Vals SMS oor dreigende oorlog met Iran rondgestuur
Vals SMS oor dreigende oorlog met Iran rondgestuur

Vals SMS oor dreigende oorlog met Iran rondgestuur

Petrus Malherbe - Die Amerikaanse weermag het 'n waarskuwing uitgereik dat hy nie besig is om burgerlikes op te roep tot 'n oorlog met Iran nie.

Bedrieglike SMS'e het in die laaste paar dae opgeduik wat aanvoer die Amerikaanse weermag is besig om gereed te maak vir oorlog met Iran, en dat die ontvanger van die SMS “so gou as moontlik” by sy naaste werwingskantoor moet aanmeld vir “onmiddellike vertrek na Iran”.

In 'n verklaring sê die weermag se afdeling vir die werwing van nuwe rekrute die SMS is fopnuus.

Spanning tussen Amerika en Iran het wel in onlangse dae 'n hoogtepunt bereik in reaksie op die Amerikaanse lugaanval waarin genl.maj. Kassem Soleimani van Iran dood is.

Amerikaanse wetgewing bepaal dat burgerlikes tydens oorlog opgeroep kan word om diens te doen, maar só stap sal deur die kongres en die president aangevra en goedgekeur moet word.

Die laaste keer wat Amerika burgerlikes opgeroep het, was tydens die oorlog met Viëtnam in die 1970's.

Die weermag het benadruk dat die bedrieglike SMS'e asseblief geïgnoreer moet word, en dat niemand tronk toe gestuur gaan word sou hulle nie onmiddellik aanmeld vir oorlog nie.

Dit is nie duidelik wie die SMS'e uitstuur, of wat die motief daaragter is nie.

Intussen het Iran vroeg Woensdagoggend 'n missielaanval op militêre basisse in Irak geloods wat koalisiemagte, wat deur Amerikaanse soldate gelei word, huisves.

Die aanval was glo uit wraak vir Soleimani se dood.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer