Vaarwel en welkom tuis, ou grote

Tielman vanlill
Die rugbywêreld groet ’n grote met Jacques Burger se bevestiging dat hy in sy laaste wedstryd vir Saracens teen Newcastle Falcons in Allianz Park in die Engelse premierliga opdraf waarna hy sy stewels vir goed gaan ophang.
Die wedstryd is Sondag om 15:10 Namibiese tyd (regstreeks op SuperSport 7).
Die 32-jarige Namibiese flank het sy land in 41 toetse verteenwoordig en sy verskyning by drie opeenvolgende Wêreldbekers gemaak waar hy sy land met onderskeiding verteenwoordig het – die laaste twee kere as kaptein.
Hy het in 2009 by Saracens aangesluit en het hom oor ’n tydperk van sewe jaar en meer as 100 wedstryde as een van die mees gevreesde plettervatters in internasionale rugby gevestig. Sy werktempo is bo verdenking en sy vertonings in Engeland was konstant onder die voorste spelers. Die klub het in dié era Engelse titels gewen en ook in Europese finale gespeel.
Burger wat met sy terugkeer in Namibië gaan boer, het oop kaarte gespeel oor sy besluit om dié sport vaarwel te roep.
“Sondag sal ’n baie spesiale tydperk in my lewe tot ’n einde kom. Dit is hartseer, maar soos ek tevore gesê het, ek speel rugby omrede ek daarvan gehou het en die spel lief het,” het hy aan The Guardian gesê.
“Toe ek klein was, wou ek met alle mag ’n professionele rugbyspeler word en ek was in die gelukkige posisie om my droom te kon verwesenlik. Dit was ’n ongelooflike reis. Ek kan met alle eerlikheid sê dat ek elke minuut by Saracens geniet het, want dit was my huis gewees vandat ek die dag hier aangekom het.”
Mark MacCall, direkteur van rugby by Saracens, het gesê: “Jacques was ’n ongelooflike speler en mens vir ons klub. Sy leiding en voorbeeld met sy onverskrokkenheid op die veld was goud werd. Elke keer wat hy opgedraf het, het hy alles gegee. Hy sal altyd as een van die ware groot geeste van Saracens onthou word. Ek hoop net dat ons hom Sondag met ’n welverdiende oorwinning kan groet.”
Die rugbyskrywer Chris Hewitt het só hulde aan die legendariese ysterflank gebring en gemeen dat die plaas van 14 000 hektaar waar Burger gaan boer, nie groot genoeg vir sy werkvermoë sal wees nie.
“You could be as blind as a bat and still identify Burger as the toughest of the tough, simply by listening to the percussive sound of his tackling. What is it that separates the special rugby player from the massed ranks of merely outstanding practitioners? That question can be answered in a hundred different ways, but we know this much: there is more to being special than having a skill-set to die for.
“Rugby is as much about the abstractions and indefinables of contact sport – guts, commitment, a pain threshold so high that it is lost somewhere among the clouds – as it is about the ability to wrong-foot an entire defensive line with a blind cut-out pass or a swivel of the hips. Jacques Burger was the strongest of men in a strong man’s game. 14,000 acres? Pah. He’ll have the whole lot dug before breakfast,” het Hewitt geskryf.

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer