Van die ongemaklike mag ons nie terugdeins
Van die ongemaklike mag ons nie terugdeins

Van die ongemaklike mag ons nie terugdeins

Dani Booysen
ROOI OLIFANT SKRYF:

Hartklop FM berig op Vrydag 21 Augustus 2020 dat uitbreidings en herstelwerk binnekort by vier skole in die Omahekestreek gaan begin.

Een van dié skole is Gustav Kandjii Hoërskool op Otjinene waar ek vyftien jaar gelede gewerk het.

Daar het ek as ‘n relatiewe nuwe onderwysertjie die harde werklikheid van rassisme beleef toe ‘n groepie plaaslike kollegas my ervaring daar op allerhande maniere ondraaglik gemaak het. Op die ou einde is ek daar met ‘n vernielde ego weg ten spyte van my harde werk, wat goeie vrugte opgelewer het soos die oprigting van ‘n weerstasie vir aardrykskunde, ‘n rekenaarlaboratorium, uitmuntende uitslae in die vak Lewenswetenskappe en ‘n suksesvolle koorfees op nasionale vlak.

Die mishandeling wat ek daar gesmaak het, was nie net professionele afguns nie, maar gebaseer op diepliggende rassisme.

Iewers in Republikein het ek ‘n brief deur Pecka Semba, onderwysdirekteur van daardie streek, gelees toe hy sy misnoeë uitgespreek het aangaande hierdie kniehalterende verskynsel wat volgens hom van onkunde onder sy mense getuig.

Endemiese rassisme is nie net tot die Omahekestreek beperk nie. Dit kom wydverspryd voor.

Ek het hierdie sosiale euwel by Namibiese skole in Windhoek en elders in die land waar ek werksaam was, ervaar.

Hierdie siekte spruit uit diepliggende rassisme, waarvolgens sekere minderhede met minagting bejeën en behandel word. Dié tendens vind onder alle taalgroepe plaas.

Wanneer dit ons behaag, sonder ons sleutelposte net vir ons eie mense af en regverdig ons verkeerde handelinge. Die werksomgewing, atmosfeer op straat, hofsake met betrekking tot rasse-aangeleenthede, regstellende aksie wat uitsluitlik op selektiewe swart bemagtiging fokus, terwyl andere stelselmatig, doelgerig en konsekwent verarm, uitgebuit en uitgesluit word, is bewyse hiervan.

Oral word skeldname vir ander steeds gebesig asof dit die normaalste ding op aarde is.

Ek is seker daai onderwyser van Bethanie wat onlangs sy growwe rasistiese haatspraak gelewer het, moes bittere rassistiese aanslae verduur.

Maar hierdie onaangesproke velgedrewe en taalbehepte kondisionering op gemeenskapsvlak is steeds nie die wortel van dié kwaad nie.

Rassisme begin by ons politieke leierskap. Politieke gesag en parlementêre partylyste is op ras geskoei. En dit het al in 1989 begin.

Intussen bly suig die opregste inheemse bevolkingsgroep, die Khoesan, aan die agterspeen en word die meeste geraak.

As ons verder soek, sal ons die ware wortel van aanvaarding van, en voorspraak vir rassisme op huishoudelike vlak vind. Dis juis ons (Christen-) ouers wat dit aanvuur en ons kinders leer dat dit normaal is om andere wat van ons verskil anders te behandel.

Venicia Xoroxloo Williams van Suid-Afrika stel dit in perspektief: "The ruin of a nation starts at home."

Maar die teendeel is ook waar: Dat ras bloot as rassisme afgemaak word waar die skoen pas.

Ras was nog nooit die probleem nie, maar rassisme wel. Ras getuig van God se intelligente plan van glorieryke diversiteit; rassisme van agterlikheid en ‘n psigiese wanbeeld van grandeurisme.

Ons moet ras, veelrassigheid, alle tale en alle kulture omarm en vier terwyl ons rassisme in al sy vorme teenstaan en beveg.

En die wortel van die wortel? Die liefde vir geld natuurlik, soos die Bybel waarsku. Dit is hoog tyd dat Namibiërs sing van blomme en nie net oor geld nie.

Daar het net een benadering oorgebly om hierdie nasionale doring in die vlees met wortel en tak uit te roei: ‘n Versoeningsbeleid soos onlangs in die parlement voorgestel en die ou wekroep vir ‘n waarheids- en versoeningskommissie wat Namibiërs die Goddelike kans sal gun om uiting aan hul diepe hartseer, angs, kommer, vrese en woede op ‘n gemeenskaplike vloer op ‘n sinlike, gesonde en vreedsame manier te gee.

Dít sal ons wonde genees en versoening versnel, want bloed uit die buik van die aarde en die hartseer trane van geraaktes bly roep na die hemele vir reg en geregtigheid. Dit sal egter dringende, eerlike politieke wil en onmiddellike, daadwerklike aksie verg.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!