Vakbonde maak geraas

Nafau beplan vandag ’n staking teen Shoprite en Natau vaar teen TransNamib se bestuur uit.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Namibiese Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) se algemene sekretaris, mnr. Jacob Penda, sê hul landswye staking teen Shoprite begin om seweuur vanoggend.

Penda sal om 07:30 ’n aankondiging by Maerua Mall-inkoopsentrum maak om die nasie in te lig oor die beplande aksie teen die reusekettingwinkel en sy vennote. “Al ons lede sal daar wees,” sê hy.

WhatsApp-boodskappe het gister ’n beroep op die publiek gedoen om vanaf 21 Desember nie inkopies by Shoprite, Checkers of U Save-winkels te doen nie.

Mnr. Herbert Jauch het reeds Maandag as voorsitter van die Economic and Social Justice Trust hul solidariteit vir die verbruikersboikot bekend gemaak.

Hy sê Shoprite oortree die Namibiese arbeidswet, is onregverdig en buit werkers uit.

“Besluite oor werknemersbelonings en werksomstandighede word in Suid Afrika geneem en Shoprite Namibia voldoen nie aan sy pligte om gesamentlik en in goeie trou te onderhandel nie,” skryf hy.

“Ons doen ook ’n beroep op die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping om te verseker Shoprite hou by sy wetlike verpligtinge.”

Jauch sê die arbeidswet beskerm werkers wat aan ’n wettige staking deelneem en dit verhoed ook die gebruik van plaasvervangers.

“Voor die feestyd doen ons dus 'n beroep op ons mede-Namibiërs om solidariteit te toon met diegene wat steeds uitgebuit word. Om 'n boodskap aan Shoprite te stuur dat ons nie ongeërd is teenoor die lyding van ander nie. Laat ons almal Shoprite en sy filiale boikot totdat die maatskappy aan sy werkers se eise voldoen,” skryf hy.

Vrae aan Shoprite Namibia was teen druktyd onbeantwoord.

Intussen het mnr. John Kwedhi, sekretaris-generaal van die Namibiese Vakbond vir Vervoer- en Verwante Werkers (Natau), Maandag teen TransNamib se uitvoerende hoof, mnr. Johny Smith, uitgevaar. Volgens Kwedhi word treindrywers en hul assistente sedert Mei nie oortyd betaal nie. Werknemers het oor die algemeen geen salarisverhoging sedert 2018 ontvang nie, terwyl raadsbesluite nie ten volle uitgevoer word nie, sê Kwedhi.

“Dit moet duidelik wees dat TransNamib se werkers en ons lede nie stil sal sit en kyk hoe die maatskappy onder die huidige leierskap ondergaan nie. Ons sal sonder huiwering reageer om werksekuriteit vir onsself en die toekoms van Namibië te verseker. Ons weet as werkers wat nodig is om hierdie maatskappy vorentoe te neem, en sal self die politieke leierskap nader om die maatskappy te red, onder die leierskap van Natau en die Nasionale Unie van Namibiese Werkers (NUNW),” skryf hy.

Smith het egter gister in ’n verklaring die vakbondleier se klagtes verwerp.

Hy sê die bestuur van TransNamib is geskok deur die foutiewe stellings wat die vakbond op aandring.

“As bestuur het ons herhaaldelik die feit dat Natau so baie kwessies verwar, uitgelig,” sê hy.

Hy sê daar is tevergeefs vir spesifieke voorbeelde van wanbetaling vir regstelling gevra.

Smith sê TransNamib het op 4 Desember met ’n bemiddelaar van die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping en die vakbond vergader. Smith sê dit duidelik gestel: “Die maatskappy is bloot nie in staat om tans verhogings te betaal nie. Weens die maatskappy se swak finansiële posisie, maar nog meer deur die impak van die Covid-19-inperkings, wat meer as 50% van ons inkomste gesnoei het. Die nasionale ekonomie en veral die maatskappy se rekeninge bly steeds ’n uitdaging,” sê hy.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!