Van haweloos tot helpende hand

‘n Man wat eens deur drank beheer is, gee mense in dieselfde posisie weer hoop vir die lewe.
Tanja Bause
Tanja Bause – “Ek het op die laagste punt van my lewe in die bos gesit en tombo gedrink.

“Ek was haweloos, vuil en verwaarloos toe ek om hulp vra.”

So vertel Charles Sawyers (63), die stigter van die Khomasdal Homeless Development Trust.

Charles is op Rehoboth gebore waar hy ook grootgeword en skoolgegaan het.

“Op 25-jarige ouderdom het my lewe deurmekaar begin raak. Ek het verslaaf geraak aan drank en was die pad heeltemal byster. Ek was haweloos.”

Sy vriende het hom begin vermy en mettertyd uit sy lewe verdwyn. Hy het begin swerf.

“Dit was ’n uiters harde lewe. Ek het onder brûe geslaap en uit asdromme geëet. Soms het ek terug huis toe gegaan en het dit vir ’n rukkie goed gegaan. Dan is dit asof iemand jou ondertoe aftrek en alles begin van voor af weens die drank en dwelms se houvas op my. Dan was ek maar weer op straat.”

Volgens Charles gee mense hulself aan drank oor om van hul probleme te vergeet.

“Jy drink om jou situasie te vergeet, maar môreoggend is dit net erger en jy moet meer drink.”

In 2007 het sy lewe verander.

“Ek het altyd deur die veld na die asgate in Eros toe gestap om geld te zula (bedel) of los werkies te soek. Daar was altyd mense by die asgate wat tombo, tuisgebroude bier, gemaak het. Ek het ’n skaal (‘n eenheid tombo) gekoop en eenkant gaan sit. My hare was lank, my baard het wild gestaan, en ek en my klere was vuil en verwaarloos.”

“Daar onder die boom het ek ’n gebed opgestuur: ‘Here, as U ’n werklikheid is, help my en verlos my en ek sal U naam hoog hou.’ Ek het die skaal opgetel, hom halfpad gedrink, neergesit en nooit weer aan alkohol gevat nie.”

Charles is na sy ma se huis in Windhoek-Wes toe. Daar het hy sy ma om vergifnis gevra.

“Soos enige moeder het sy my vergewe en ingeneem. Ons het begin aan ons bande werk en om ons verhouding te herstel.”

Charles het in daardie stadium nog gerook.

“Ek het asdromme omgeskop op soek na stompies sodat ek ’n zol kon rol.”

Charles het op ‘n dag sy broer vir geld gevra om ’n sakkie tabak te koop. “Ek is met die twak huis toe. Ek het dit op die tafel neergesit en die koerantpapier begin skeur om ’n zol te rol. Ek het toe ’n gevoel gekry dat die tabak nog ’n muur tussen my en die Here is.”

Hy het die tabak in die toilet gaan afspoel en opgehou rook.

STIGTING

In 2012 het Charles die Khomasdal Homeless Development Trust gestig om hawelose mense op te hef en te rehabiliteer, asook vir hulle vaardighede te leer.

“Ek kan vandag vir mense sê daar is hoop. Ek was daar. Ek weet hoe dit voel en ek weet jy kan daaruit kom.”

Drie keer ’n week kom die mense in Khomasdal bymekaar en word die dag met die Woord begin. Daarna kan diegene wat dit benodig, berading ontvang waarna kos bedien word.

“Elkeen kry ook ’n kospakkie om saam te vat. Dan het hulle kos vir die volgende dag wat hulle met iemand anders onder ’n brug kan deel.”

Die mense wat so ondersteun word, is van 21 tot 40 jaar oud. Van 40 tot 70 mense daag daagliks op, met sommige wat van so ver as die Okahandja Park- informele nedersetting stap.

“Ons probeer ons bes om hulle te help, maar dit is baie moeilik omdat die mense ná ete by die hek uitloop en weer op hul eie is. Ek het geen beheer oor wat hulle drink of watter dwelms hulle inneem nie.”

Dit is waarom ’n sentrum vir dwelm- en alkoholverslaafdes waar hulle deurgaans gemonitor kan word, so noodsaaklik is.

“Ons benodig ’n sentrum waar die mense kan woon en op weer op hul voete kan kom. Langs die sentrum moet daar ’n tuin wees wat die sentrum kan voorsien van vars produkte en ook die mense kan besig hou. ‘n Plek waar hul menswaardigheid weer opgehef kan word.”

Baie van die mense wat deur die stigting ondersteun word, is vroue en hul kinders.

“Ek praat met hulle wanneer hulle hier kom en swanger is. Die storie is altyd dieselfde. Hulle slaap onder ’n brug en as ’n man vir hulle ’n warm bed en ’n dak oor die kop vir een aand aanbied, vat hulle die geleentheid. As daar ’n sentrum is, hoef hulle nie saam met die man huis toe te gaan nie.”

LEWENSMAAT

“Ek het vir die Here gevra om vir my ’n lewensmaat te gee.

“Mense het vir my gelag en gesê dat ek niemand sal kry nie weens my verlede. Hulle was verkeerd. Vandag is ek al 20 jaar gelukkig getroud. My vrou, Marianne, het dieselfde passie vir hawelose en verslaafde mense soos ek. As ’n huisgesin probeer ons saam om hul lewe te verander.

“Ons is dankbaar vir al die mense wat ons ondersteun, al is dit net met ou klere, ’n kombers of kos. Baie dankie, julle maak ’n verskil in iemand wat niks het se lewe.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer