• Tuisblad
  • Sake
  • Vakbond, OBK vergader oor groepsgeding teen Steinhoff
Vakbond, OBK vergader oor groepsgeding teen  Steinhoff
Vakbond, OBK vergader oor groepsgeding teen Steinhoff

Vakbond, OBK vergader oor groepsgeding teen Steinhoff

Die groepsgeding se 40 verweerders sluit onder meer Deloitte, Absa, Standard Chartered Bank, Commerzbank en PSG Capital in.
Nellie Brand-Jonker – Verteenwoordigers van een van die groot vakbonde in die staatsdiens en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) vergader Dinsdag met die regsfirmas wat ’n groepsgeding in Suid-Afrika teen Steinhoff aanhangig gemaak het.

Die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA) sê in ’n verklaring daar gaan met die verteenwoordigers van die International Litigation Group (ILG), wat tans vergaderings met instellings en gewone beleggers in die land hou, vergader word.

“Die VSA, sy regspan en verteenwoordigers van die OBK sal ILG se verteenwoordigers Dinsdag ontmoet om die moontlikheid te bespreek om deel van die internasionale litigasie te word teen 40 verweerders, insluitende Steinhoff, Deloitte, sekere banke, en talle huidige en voormalige direkteure van Steinhoff.”

Die groepsgeding is in Augustus in Gauteng gebring, het Netwerk24 voorheen berig.

Dit is onder meer gemik teen direkteure soos Christo Wiese, voormalige voorsitter, Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, en selfs teen Jannie Mouton, voorsitter van PSG, wat vir jare ’n direkteur was tot in Mei 2016.

“Die VSA gaan met hulle vergader om saam te werk in ’n verenigde litigasiegroep, om onder meer vir skikkings met die verweerders te onderhandel sodat die eise afgehandel kan word.”

Die VSA glo daar is ’n voordeel om die groepsgeding in Suid-Afrika te bring omdat dit toelaat dat eise vir vergoeding vir beleggingsverliese gebring kan word van aandeelhouers wat voor en ná Steinhoff se inkorporasie in Nederland in Desember 2015 belê het.

“Sodoende kan ou en nuwe Steinhoff-aandeelhouers vir soveel moontlik van hul verlies vergoed word,” sê Ivan Fredericks, hoofbestuurder van die VSA.

Die vergadering sou gister laatmiddag in Sandton, Johannesburg, plaasvind.

Fin24 het reeds einde Januarie berig die VSA het die OBK genader om deel van ’n groepsgeding teen Steinhoff te word.

Fin24 het Maandag berig verteenwoordigers van die International Steinhoff Litigation Group (ISLG) het in Kaapstad beleggers ingelig oor die vordering wat met die Suid-Afrikaanse groepsgeding gemaak is wat in Augustus in die hooggeregshof in Johannesburg aanhangig gemaak is. Die ISLG is ’n groep regsfirmas wat aandeelhouers in Steinhoff van Amerika, Nederland, Duitsland en Suid-Afrika verteenwoordig.

Die groepsgeding se 40 verweerders sluit in Deloitte, Absa, Standard Chartered Bank, Commerzbank en PSG Capital.

Die hoop is om sowat R185 miljard se vergoeding vir aandeelhouers te kry.

Alexander Reus, besturende direkteur van die internasionale regsfirma DRRT, wat een van die regsverteenwoordigers is, en Zain Lundell van die Suid-Afrikaanse regsfirma LHL Attorneys, meen ’n internasionale skikking sal voordelig vir alle aandeelhouers wees, in teenstelling met mededingende individuele siviele sake wat deur instellings in Nederland en Suid-Afrika gebring word.

Hulle sal dus nie daarvan hou as die VSA en OBK op hul eie ’n siviele eis bring nie.

“ ’n Internasionale oplossing wat almal dieselfde hanteer, is die lig aan die einde van die tonnel,” sê Reus.

Hy waarsku dat private eise die potensiaal vir ’n internasionale oplossing in die wiele kan ry en Steinhoff tot bankrotskap kan dwing.

Reus sê hoe langer dit neem om die litigasie van aandeelhouers teen Steinhoff te voltooi, hoe kleiner is die kans dat aandeelhouers enige vergoeding vir hul verliese sal kry, berig Fin24. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!