Van huis tot bouval-paleis

Pedro Vorster
Pedro Vorster

Drie jong, modebewuste, Kroatiese meisies bestyg die bus. Elkeen het vals ooghare en is vasgegom aan hulle selfone. Hulle is ongeveer ewe oud, maar nie een lyk naastenby soos die ander nie. Hulle verskil in porsies Slavies-, Arabies- en Kroatiese bloed.

Uiteindelik ry ons Split, die tweede grootste stad in Kroasië, in sirkels binne en hou op die internasionale kaai stil.

Die natuurskoon voor die intog was indrukwekkend. Groen, groen see só deursigtig, dat rotsriwwe en visse van vêr af onder die water sigbaar is.

Tomo ontmoet ons by die bushalte. Hy is groot, oor die twee meter lank. Trots verseg hy om gehelp te word met ons bagasie. Daar is nie parkering naby ons woonstel nie en hy blaas en sweet as ons by die voordeur land. Hy vind die toeristemark nie baie winsgewend nie, die kompetisie is te hewig. Hy wil verder studeer en hom bekwaam as fisikus. Hy is die eerste jong Kroaat wat ons ontmoet met hoë ambisies, maar nie die enigste nie.

Die een verdieping woonstel is in die Lucac voorstad, ‘n gerestoureerde agterbuurt, en is meer as volledig toegerus met van allergiepille tot ‘n opvoubare kot. Oorkant die stegie, skaars 10 m van ons sitkamervenster, bly ‘n gesin met ‘n baba. Hulle pla ons glad nie. Buitendien het ons vensters houthortjies wat vertikaal en horisontaal kan verstel. Nee, die oumense wat laatnag op stoeltjies voor hul deur onder ons sit en klets, hinder meer. Vir ontbyt eet hulle vars aarbeie.

Die Kroate in een deel van die Dinarik-bergreeksgebied is langer as die Nederlanders en is dus van die langste mense in Europa. Elke nou en dan sien ons van die hemelbesems, van beide geslagte, wat kop en skouers uittroon bo die gemiddelde voetganger.

Die Romeinse Keiser Diocletiarus stap in Junie 305 sy voltooide, luukse paleis in Split binne. Hy was ‘n moegoe, wat vasgeklou het aan sy Jupiter aanbidding, homself as goddelik beskou het en die laaste groot vervolging van Christene geloods het. Hy doen ‘n rare ding en abdikeer voor hy onthef, onthoof of vermoor kon word, die lot van baie van sy voorgangers.

Die oorblysels van sy somervakansiepaleis en militêre fort is die middelpunt van Split se heuningkoek waarheen toeriste zoem. Die paleis is só groot, drie rugbyvelde kan binne sy 30 m hoë kringmure pas. Die Keiser se soldate, ‘n sterk garnisoen, word mettertyd vreedsaam vervang deur die adelstand, entrepreneurs en toe winkeliers. Besighede deel vandag stuk-stuk spasie met ‘n hotel, museums, ‘n klooster en ‘n restaurant. En nog ‘n paar winkels in die kelders. Op elke plekkie waar hulle kon vasskop, span die handelaars hul vangnette vir toeriste. Op die oog af bou hulle sonder beheer antieke boë toe en slaan hopenlik nie te veel mure plat nie.

Naby ons knus blyplek is daar twee 24 uur-bakkerye en daagliks ‘n mark met al die gewone groente, vrugte, spotgoedkoop blomme en ongewone items, oud en nuut. Ideaal vir snuffel.

Split se promenade sandstrand is nie ‘n wafferse affêre nie, maar ten spyte daarvan is dit gewild weens die buitegewone warm lente. ‘n Ontwykende stigma van slordigheid kleef aan die strand. Miskien walm dit uit die sigaretstompies in die modder.

Drankmisbruik is moontlik ‘n simptoom van ‘n volk wat vir baie jare die juk van oorheersing moes dra. Vroegoggend kuier die ouer, werklose mans doelloos op parkbankies. Teen namiddag sit en snork hulle.

Ons gaan eet vroegaand by ‘n middelklas-restaurant. ‘n Middeljarige vrou kap om op die sypaadjie. Die kelners is nonchalant. Dit gebeur gereeld. Uitklophou deur alkohol. Binne minute arriveer ‘n ambulans met ‘n paramediese span, pik haar op, en word die plaveisel skoon gespuit.

Een van Kroasië se helde, Gregorius, die Biskop van Nin, sien sy weg oop om heftig met die destydse Pous te verskil en af te stig. Vir geluk moet sy 8,5 m-hoë beeldhouwerk, wat voor die keiserlike paleis staan, se linkergroottoon gevryf word. Dié is al blink en glad verweer.

Split kan met ‘n bietjie meer gelukkige poetswerk klaarkom.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!