierliga, sal nie sommerso kan reken op die wenpunte vir sy tuiswedstryd vanaand teen Reho Falcon nie.
Afrigter Ronaldo Pedro se swarttruie het verlede week 'n betekenisvolle inspuiting van vier geharde provinsiale spelers van oorkant die Oranjerivier gekry, met nog twee wat later op pad is.
“In die afwesigheid van rugby in die SWD (Suidwestelike Distrikte) wil ons as klub net sterkte sê aan Freginald Africa, Arden Wesso, Lwando Maxeke (almal van Crusaders) en Leegan Moos (Evergreens), wat op pad is om in Namibië te gaan klubrugby speel,” lui 'n onlangse inskrywing in 'n geslote rugbybesprekingsgroep op sosiale media.
Freginaldo Africa, die frisgeboude flank met die destydse onmiskenbare pynappel-haarstyl, het reeds in 2016 sy merk in Windhoek kom maak. Eers het hy twee drieë vir Evergreens gedruk om FNB Wanderers uit daardie jaar se SA Rugby Gold Cup-reeks te help uitskakel.
Die slot Arden Wesso het ook in daardie wedstryd gespeel, terwyl Moos as heelagter 15 punte met drie strafdoele en drie doelskoppe behaal het om Evergreens met 35-27 teen Wanderers te help wen.
“Kort op hul hakke sal Jayden Onkers en Curtley Scheepers volg. Die twee wag net op vrystelling, dan is hulle ook op pad binne die volgende twee weke,” lui die genoemde inskrywing verder.
Feitlik al dié Suid-Kapenaars is gesoute spelers wat tevore hul staal vir die SWD Arende in die buurland se provinsiale reekse gewys het, totdat Covid-19 die land se rugby tot stilstand gedwing het.
Hul insette in hul onderskeie posisies kan Falcon se plaaslike spelers aanspoor – veral iemand soos losskakel Franklin Busch wat hom reeds as 'n betroubare stelskopper bewys het.
Vanaand se wedstryd (afskoptyd 18:30 by Trustco United se Gemsbokpark) is die ontmoeting wat vir die eerste ronde bestem was, maar wat vanweë Covid-19-gevalle in die geledere van Reho Falcon op versoek uitgestel is.
United is juis desperaat om weer op volspoed te kom, nadat die Filistyne hul enigste ligawedstryd sover met 9-19 teen FNB Unam verloor het en hulle dus punteloos in die sewende posisie uit die agt premierligaspanne bevind.
Winmar Rust, hul nuwe afrigter, het ten minste 'n grootliks voltallige groep tot sy beskikking.
“Ons enigste beserings is Dean Blom (agtsteman en kaptein), wat teen Unam sy vinger gebreek het en dus na verwagting vir vier tot ses weke uit is, asook die stut Jason Benade, wat nog vir minstens ses weke met beseerde knieligamente uit is.
“In Dean se plek word Henry Kandjou (senter), wat die onderkaptein was, bevorder om vir die volgende weke die leierskap oor te neem.
“Verder mag Thomas Kali (flank of slot) en Gerhard Thirion (haker) ook nie speel nie, ná hul rooi kaarte teen Unam.”
Kali, Thirion asook die Unam-duo Bigman Kaura (haker) en Simon Kanime (stut) se tugverhoor was bestem om gisteraand plaas te vind.
Rust sê hy verwag dat die veelsydige haker en losvoorspeler Niël van Vuuren, een van die helde van die klub se 2019-triomf, ook binnekort weer beskikbaar kan wees ná die verwagte aankoms van sy eersteling.
Die spanne:
FNB Reho Falcon: 15 Wayrich Hansen, 14 Franklin Karugab, 13 Anthony Brandt, 12 Legan Moos, 11 Ronaldo de Klerk, 10 Franklin Busch, 9 Miquel Busch, 8 Freginald Africa, 7 Denilo Feris, 6 John van Wyk, 5 Arden Wesso, 4 Etienne Koopman, 3 Lwando Maxeke, 2 Ruchan Visagie, 1 Roland Renton (kaptein).
Reserwes: Baggio Xoagub, Patty Waggie, Lawrence Mouton, Dameen Bezuidenhout, David Farmer, Ethan Isaaks, William Fourie.
Trustco United: 15 Riaan van Zyl, 14 Daryll Vries, 13 Henry Kandjou (kaptein), 12 Denzo Bruwer, 11 Nazume Swartz, 10 Hanreco van Zyl, 9 Keanu Mouton, 8 Naude Neethling (onderkaptein), 7 Thomas van der Westhuizen, 6 Ryan Garoeb, 5 Jean-Pierre Grobler, 4 Zander Bronkhorst, 3 Gerhard Opperman, 2 Kamaa Kajou, 1 Jan Burger.
Reserwes: Regardt de Meyer, Eliakim Shikwambi, Venoumba Kanguatjivi, Arno de Klerk, Felix Humphries, Maandero Haimbodi, Michael Hummel.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie