Valutahandelaar soek sy duur goed terug
Valutahandelaar soek sy duur goed terug

Valutahandelaar soek sy duur goed terug

Die hoërhof sal eersdaags beslis of ’n jong sakeman oor wie se kop ’n strafsaak hang sy en sy besighede se duur bates mag terugkry.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die man midde-in ’n debakel oor buitelandsevalutahandel, mnr. Michael Amushelelo (28), eis dat die polisie sy spogmotors, duur elektroniese toerusting en sakedokumente teruggee.

Die owerhede het onlangs tydens sy en sy sakevennoot, mnr. Gregory Cloete (ook 28), se inhegtenisneming beslag gelê op verskeie bates, insluitend twee BMW’s – ’n bloue en ’n swarte – ’n bruin en rooi Mercedes Benz, ’n silwer Audi en ’n wit Range Rover.

Die polisie het glo ook beslag gelê op verskeie iPhone-selfone, drukkers, horlosies en selfs kontant.

Dít, sê hy in hofstukke, het hom en sy verskeie besighede “lamgelê omdat op amper elke belangrike persoonlike en sakedokument en omtrent ses voertuie beslag gelê is”.

Boonop het die polisie geen inventarisrekord aan hom of sy prokureur, mnr. Sisa Namandje, verskaf nie.

Dit beteken die polisie kon selfs meer besittings gekonfiskeer het as wat hul visenteerbrief aandui, sê hy.

Hy betwis die geldigheid en wettigheid van dié dokument.

Skok oor arres

Amushelelo sê hy was geskok oor sy inhegtenisneming nadat die beampte wat hom aangekeer het glo aanvanklik gesê het hy moet slegs vir ondervraging aanmeld.

“Op 10 Oktober 2019 was my inhegtenisneming die laaste ding waaraan ek ooit sou dink.”

Boonop is aanlyn valutandel syns insiens nie wettig nie, hou hy vol.

Volgens hom maak hy daagliks deur middel van ’n agent in Ciprus gebruik van ’n buitelandsevalutaplatform.

Hy het in Augustus verlede jaar tydens twee vergaderings met die Bank of Namibia (Bon) verduidelik hoe sy besigheid sake doen en die sentrale bank het glo sy verduideliking gekoop.

“Hulle het belowe om na my toe terug te kom as daar enigiets anders was. Hulle het nie na my toe teruggekom nie tot ek deur lede van die Namibiese polisie in hegtenis geneem is.”

Volgens Amushelelo bedryf hy sy besigheid onder sy eie term “Project One Million” en ontvang geld van die publiek as ’n lening aan hom wat hy dan gebruik om op die internasionale geldmark handel te dryf. Ná twee maande kry die leners hul geld terug – mét ’n rentemeevaller van 50%, voer hy aan.

Hy word sedertdien opgebel deur kliënte oor hoe sake staan, maar kan hulle nie help nie omdat hy nie eens toegang tot hul dokumente het nie, sê hy.

Die hoërhof in Windhoek sal na verwagting Vrydag 8 November uitspraak in dié dringende aansoek lewer.

Amushelelo verklaar in die sosiale media hy het eens in ’n garage geslaap, maar benodig nou ’n groter garage vir al sy rygoed.

Hy en Cloete het glo meer as N$17 miljoen van lede van die publiek ontvang sonder magtigting van die wet op bankinstellings.

Hulle staan tereg op aanklag van die wederregtelike handeling as bank, die ongemagtigde ontvangs van beleggings, geldwassery en die gebruik of besit van eiendom wat spruit uit onwettige bedrywighede.

Landdros Ivan Gawanab het die saak tydens die beskuldigdes se eerste verskyning in die Windhoek-landdroshof tot 14 April volgende jaar uitgestel.

Die mans se borgtog van N$35 000 elk is onderworpe daaraan dat hulle nie die Windhoek-distrik sonder verlof mag verlaat nie.

Daarnaas moes hulle al hul reisdokumente indien en drie keer per week by die polisie in die hoofstad aanmeld.

Die hof het voorts gelas die mans mag nie met staatsgetuies inmeng nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!