Vakbond en ECN kruis swaarde
Vakbond en ECN kruis swaarde

Vakbond en ECN kruis swaarde

Of griewe van ongelukkige werknemers van die verkiesingsbeheerliggaam ’n impak op 27 November gaan hê, is onduidelik.
Denver Kisting
Denver Kisting – Mnr. Protasius Andowa van die staatsdienswerkersunie (Napwu) sê hulle sal vandag onthul of die nasionale en presidensiële verkiesing geraak sal word deur ongelukkige werknemers van die Verkiesingskommissie (ECN).

Napwu gaan vandag én môre ’n klagskrif aan die voorsitter van die ECN-raad, adv. adv. Notemba Tjipueja, oorhandig.

Hierin is werknemers se griewe vervat.

Andowa het gister by navraag aan Republikein gesê: “Ons oorweeg in die klagskrif of daar ’n impak op die verkiesings sal wees of nie. Ek wil nie nou daarop kommentaar lewer nie omdat die betoging môre is.”

Hy was ewe vaag oor waarmee die werknemers se griewe verband hou.

Volgens Andowa bevat die dokumente wat by die twee geleenthede aan Tjipeuja oorhandig sal word dieselfde inligting.

Die vakbond het om strategiese redes op twee geleenthede besluit, het hy erken.

Vandag is die dag waarop onafhanklike kandidate vir die 27 November-verkiesing benoem word, terwyl Vrydag die sperdatum vir alle nominasies is.

Die finale lys van bevestigde kandidate word ook na verwagting Vrydag bekend gemaak.

Napwu het die media gister na die twee geleenthede se “vreedsame betogings” genooi wat vir die etensuur beplan word.

Mnr. Theo Mujoro, hoofverkiesingsbeampte, het gister onderneem om op vrae oor die jongste verwikkelinge te reageer. Hy het teen gistermiddag nog nie gereageer nie.

Finansieel gerat?

Die koerant wou ook weet of die ECN finansieel vir die komende verkiesings gerat is.

Die ECN het vroeër gesê hy benodig meer as N$300 miljoen bykomend vir vanjaar se Nasionale Vergadering- en presidensiële verkiesings.

Mujoro het dié aankondiging in ’n onderhoud met die nasionale uitsaaier, die NBC, gemaak.

Volgens die halfjaar-begrotingshersiening van Oktober verlede jaar gaan die kommissie in die komende begrotingsjaar egter met minder as N$80 miljoen moet klaarkom.

Luidens dié dokument is N$78,7 miljoen vir die 2019-’20-boekjaar begroot.

Vroeër vanjaar, toe mnr. Calle Schlettwein, die minister van finansies, die huidige begroting ter tafel gelê het, is N$288,4 miljoen vir die ECN bewillig.

Tydens die vorige nasionale verkiesing in 2014 is N$374,7 miljoen begroot en N$361,2 miljoen bestee.

Schlettwein sal na verwagting volgende week dié jaar se halfjaarbegroting in die Nasionale Vergadering (NV) bekend maak.

In die onderhoud met NBC het Mujoro gesê hy weet die land het tans ander finansiële prioriteite, maar ’n verkiesing is ’n duur oefening – veral wat logistiek betref.

Onder meer, sê Mujoro, word meer geld benodig omdat personeel vir die aanvullende registrasieproses gewerf moet word.

“Ons is bewus van die feit dat daar baie mededingende verantwoordelikhede is waarna die regering moet omsien, maar die reaksie van die tesourie was nogal oukei,” het hy gesê.

Mujoro het voorts gesê 1 000 voertuie word vir die verkiesing benodig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!