Valke woedend oor 'leë' klagte teen Jooste

Asof die probleme wat Steinhoff ondervind nie ernstig genoeg is nie, het die maatskappy nou ook die argwaan van die eenheid van ernstige handelsmisdaad van die Suid-Afrikaanse polisie op die hals gehaal.
Nellie Brand-Jonker



Die klagte teen Markus Jooste wat Steinhoff by die Valke aanhangig gemaak het, is “kwaadwillig”, sê genl.maj. Alfred Khana, hoof van die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad.

Hy het verlede Woensdag aan die gesamentlike parlementêre komitees wat ­ondersoek na die gebeure by Steinhoff instel, te kenne gegee Steinhoff se ­direksie het dié klagte ingedien “omdat hy moes”.

Drie sake oor Steinhoff word ondersoek. Twee is in Stellenbosch aanhangig gemaak is en een in Sandton, ­Johannesburg.

Daarby het die Valke 'n verklaring van 'n belangstellende party gekry en hy voorsien 'n stortvloed van ­belangstellende partye wat ­individuele ­verklarings gaan aflê of nog sake ­aanhangig gaan maak.

Van middel Maart af skakel die Valke ook met ander instellings wat ondersoek instel, soos die Raad op ­Finansiële Dienste (RFD) en die ­Reserwebank.

In die komende weke gaan hulle hul ondersoekplan hersien.

Khana het aan die staande ­komitees gesê LP's is onder die indruk dat Steinhoff 'n klag ingedien het.

“Ek wil dit baie duidelik maak, ­Steinhoff het nie 'n saak by die Valke aangemeld nie. Hulle het ons 'n verslag gegee, 'n art. 34-verslag.”

Art. 34 van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van ­Korrupte Bedrywighede verplig maatskappy­amptenare om sekere werklike of beweerde misdade aan te meld.

“Dit was 'n leë art. ­34-verslag. Ek sê sonder enige bybedoeling dit is leeg omdat dit is wat dit is.”

Die verslag is by die Valke ingedien op die vooraand van Steinhoff-direkteure en -hoofbestuurders se eerste verskyning voor die parlementêre ­komitees in Januarie, sê Khana.

“Toe ek die verslag sien, was ek woedend omdat daar niks in die verslag is nie. Dit is kwaadwillige klagte . . . die verslag sê nie eens die persoon doen dit verkeerd nie . . .”

Die verslag is deur dr. Steve Booysen, voorsitter van die ouditkomitee van Steinhoff se direksie, ingedien. Khana sê 'n gedetailleerde verklaring word tans van Booysen gekry.

Yunus Carrim, voorsitter van die portefeuljekomitee oor finansies, het kritiek op die aard van die klagte ­uitgespreek. Robert Driman van Werksmans, Steinhoff se regsverteenwoordiger, sê die verkeerde indruk word gewek dat dit 'n “siniese klag” is. “Dit kan nie verder van die waarheid wees nie. Maar dit is wel so dat daar nie nou 'n duidelike saak is nie. Dit is 'n ondersoek wat ontwikkel.”

Volgens Khana kyk die Valke intussen met watter owerhede oorsee hulle kan saamwerk. Deur Interpol het hulle al kontak gemaak met die Nederlandse en Duitse polisie.

“Ons het nog nie 'n verdagte nie. Daar is net 'n aanduiding van 'n verdagte omdat daar niks is wat na enigiemand wys nie. Ons is heeltemal oorgelaat aan die genade van die verslae wat ons nog moet kry.”

Dit sluit in die verslag wat PwC nog moet voltooi oor sy forensiese ondersoek.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer