Van die 34 Outjo-horings glo in Angola verkoop
Van die 34 Outjo-horings glo in Angola verkoop

Van die 34 Outjo-horings glo in Angola verkoop

’n Ietermagôsmokkelaar is verlede week vir drie jaar tjoekie toe gestuur.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - In een van die grootste renosterhoringdiefstalsake ooit in die land het die hoof van die Blue Rhino-taakspan, komm. Barry de Klerk, gesê van die 34 renosterhorings wat in Augustus uit ’n instapkluis op Outjo gesteel is, is in Angola.

De Klerk het gister aan Republikein bevestig van die 34 horings is in Angola verkoop en sy taakspan het die kopers in Angola gekontak om dit terug te kry.

Gister het twee van die vermeende horingdiewe en -smokkelaars, mnre. Herman Pendapala en Petrus Ipinge, in die Windhoekse landdroshof om borgtog aansoek gedoen.

Landdros Vanessa Stanley het borgtog van N$30 000 aan elk toegestaan.

De Klerk het gesê die staat gaan teen die borgtoguitspraak appelleer, “want ons het ’n waterdigte saak”.

ANDER HOFSAKE

Ander beskuldigdes van wildmisdaad het ook verlede week in verskeie howe verskyn.

’n Ietermagôsmokkelaar, Johannes Hausiku Ndara, is verlede Woensdag in die landdroshof op Okahandja tot 36 maande tronkstraf gevonnis sonder die opsie van ’n boete.

Die helfte van sy gevangenisstraf is opgeskort. Ndara sal dus 18 maande agter tralies bly.

’n Vermeende renosterstroper, mnr. Eeno Anguwo, het verlede Vrydag in die Otjiwarongo-landdroshof verskyn en is borgtog van N$10 000 toegestaan.

Sy medebeskuldigdes, mnre. Kaukamburua Tjingee, Sakeus Ekandjo, Tjipurua Vemukuta, Justus Embula, Isaskar Kadhila en Mairinyengiza Uriyomu, bly in aanhouding.

Beslag is op ’n voertuig in verband met die saak gelê.

Die bekende Windhoekse onkoloog dr. Tommy van Wyk het weer verlede Dinsdag in die Windhoekse landdroshof in verband met die onwettige besit van drie olifanttande verskyn. Sy saak is na die aanklaer-generaal verwys en tot 5 November uitgestel.

Drie vermeende smokkelaars van vier olifanttande, mnre. Iipinge Galius, Ngula Nestor en Iipinge Dominikus, het verlede Donderdag in die landdroshof op Otjiwarongo verskyn. Hulle bly in aanhouding.

Op Grootfontein het mnr. Stefanus Amunyela verlede Woensdag in die hof in verband met die onwettige besit van twee olifanttande verskyn. Sy saak is tot 13 Januarie 2020 uitgestel.

Ook op Grootfontein is mnr. Thadeus Thitengu verlede Woensdag op borgtog van N$700 vrygelaat nadat hy in hegtenis geneem is in verband met die onwettige besit van ’n lewende ietermagô.

Me. Veronica Matias het verlede Donderdag ook in verband met die onwettige besit van ’n lewende ietermagô in die Windhoekse landdroshof verskyn. Haar saak is tot 4 Februarie 2020 uitgestel.

Op Okahao is mnre. Matati Paulus en Aino Eino op borgtog vrygelaat nadat hulle daarvan aangekla is dat hulle ’n jaggeweer en ses patrone onwettig besit.

INHEGTENISNEMINGS

Altesaam 12 vermeende wildmisdadigers is verlede week in hegtenis geneem.

Volgens die Namibiese polisie se eenheid vir beskermde hulpbronne (PRU) en die ministerie van die omgewing en toerisme se intelligensie- en ondersoekeenheid se weeklikse wildmisdaadverslag is vier nuwe sake van 23 tot 29 September aanhangig gemaak.

Een verdagte is in verband met renosterstropery of -smokkelary of pogings daarvan in hegtenis geneem.

Een lewende ietermagô, ses ietermagôvelle en een kameelperd is gekonfiskeer, asook ’n vuurwapen en ’n voertuig.

Altesaam 12 verdagtes is in hegtenis geneem.

Die Namibiese burgers mnre. Jimmy Gawaseb, Jimmy !Horaseb, Desperate !Horaseb en Frederik Stuurman is verlede Woensdag by Kamanjab in verband met die jag van ’n kameelperd in hegtenis geneem en beslag is op ’n vuurwapen gelê.

Mnr. David Sheehama is verlede Vrydag oor ’n ou renosterstroperysaak by Omitara in hegtenis geneem.

Mnr. Akia Libuku is verlede Donderdag in die hoofstad in verband met die onwettige besit van drie ietermagôvelle vasgetrek.

Mnre. Iyambo Jason, Gaus Lafael en Shindongo Mekondjo is verlede Vrydag op Ondangwa in hegtenis geneem oor die onwettige besit van ’n ietermagôvel.

Beslag is op ’n voertuig gelê wat na bewering in die misdaad gebruik is.

Op Oshakati is mnre. Moses Akuunda en Gervasius Sheehama saam met die Angolese burger mnr. Tomas Manuel Saterdag in verband met een lewende ietermagô en twee ietermagôvelle in hegtenis geneem.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!