Vakbonde pleit vir Air Nam se behoud
Vakbonde pleit vir Air Nam se behoud

Vakbonde pleit vir Air Nam se behoud

Werknemers van Air Namibia verwerp die likwidasieplan eenparig.
Augetto Graig
Augetto Graig en Ronelle Rademeyer – Vakbonde wat Air Namibia se werknemers verteenwoordig, dring daarop aan die regering moet pa staan vir die wanbestuur van die nasionale lugredery, en geld gee vir die afbetalingsreëling met Challenge Air SA se likwidateur, mnr. Anicet Baum.
Hulle verwerp ook enige planne om Air Namibia “toe te maak”.
“Hou julle hand van ons lugredery af. Red die ekonomie. Beskerm ons werk,” sê Air Namibia se bykans 700 werknemers.
Die Namibiese Vervoerwerkersunie (Natau), die Namibië Kajuitpersoneelvakbond (NCCU) en die Namibië Vlieëniersvereniging (Napa) het gister voor die deur van Air Namibia se hoofkantoor in Windhoek hul eise bekend gemaak.
“Ons versoek die aandeelhouer om verantwoordelikheid te neem vir die rol en invloed wat uitgeoefen is in die mislukking van die lugredery,” het die president van Natau, me. Ndapewa Amupanda, gesê. Aan haar sy was mnr. Willem Christiaans, sekretaris-generaal van NCCU, en mnr. Heino Jakob, president van Napa.
Volgens Amupanda is Air Namibia onvervangbaar. “Die indirekte positiewe finansiële en ekonomiese impak van hierdie lugredery, soos direkte en indirekte werksgeleenthede, toerisme, besigheidsbeleggings in baie ander sektore, kan nie deur ander privaat lugrederye in hierdie land volgehou word soos Air Namibia dit gedoen het nie,” sê sy.
Volgens Amupanda was die regering sentraal in die redery se mislukking. “Ons moet eerlik en oop wees oor hoe Air Namibia in hierdie situasie beland het. Dit is weens jare en jare se wanbestuur, vererger deur direksies wat óf nog nooit die besigheidsomgewing verstaan het nie, óf op eie gewin ingestel was, dat ons nou hier is,” sê sy.
Politieke inmenging in operasionele sake en die aandeelhouer se konflik van belange, die aanstelling van onbevoegte mense in sleutel- en noodsaaklike posisies, en die gebruik van onkwalifiseerde mense in ’n dinamiese besigheidsomgewing, is waar die probleme ontstaan, sê die vakbonde.
“Dit is duidelik uit die Challenge Air SA-hofsaak, dat die regering nie die begeerte of die politieke wil het om die redery uit hierdie doodloopstraat te red nie,” sê Amupanda.
Sy sê Air Namibia kan omskep word en dit is nie nodig om gelikwideer te word nie. Dit is die huurooreenkoms en die lae gebruik van die toerusting, wat vlugte met die Airbus A330-vliegtuie op die Frankfurt-roete belemmer.
“Die roete self is winsgewend,” hou sy vol. Volgens die vakbondleiers is die bedrag van N$7 miljard wat glo nodig is om Air Namibia weer op die been te kry, ’n oordrywing. “Is die Namibiese publiek te midde van alles wat Covid-19 aan die ekonomie gedoen het, gewillig om soveel geld oor te laat betaal aan ’n Amerikaanse maatskappy bloot oor ’n paar elemente binne die regering, wat doelbewus en teen enige koste, die lugredery wil toemaak?” wou sy met verwysing na die verhuringkontrak met Castlelake Aviation in Amerika weet.
Mnr. Leon Jooste, minister van staatsondernemings, het gister in ’n onderhoud op Republikein se Facebook-geselsprogram, Kletskompas, gesê die regering het waarborge verskaf vir die twee Airbus A330’s, asook twee van die Airbus A219’s in die redery se vloot. Laasgenoemde vliegtuie se huurtermyn het verstryk en dit moet teruggaan na Castlelake Aviation, maar onder streng voorwaardes oor die toestand waarin dit moet wees.
Die waarde van hierdie waarborge is nagenoeg N$2,5 miljard. Hy sê onderhandelinge oor hierdie kontrakte is ver gevorder. Vrese het tot in regeringsgeledere geheers dat Castlelake Aviation die waarborge sal oproep as Air Namibia likwideer word. Die rederye se laste oorskry sy bates en daar is volgens Jooste nie salf te smeer aan die bankrot toestand waarin hy verkeer nie.
Met verwysing na die nuwe strategiese omkeerplan en die N$7 miljard wat dit sal kos, sê Jooste dit was die situasie vóór die Covid-19-pandemie en dit sal nou baie meer kos om die redery te behou.
Hy sê ’n aankondiging oor Air Namibia se toekoms kom binnekort – dalk al so vroeg as volgende week. Intussen sal ’n nuwe, tydelike direksie vandag aangekondig word. Dit volg nadat die direksie onder voorsitterskap van mnr. Escher Luanda eergister bedank het. Wetgewing bepaal die maatskappy moet te alle tye ’n direksie hê.
Die vakbonde het intussen gister versoek om met die kabinetkomitee op die tesourie, onder leiding van minister Ipumbu Shiimi van finansies te vergader sodat voorstelle oor die pad vorentoe bespreek kan word.
[email protected]
[email protected]

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!