Usakos-boer se plan klop droogte
Johan Bean se miniplaas in ‘n woestyngebied verdien ‘n inkomste te midde van die droogte.
Elvira Hattingh - Nie net bied die 70-jarige mnr. Johan Bean van Usakos se miniplaas ‘n werkbare oplossing in ‘n kwaai droogte nie; dit wys hoe boere op so min as 1,5 hektaar grond ‘n goeie inkomste kan verdien deur indringerplante te benut.
Bean se kleinhoewe, Namgro, is “op die rand van die Namibwoestyn” geleë. Hier hou hy tans 250 stuks kleinvee in ‘n “skaaphuis” aan wat hy van boskos voorsien wat van onder meer prosopisbome gemaak word.
Ten spyte daarvan dat Namibië tans sy kwaaiste droogte in dekades ervaar, sal Bean in minder as ‘n jaar nadat hy met die boerdery begin het, sy eerste groep van sowat 100 stuks kleinvee teen middel volgende maand kan bemark.
Dit binne ‘n woestyngebied, te midde van ‘n droogte en nog vóór die volgende reënseisoen kom. Boonop het hy intussen werksgeleenthede vir nog vyf mense geskep.
Talle boere het Bean reeds gekontak om na sy opset te kom kyk. “Dis basies ‘n mini-plaas wat jy op 1,5 ha neersit,” verduidelik Bean.
“’n Mens moet nuut begin dink tydens ‘n droogte.
“Jy het nie nodig om 1 000 ooie aan te hou as jy 500 kan aanhou wat vir jou dieselfde aantal lammers gee nie. As jy hulle boonop in ‘n klein plek kan aanhou en jou weiding kan laat rus terwyl jy steeds ‘n inkomste verdien, hoekom wil jy die plaas vertrap?”
Bean sê hy moet besig bly. “Ek is nie meer vandag se kind nie. Ek het vir my vrou gesê kom ons vat ons pensioengeld en belê dit hierin. Die rente wat ons op die belegging maak, kan geen bank vir ons betaal nie.”
SLEGS ENKELE HA BENODIG
Bean se kleinhoewe is sowat 5 ha groot.
“Net sowat 2,5 hektaar daarvan is egter bruikbaar omdat die res uit ‘n rivier bestaan met grond wat baie diep af en skuins is.
“Baie mense vra my hoekom ek hierdie stuk grond uitgesoek het. Die rede is omdat hier nie bure naby is om my diere te steur nie.
“Die tweede rede is dat daar oornag ‘n koel wind van Swakopmund se kant af waai wat die krale uitdroog. Dit help om die kleinvee teen vrotpootjie te beskerm.” .
Bean sê hy het aanvanklik gelees van ‘n boer in Suid-Afrika wat 500 skape op ‘n 5 ha-stuk grond aanhou. Hy het die boer gekontak en na sy opset gaan kyk, maar besef dit is vir Vrystaat se omstandighede gebou.
Hy het op nog iemand in Suid-Afrika afgekom wat skape ook so aanhou, maar dit op ‘n Chinese ontwerp gebaseer het. Daarna het hy na Chinese ontwerpe van skaaphuise gekyk en afgekom op iets wat hy glo in Namibiese omstandighede sal werk.
SKAAPHUIS
Bean het toe sy eie skaaphuis gebou wat sowat 12 m breed en 50 m lank is.
Dit bevat tien krale en het 'n 2 m-breë gang wat in die middel deur loop. “Dit is sodat die boskos met ‘n motorfiets met ‘n waentjie agterna ingery kan word,” het Bean gesê.
Hy sê die krale aan weerskante van die gang is 5 m breed en 10 m lank.
“Ek het gesien presies 30 ooie pas in ‘n kraal. Tans hou ek altesaam 250 kleinvee in die skaaphuis aan.”
Bean sê hy het reeds in Desember verlede jaar sy eerste bokke aangekoop.
“Ek het uitstekende stoetdorpers van me. Julia Burger van Gochas gekoop. Ek het ook op ‘n plaasveiling Van Rooy-ooie, asook Damara-Van Rooy-kruisings en bokke gekoop.”
BOSKOS
Bean sê hy het navorsing oor bosvoer gedoen.
“Ek het gelees dat prosopisbome in Australië fyngemaak en vir vee gevoer word. Ek het ook ontdek dat dit bykans dieselfde voedingskrag as lusern het.
“By Usakos groei tussen 100 en 200 ha uitheemse prosopisse.
“Ek het by die munisipaliteit aansoek gedoen en hulle het ingestem dat ek die bome mag snoei, maar nie heeltemal afkap nie. Dit is wat ons tans doen.”
Bean sê op die manier kon hy vyf vroue in diens neem wat die bome snoei en in sy boskosmasjien voer. “Tans maak ons gemiddeld ‘n halfton boskos per dag – soms ‘n hele ton.”
Bean sê die prosopisboskos word vir drie dae lank uitgedroog. “Dit bevat baie terpentyn in die blare, wat verdamp as dit droog is.
“Ons voeg dan melassa-stroop by wat ons met water aanmaak – net om die smaak van die boskos te verbeter. Boonop het die melassa ‘n bietjie vitamiene en minerale in, wat die vee ook benodig. Sowat 5% van die voer bestaan uit melassa.
“Dan voeg ons gewone geelmieliemeel by wat as deel van droogtehulp by plaaslike handelaars gekoop word.
“Die skape kos my in totaal N$1,68 per skaap per dag. Dit sluit arbeid in. Ons praat oor die duim van sowat N$2 per skaap per dag,” sê Bean.
“Die snoei van die bome kos sowat 40c per kg. Dit sluit arbeid- en vervoerkoste in. Die geelmieliemeel kos sowat N$210 per sak.”
Bean sê hy voer die kleinvee drie keer per dag. “’n Gewone skaap wat markgereed gemaak word, kry 1,2 kg voer per dag. Dit word in drie voedings opgedeel. ‘n Ooi wat ‘n lam het, kry 1,5 kg voer in totaal per dag.
EERSTE STAPPE
“Ek het aanvanklik jong bokkies op 15 kg ingekoop en net fyngekapte boskos gegee. Ek het gesien hulle tel 2,3 kg per week op.
“Daarna het ek die boerdery begin vergroot. Teen middel volgende maand bemark ons die eerste groep bokke en skape – sowat 100 stuks kleinvee.”
Bean sê hy wil volgende jaar nog ‘n skaaphuis opsit sodat hy altesaam 600 ooie kan aanhou, waarvan 100 per maand lam. Die opset behoort sowat 150 tot 180 lammers per maand te lewer, wat dan bemark kan word.
“Omdat hierdie skape nie in die veld loop en kos soek nie, verbruik hulle tot 40% minder energie.
“Omdat hulle onderdak staan het, ons ook nie probleme met roofdiere of diewe nie, wat andersins sou neerkom op ‘n verlies van tussen 20% en 30% van jou lammeroes,” sê Bean.
Bean sê sy vrektes staan op 1%. “Vrektes het voorgekom met skape wat hulle oorvreet het of dié wat ons ingekoop het en in ‘n baie swak kondisie was.”
Bean sê hy het die hidrofoniese kweek van mielies beproef om sy vee te voer, maar die probleem is dat die saad daarvoor uit Suid-Afrika moet kom en dit dan baie duur is. “Dan werk dit per kilogram te duur uit en is nie betalend nie,” het hy gesê. “My huidige opset is tans die goedkoopste vir die boer.”
Bean sê die krale word elke dag skoongemaak en die waterkrippe leeggetap. Ook hier het hy koste bespaar deur swart plastiekpakhouers as krippe in die krale te gebruik.
“Dit kan 40 liter water hou, dit is goedkoop en ons rus dit toe met ‘n klein balklep. Dertig skape drink wel nie gelyk daaruit nie,” sê hy.
“Ons dreineer sowat 400 liter ‘vuil’ water per dag, wat dan na ‘n tenk gelei word voor ons dit op ‘n stukkie aangeplante weiding gebruik.”
TEEL VERSUS AANKOOP
Bean sê as hy kleinvee op ‘n veiling wil aankoop, moet hy Otjiwarongo toe ry wat verder as 200 km is.
Boonop moet hy dan daar oornag omdat hy nie meer jonk is nie, en die diere se vervoer terug Usakos toe betaal.
“Aan die ander kant neem ‘n ooi vyf maande om te lam. Op my stelsel sal sy my oor die tydperk sowat N$300 kos, teen N$2 per dag. Haar lam moet vir nog twee maande onderhou word. Dan weeg hy 25 kg – dieselfde as ek hom op ‘n veiling sou koop. Hy kos my egter dan N$420.
“Op die veiling kos ‘n lam my meer as N$500. Ek kan dus die lam goedkoper self produseer as wat ek hom voor kan aankoop.”
Bean sê hy beplan ook om genetika in te span om ‘n skaap te produseer wat meestal tweelinglammers sal hê, wat vinnig groei en uitstekende moedereienskappe sal hê.
“Dit gaan daaroor om die skaap so gou as moontlik te kan bemark.
“Ek gaan my eie skaap teel. Ons gaan hom die Namib-wit noem en dit gaan ‘n kruising tussen ‘n witdorper-, ‘n Van Rooy- en Meatmaster-skaap wees.
SOMME WAT KLOP
Bean sê hy kom oorspronklik van ‘n plaas af en het ‘n goeie boederyagtergrond, maar was sy lewe lank ‘n sakeman.
“Ek en my vrou het op ‘n mini-plaas besluit, want dit is ‘n goeie belegging. Jy moet dit net baie goed bestuur en jy moet jou daaglikse koste per dier met ‘n arendsoog dophou.
“Dit is ‘n rekenaarboerdery en jy moet elke ding weeg. Jy weet byvoorbeeld mos jou ooi moet 2% van haar liggaamsmassa per dag eet. Jy moenie 3% verbysteek nie.”
Bean sê sy skaaphuis en alles daarbinne het hom N$67 000 gekos. Hy sê die kleinvee wat hy ingekoop het, was oorwegend baie maer en hy het gemiddeld tussen N$300 en N$450 per kop betaal.
“Van die skape het ek in die droogtetye teen N$320 per kop gekoop, ander teen N$350 en die duurste was stoetooie van N$1 400,” het Bean gesê.
“As jy 100 ooie kan hê wat elke maand lam en 150 skape kan bemark, kan jy ten minste N$150 000 verdien. Gestel N$50 000 hiervan gaan aan voerkoste, dan het jy steeds N$100 000 oor.
“Dit beteken jy kan jou infrastruktuur waarskynlik binne drie maande afbetaal en daarvandaan kyk jy net vorentoe.
“Die sleutel is egter dat jy oor die nodige kos moet beskik om die diere te voer,” het Bean gesê. “Voor iemand in so bedryf belê, moet hy seker maak hy het 250 kg tot 300 kg per dag om hulle te voer. Hy moet ook vasstel wat sy koste per dag gaan wees.”
Bean sê die suide van die land is byvoorbeeld oortrek met prosopisbome, asook riete wat in riviere groei.
“‘n Volwasse prosopisboom onttrek sowat 100 liter water per dag uit die grond, benewens dat dit inheemse plantspesies bedreig. Terselfdertyd het prosopis goeie voedingswaarde, mits dit droog- en fyngemaak word.”
Bean sê hy het ook nie honderdduisende aan ‘n boskosmasjien bestee nie, maar syne by ‘n plaaslike handelaar vir N$26 000 gekoop.
“Jy het nie nodig om so duur te betaal nie. Wag eers dat jy genoeg geld maak voor jy dit betaal. Jy het ook nie so ‘n groot boskosmasjien nodig as jy net 1 ton voer per dag wil maak nie.”
Bean kan by 081 2004 944 gekontak word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie