Valutaskandaal: Eerste bank betaal boete
Valutaskandaal: Eerste bank betaal boete

Valutaskandaal: Eerste bank betaal boete

Estelle de Bruyn
Citibank is die eerste van die banke wat beskuldig is van 'n gekonkel met valutaverhandelings wat nou sy boete sal betaal.

Citibank sal 'n boete van R69 500 860 betaal, het die Mededingingskommissie Maandag gesê.

Luidens 'n verklaring van die Mededingingskommissie is die boete nie meer as 10% van Citibank se jaarlikse omset in Suid-Afrika nie.

Die bank sal sy samewerking gee en getuies beskikbaar stel om te help met die vervolging van die ander banke wat “saamgespan” het, sê die Mededingingskommissie.

Die Mededingingskommissie het op 15 Februarie 'n saak van samespanning teen 17 banke, waaronder Absa, Standard Bank en Investec, vir vervolging na die Mededingingstribunaal verwys. Die kommissie het gevra dat 14 van die banke 'n administratiewe boete van 10% van hul jaarlikse omset moet betaal.

Die kommissie het sedert April 2015 'n saak ondersoek van prysvasstelling en marktoewysing in die verhandeling van buitelandse wisselkoerspare waarby die rand betrokke is.

Die ondersoek het bevind dat die banke van minstens 2007 af 'n algemene ooreenkoms gehad het om saam te span met verhandelings in die dollar-rand-wisselkoers.

Die banke het ook die pryse gemanipuleer deur saam te werk om op sekere tye nie te verhandel nie, of deur die skep van fiktiewe pryse om vraag en aanbod te verwring, sê die kommissie.

“Hierdie skikking (met Citibank) is bereik om spoedige skikking en volle openbaarmaking aan te moedig om die bewyse vir die vervolging van die ander banke te versterk,” sê Tembinkosi Bonakele, kommissaris van die Mede­dingingskommissie.

Absa en sy moedermaatskappy, Barclays, is nie ingesluit in die boetes waarvoor die Mededingingskommissie vra nie. Bronne het aan Bloomberg gesê dis omdat Absa met die owerhede saamwerk om 'n boete te vermy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!