Vakansiegangers strooi vragte rommel in Dorob

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme smeek dat die land netjies gehou moet word.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die Dorob Nasionale Park wat strek vanaf suid van Walvisbaai, deur Swakopmund en noord verby Hentiesbaai is oor die afgelope feesseisoen só met rommel besoedel dat sedert Maandag reeds 480 swartsakke vol opgetel is.
Volgens die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme se woordvoerder, mnr. Romeo Muyunda, duur die opknappoging deur beamptes van die ministerie se kantoor op Swakopmund voort.
Die ministerie is baie teleurgesteld om te sien hoe vakansiegangers die omgewingsveiligheid en reëls van die nasionale park verontagsaam, sê hy.
“Gestrooide rommel kan oral gesien word, insluitend op ons strande, sandduine en die algemene omgewing. Ons veroordeel hierdie tipe onverantwoordelike gedrag en moedig aan dat reisigers en vakansiegangers in die toekoms nie hul gemors agterlaat nie, maar op ’n verantwoordelike manier daarvan ontslae raak,” sê hy.
Hy sê enige vrywilligers wat wil help om die rommel op te ruim, kan die ministerie se Swakopmund-kantoor nader. Intussen word nog gewerk aan die hersiening van die omgewingsbestuurswet, met die oog op die skepping van blitsboetes vir rommelstrooi.
“Ons is maar steeds toegeeflik vir nou, of binne parkgebiede kan ons ingevolge die parkreëls boetes afdwing,” sê hy.

Op 17 Desember het Muyunda reeds ’n beroep op Namibiërs gedoen om die omgewing te beskerm en die land skoon te hou.
“Die neiging moet ontmoedig word dat rommel uit motorvensters gegooi word, of by stilhouplekke langs die pad gestrooi word, in ons stede en dorpe, plase en bewaringsgebiede, nasionale parke en in die natuur. Bestuurders en passasiers moet hul eie vullis wegry tot by die naaste vullisdrom,” het hy geskryf.
Toe reeds het hy die trant van vorige jare uitgewys en gewaarsku dat baie rommel langs die kus, op strande en in die duine beland het.
“Ons kusdorpe is omring deur nasionale parke. Rommelstrooi maak ons omgewing, veral ons bewaarde gebiede, onaantreklik vir besoekers en is ook skadelik vir die ekosisteem,” sê hy.
Die ministerie herinner die publiek dat rommelstrooi en onverantwoordelike storting van rommel die grond kan besoedel, die lug en die water met gifstowwe, chemikalieë en siekteveroorsakende bakterieë besmet, sê hy.
“Plaas jou gemors in die vullisblik, of hou ’n sak in die kar om rommel op te ruim tot dit op die regte plek weggegooi kan word.”
[email protected]

FOTO’s verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!