Vakbonde: SADC mu00f3u00e9t by Zim-krisis ingryp
Vakbonde: SADC mu00f3u00e9t by Zim-krisis ingryp

Vakbonde: SADC móét by Zim-krisis ingryp

Die visepresident van ’n nasionale unie het teenoor die Zimbabwiese president, regering en SADC-leiers uitgevaar.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die Namibiese sambreelvakbond, die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW), het leiers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) veroordeel, wat oor die Zimbabwe-krisis swyg en hulself vir die huidige krisis in dié land blind hou.

"As 'n arbeidsorganisasie bevraagteken ons die vermoëns van SADC-leiers wat hulle doof hou vir die Zimbabwe-regering se teistering van en onmenslike dade teenoor burgers," het die visepresident van die NUNW, mnr. Phillip Munenguni, gister tydens 'n nuuskonferensie in die hoofstad gesê.

"Die NUNW is besorgd daaroor en betreur dit dat SADC-leiers swyg oor die voortdurende onwettige inhegtenisnemings en aanhouding van vakbondleiers, gewone burgers en gemeenskapsaktiviste wat hul grondwetlike en menseregte in die lig van die brandstofprysstyging uitoefen," het hy gesê.

Volgens hom is die vakbond regstreeks in verbinding met Zimbabwiese vakbondleiers op voetsoolvlak en styg die getal mense wat hul lewens verloor en aangehou word.

Munenguni het 'n beroep op SADC- en Afrika-unie-leiers gedoen om onmiddellik by die krisis in die buurland in te gryp.

Die NUNW se boodskap aan Zimbabwe se president, mnr. Emmerson Mnangagwa, en sekuriteitsmagte is dat die gebruik van brutaliteit as 'n daad om mense stil te maak nooit ’n oplossing vir die land se ekonomiese agteruitgang sal wees nie.

“Die barbaarse aard van die Zimbabwiese regering getuig daarvan dat die huidige administrasie van Emmerson Mangangwa nie daarin slaag om die land te regeer nie. Marteling, onwettige inhegtenisnemings, en die doodmaak van onskuldige mense is dade van onnosele leiers," het Munenguni gesê.

Hy het gesê die president moet onthou geen leier kan lyke regeer nie.

Hy het die Zimbabwiese regering gewaarsku 'n land wat deur middel van geweerlope regeer word, sal nie mense se harte wen nie, en sal onstabiliteit in sy administrasie skep.

“Word die Zimbabwiese regering deur ’n bloeddorstige politieke elite bestuur, wat grudade teenoor ongewapende, onskuldige mense pleeg?” het Munenguni gevra.

“Die NUNW smeek soldate en polisie om in die spieëls van hul siele te kyk, hul oë oop te maak en hulself af te vra waarom hulle gebruik word om hul eie broers en susters dood te maak. Dít om die mag en beheer van ’n gierige, korrupte, politieke elite te beskerm, wat niks vir hulle omgee nie.”

Munenguni het gevra: “Hoeveel word polisiebeamptes en soldate betaal om hul eie broers en susters te skiet? Hoe slaap julle snags in die wete dat julle verantwoordelik vir iemand se pyn en lyding is, bloot omdat julle die gierige politieke elite beskerm?”

Hy het die Zimbabwiese regering daarvan beskuldig dat hulle die internet afgesny het om hul barbaarse en onwettige skending van menseregte toe te smeer en om vakbondleiers en aktiviste te muilband.

“Die afsny van die internet was om ongewapende, weerlose mense te martel en te vermoor, en te verhoed dat die wêreld dit sien.”

Munenguni het bevestig die NUNW staan in samehorigheid met hul susterorganisasie, die Zimbabwe Kongres van Vakbonde (ZCTU), en steun hul mandaat om vreedsame optogte te hou.

Die NUNW doen ’n beroep op alle vakbonde wêreldwyd, internasionale gemeenskappe, burgerlike organisasies en kerkleiers om die “barbaarse aanvalle” op Zimbabwiërs ten sterkste te veroordeel.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer