Vakbondgroep veroordeel afbreek van huise
Vakbondgroep veroordeel afbreek van huise

Vakbondgroep veroordeel afbreek van huise

Ekonomiese agteruitgang is nie 'n verskoning vir swak dienslewering nie, sê die sambreelorganisasie.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die Namibiese sambreelvakbond, die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW), veroordeel die afbreek van huise in informele nedersettings.

"Die NUNW en sy geaffilieerdes is geskok en ontsteld omdat dorpsrade, munisipaliteite en ander instellings onder die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling arm mense, wat nie duur huise kan bekostig nie, se huise vernietig," het mnr. Phillip Munenguni, visepresident van die NUNW, Donderdag by 'n nuuskonferensie in die hoofstad gesê.

"Ons mandaat begin en eindig by werkers. Informele nedersettings het ’n oorvloed werkers wat betekenisvolle bydraes tot die ekonomie van ons geliefde Namibië maak," het Munenguni gesê.

"Ons het gesien hoe hierdie dorpsrade huise vernietig, weerlose werkers dakloos gelaat het en aan ongunstige weertoestande uitgelewer het."

Munenguni sê leiers van die land moet in gedagte hou die mense wie se huise vernietig word, is werkers en kiesers wat skoolgaande kinders het.

"Baie van hierdie huise of sinkhuise word sonder 'n hofbevel vernietig, en leiers staan en kyk toe hoe weerlose, arm mense se tuistes afgebreek word," het Munenguni gesê.

Die vakbondgroep en sy geaffilieerdes veroordeel die onwettige afbreek van huise ten sterkste, het hy gesê.

Volgens hom is die vakbondfederasies bewus daarvan dat huise van politici, polisiebeamptes en mense met politieke bande in sekere gebiede op verskeie dorpe nié vernietig word nie.

Die NUNW doen 'n beroep op alle leiers vir die verbetering van dienste en dat ekonomiese agteruitgang nie as rede vir swak dienslewering aan die publiek aangevoer word nie.

“Om met die afbreek van huise voort te gaan, sal veroorsaak dat mense vertroue in leiers verloor. Dit sal tot chaos lei as oplossings nie gevind word nie," het Munenguni gesê.

"Ons het die kiesers grond belowe, maar ons slaag nie daarin om dienste aan ons mense te lewer nie. Mense moenie grond besit wanneer hulle in hul grafte is nie; ons moet grond aan hulle gee, wat hulle ’n tuiste kan noem, terwyl hulle leef.

"Die NUNW moedig mense ook nie aan om grond te gryp of die huise van die armes te vernietig nie, maar om wetlike prosedures te volg. Gehoorsaam bestaande wette," waarsku hy.

Voorts doen die NUNW 'n beroep op die ministerie van justisie om alle diskriminerende wette wat Namibië van die apartheidsregering geërf het, onmiddellik te herroep.

"Beteken dit die ministerie van justisie en Namibië se regering is onbevoeg om wette te maak wat die nasie pas? Of het die ministerie van justisie 'n gebrek aan menslike hulpbronne?" het Munenguni gevra.

Hy het gesê 2019 is die jaar van rekenskap, maar "rekenskap moenie net praatjies wees nie".

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer