Vaarwel, ou Grote
Henriette Lamprecht - Hy was een van die Afrikaanse joernalistiek se grootste minnaars, ’n grensverskuiwer, woordsmid, storieverteller en mentor.
Só is die veteraanjoernalis Des Erasmus (81) gister wyd gehuldig nadat hy gisteroggend op sy geliefde Swakopmund ná ‘n kort siekbed gesterf het.
‘n Loopbaan van woorde lê agter agter haar en noudat sy hulde moet bring aan ‘n man soos Desiderius Tertius Erasmus wil die woorde nie kom nie, sê Des se vrou en medejoernalis, Anneli.
"Hy was my steunpilaar, my mentor, my beste vriend. Daar is niemand wat meer vir ‘n professie gedoen het as juis hy nie, maar sy alles het hy nie net vir sy land, sy mense en sy loopbaan gegee nie, maar ook vir my. En soos die man wat hy was, sal hy nou sê draai weg van die graf en gaan met volharding voort met julle werk hier op aarde. Hy is met ‘n lied in sy hart saam met die Bootman oor die Groot Rivier. Des, ek sê koebaai," het sy gesê.
Chris Jacobie, ‘n voormalige redakteur van Republikein, het gister gesê joernalistiek in die algemeen en meer spesifiek die Afrikaanse joernalistiek het een van sy grootste minnaars verloor.
“Des Erasmus het nie net joernalistiek beoefen nie. Hy het ‘n verhouding met die land en die taal en die mense gehad,” het Jacobie gesê.
Hy sê Erasmus sal onthou word vir die grense wat hy verskuif het toe hy in die dae van apartheid by Die Suidwester die publikasie Die Joernaal vir agtergeblewe Afrikaanse gemeenskappe begin het.
“Hy het die taal van die onderdrukker die taal van die gelykmaker gemaak,” sê Jacobie.
“Hy het soveel passie en geesdrif vir joernalsitiek gehad dat die bedryf waarin hy gestaan het, te klein was om alles te absorbeer wat hy in hom gehad het.
“Ek onthou toe hy 70 geword het en hy my oor aftrede gevra het, het ek vir hom gesê die Here sal hom retire, ek gaan dit nie doen nie.”
Nog ‘n voormalige redakteur van Republikein, Estelle du Bruyn, onthou die dag wat sy Des in Desember 1981 as groentjie-joernalis ontmoet het.
“Sy ongelooflike kennis van die land, sy mense en politiek het hy ruim met my, ‘n onervare jong joernalis, gedeel,” het sy gesê.
Ook sy “wonderlike, fynskerp” sin vir humor wat immer teenwoordig was, selfs ná sy kankerdiagnose ‘n maand of wat gelede.
“Des was een van daardie joernaliste wat die vertroue van nuusmakers gewen het, wat gekies het om inligting nét met hom te deel. Ons het altyd gegrap stories kom na hóm toe, terwyl ander joernaliste daarvoor moet gaan grawe.”
Gwen Lister, voormalige redakteur van The Namibian, sê sy en Des het in die apartheidsjare gedurig koppe gestamp.
"Ons het min met mekaar te doen gehad omdat ons uiteenlopende sienings oor die rol van joernalistiek en die politiek van die land gehad het. Tog is ek jammer om te hoor van die dood van 'n man wat ek glo Namibië se langsdienende joernalis was," het Lister gesê.
Des was ‘n boorling van die Oos-Kaap, en reeds in sy studentejare het hy op sy eerste redaksie gedien, dié keer van Die Matie.
Vandat hy op 1 Augustus 1959 as nuuskadet by die destydse SAUK se kantoor in Windhoek ingeval het, het sy byna ses dekades van joernalistiek hom op die blaaie van Die Vaderland, Transvaler en Huisgenoot tot Die Suidwester en Republikein gebring. Nuusmakers met wie hy onderhoude gevoer het, het almal van Hendrik Verwoerd tot dr. Chris Barnard en ‘n voormalige wêreldswaargewigbokskampioen, Max Schmeling, ingesluit.
Eerbewyse was daar baie en het onder meer ‘n toekenning as die gemeenskapspers se Joernalis van die Jaar in Suider-Afrika, sowel as ATKV-Afrikoon en ‘n ATKV–oorkonde ingesluit.
Met sy 80ste verjaardag verlede jaar was sy antwoord oor hoekom hy ná soveel jaar steeds skryf: “Ek het maar nou die dag my vakleerlingskap voltooi, mag ek dan nie ‘n bietjie werk ook nie?”
Des word oorleef deur sy vrou en medejoernalis, Anneli, drie dogters Francine, Anneli en Leana, skoonseuns Dietlof, JP en Leon, 10 kleinkinders, twee agterkleinkinders en ‘n suster.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie