Vals hoop op kernprogram het Necsa geknou
Vals hoop op kernprogram het Necsa geknou

Vals hoop op kernprogram het Necsa geknou

Die korporasie se voorsitter het verduidelik verliese gely was weens verkoopsteikens wat nie gehaal is nie.
Francois Williams – ’n Hoop wat geplaas is op oudpres. Jacob Zuma se kernkragbouprogram van 9,6 GW wat toe nooit gerealiseer het nie, het grootliks tot die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika (Necsa) se huidige probleme gelei.

Dit het Dinsdag geblyk uit antwoorde van dr. Rob Adam, nuwe voorsitter van Necsa, aan die parlement se portefeuljekomitee oor energie.

Pelindaba Enterprises is waar die meeste van Necsa se verliese tans gely word, het Adam verduidelik.

Pelindaba Enterprises het oorspronklik ’n hele reeks toerusting vervaardig soos drukketels en pype vir nie-kernkrag-toepassings.

Maar ter voorbereiding van die verwagte kernkragbouprogram wat intussen deur ’n beslissing van die hooggeregshof in 2017 stopgesit is, het Pelindaba Enterprises hoogs gespesialiseerde sertifisering gekry om werk van kernkrag-gehalte te lewer. Maar dit het beteken dit kon nie meer ander soort vervaardiging doen nie, want dit sou dié toerusting te duur maak. Adam verduidelik dit kan lank duur om al jou prosesse weer te verander as jy eers op kernkrag-standaarde moet werk.

Pelindaba Enterprises het tans egter niks anders op sy bestelboek as om ’n pypleiding vir die Koeberg-kernkragstasie te vervaardig nie.

Adam het verduidelik die verliese by die Necsa-filiaal Pelchem is bloot weens verkoopsteikens wat nie gehaal is nie – en die uitgawes het gevolglik meer as die inkomste geword.

Oudit

Die ouditeur-generaal het in die verlede die oudit van Necsa uitgekontrakteer, eers aan die ouditgroep EY en daarna aan KPMG. Voorheen het Necsa ’n skoon oudit gekry. Toe die ouditeur-generaal die oudit verlede jaar self doen, het Necsa nou skielik 12 vrywaringskennisgewings.

Mbali Feka, finansiële direkteur van Necsa, het verduidelik die oorsaak vir die laat jaarstate van Necsa spruit uit die probleme by Pelchem wat geld wou leen. Om geld te kan leen moet die instelling ’n skoon oudit kry, en daarom het Necsa uitstel gevra om Pelchem se oudit eers teen einde Desember af te handel. Necsa het nie ’n sterk genoeg balansstaat om Pelchem uit interne bronne te help nie.

Intussen was NTP wel gereed om sy state te laat afteken.

NTP nie te koop

Adam het bewerings van Kevin Mileham, DA-lid van die komitee, ontken dat NTP te koop aangebied word. Die Amerikaanse klant LMI het wel NTP se aanleg besoek in die tyd wat dit deels produksie gestaak het, maar dit was uit kommer oor die produksie en dit was ’n vergadering van ingenieurs oor tegniese aspekte. Daar is geen aanbod van LMI om NTP te koop nie.

Tina Eboka, besturende direkteur van NTP, sê LMI koop $30 miljoen se produk per jaar van NTP, is op die New Yorkse aandelebeurs genoteer en het nog nooit belangstelling getoon om NTP te koop nie.

Oorsaak van sluiting

Die sluit van NTP se produksie in November 2017 het ontstaan toe ’n instandhoudingsbeampte teen einde Oktober kalibrasie verkeerd gedoen het. Dit het ’n oortreding van sekere standaarde geskep en die perke van sekere drukstelsels was nie gebalanseer nie. In ’n ondersoek van die nasionale kernreguleerder is ander foute ontdek. Die vervaldatum van die kalibrasiegas wat gebruik is, was reeds verby, hoewel die gas in die laboratorium reg gewerk het.

Volgens Eboka was die invloed van die produksiesluiting nie so erg op NTP se winssyfers nie, want hy was teen Oktober 2017 reeds vooruit op sy begroting. Sy wins vir die boekjaar was uiteindelik net R2,3 miljoen minder, volgens Eboka. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!