Van die land na die verbruiker
18 maande gelede het die Smith-gesin 'n nuwe uitdaging buite Tsumeb aangepak.
Tanja Bause – Ná ’n plaasaanval in Suid-Afrika vier jaar gelede, het die Smith-gesin besluit om na Namibië terug te keer om hier te kom boer.
“Louis is in Namibië gebore, maar het lank in Suid-Afrika gewoon en geboer. Ná die aanval het ons besluit om terug te kom,” het me. Hayley Smith gesê.
Agtien maande gelede het hulle die plaas Tanto Uberior 785, sowat 25 km buite Tsumeb op die Otavi-pad, gekoop en begin groente kweek.
“In Suid-Afrika het ons vir die Spar-groep groente geplant. Ons het ook die groente op die plaas vir die kleinhandelbedryf opgesny en verpak.”
Saam met mnr. Jupy van der Merwe is Uberior Farming Enterprises cc begin en vandag – ’n skamele 18 maande later – lewer hulle reeds groente aan Spar en Pick n Pay.
Volgens Smith kan hulle nie voorbly met bestellings nie. “Alles wat ons plant, is in aanvraag. Omdat daar in Suid-Afrika baie groenteboere is, is daar gereeld ’n ooraanbod hier, maar dit bly duur om groente tot hier te kry. Op die oomblik word die meeste groente en vrugte ingevoer, en dit ruk Namibiërs se sak. Maar ons glo handelaars sal plaaslik koop as boere net met bestellings kan voorbly.”
Hulle is juis nou met vergaderings besig om ander boere van die omgewing aan boord te kry sodat hulle saam die plaaslike mark kan bedien. “Ons wil ’n vol mandjie aan handelaars lewer en in die aanvraag voldoen. Dus moet ons boere saamwerk. Jy kan nie vir ’n handelaar nou tamaties aanbied en dan die volgende maand nie.”
Drie maande gelede het hulle begin om aartappels namens plaaslike boere te verpak. “Groente moet gewas word voordat dit in sakke verpak en aan handelaars gelewer word. Ons het ’n wasser en ’n verpakkingsmasjien. So ons kan dié diens vir ander boere bied.”
In die toekoms wil hulle die verpakkingsaanleg verbeter en uitbrei.
“Dit is ’n groot belegging maar noodsaaklik. Met die nuwe verpakkingsaanleg sal ons nie net al die groente van die boere in die omgewing kan verpak nie, maar ook opkerf en skil voordat dit na die handelaar gestuur word.”
Op die oomblik word groente soos wortels met die hand gewas en volgens grootte sorteer, die kwaliteit word nagegaan en dan word dit verpak.
Aartappels word gewas, volgens grootte deur ’n masjien sorteer en in sakke gepak. Vroue by die vervoerband doen nog steeds die kwaliteitbeheer en maak die sakke per hand toe sodra dit vol is.
Blomkool en broccoli word met die hand verpak.
“Ons het onlangs ’n masjien gekoop wat die verpakking hanteer, wat beteken ons sal meer kan verpak en vinniger kan lewer,” het sy gesê.
Om varsheid te verseker, bly die groente so lank as moontlik op die lande.
“As ons byvoorbeeld ’n bestelling vir wortels kry, stuur ons die werkers lande toe om te gaan oes. Die wortels kom dan na die verpakkingsaanleg waar dit gewas en verpak word. Dieselfde dag nog word dit in ’n vragmotor gelaai en na die handelaar geneem. Dit verseker dat ons groente vars is.”
Veral groente soos botterskorsies, pampoen, skorsies en wortels het ’n raklewe van ’n paar maande hoewel dit dan smaak verloor. “’n Wortel wat nou geoes is, is soet. Maar omdat dit ingevoer word, verloor dit smaak weens die vervoer en omdat dit op ’n rak lê.”
Die plaas voorsien werk aan tot 150 seisoenale werkers afhangende van wat op die lande groei.
Tans word aartappels, soetpatats, uie, beet, wortels, botterskorsies, skorsies, spinasie, blaarslaai, broccoli, blomkool, tamaties, soetrissies, groenbone, kool, spanspek en suikermielies geplant, hoewel dit seisoenaal is.
In Januarie het Smith die 785 Tanto-padstal geopen om plaasprodukte direk aan die plaaslike mark te verkoop. “Dit sal mettertyd tot ’n volwaardige supermark uitgebrei word, met ’n slaghuis en bakkery daarby. Maar hoofsaaklik groente – en teen plaaspryse,” het sy gesê.
Tans verkoop die winkel baie ingelegde produkte wat deur Smith self gemaak word.
“Die idee is om iemand op te lei wat die maak van die produkte kan oorneem omdat ek nie meer tyd het daarvoor nie. Daar is baie vroue hier in die omgewing wat sulke produkte maak, maar daar is geen plek waar hulle dit kan verkoop nie. Ons wil hulle ondersteun en hulle goed hier in die winkel verkoop.”
Hoewel die meeste produkte uit plaaslike bodem kom, is ’n uitsondering die leerhandsakke wat met die hand deur ’n vrou in Khayelitsha naby Kaapstad gemaak word. “Die handsakke is goed geprys en ek het al mense van Swakopmund hier gehad wat hierheen ry net daarvoor.”
Nog ’n plan is om die padstal uit te brei met ’n lapa waar mense kan sit en koffie drink. Braaiplekke is nog iets wat hulle oorweeg.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie