Van kindertyd op Kolmanskop tot aftree op Henties
Laaste gesin om geskiedkundige dorp te verlaat
Tanja Bause – “Ons was die laaste huisgesin wat in 1959 Kolmanskop verlaat het. Ek was nege jaar oud,” sê Justin Jenkins (70).
Hy is op Lüderitz gebore, maar het saam met sy ouers, twee susters, drie broers en sowat 15 ander huisgesinne op Kolmanskop gewoon. Justin se pa was die voorman van die werkswinkel waar die vragmotors reggemaak is. Van die ander mense het in die kragstasie, die winkel of as speurders gewerk. Ongeveer tien tot 15 kinders het ook op Kolmanskop gewoon.
“Ons het elke oggend saam met die diamantspeurders Lüderitz toe gery om skool toe te gaan. As die wind te erg begin waai het, is die skoolhoof laat weet dat ons moet terug kom. Ons het onmiddellik op die bus geklim en terug huis toe gery. Die speurders het ons tot by ons huise begelei en van daar af kon ons weer doen wat ons wou.”
Justin kan goed onthou sy gesin het eers in 'n lang gebou gewoon en toe in 'n huis langs die kegelbaan.
“Ek onthou ons het hoenderhokke en 'n tuin by daai huis gehad. 'n Tuin met onder andere baie vyebome in. Om die tuin was daar glaspanele wat gekeer het dat die wind die tuin verinneweer.
“Die kegelbaan is nog vir funksies gebruik. Ek het as kind daar gewerk. Ons het agter gesit en die kegels weer opgestel en die bal vorentoe gerol sodat die mense verder kon speel.”
Hy beskryf sy kinderjare as die beste jare van sy lewe.
“Ons het soveel vryheid gehad. Ons het in die duine en sand gespeel en met ons fietse die duine afgejaag. Ek onthou ons het tonnels in die sand gegrawe wat in die verlate huise geleë was. Ons het by die een venster ingeklim en begin grawe en by die ander venster uitgeklim. Die volgende dag het alles anders gelyk, want die wind het gewaai en die sand het verskuif. Talle kere het ons nuwe huise ontdek wat oopgewaai het en ander wat onder die sand verdwyn het.”
Besoekers aan Kolmanskop moes in 'n boek teken en wanneer die gesinne op vakansie gegaan het, het die speurders die voertuie deursoek.
“Hulle het die voertuig noukeurig deursoek, dan het ons ingeklim en hulle het ons deur die dorp begelei. Sodra ons uit die dorp was, kon ons op ons eie verder ry en die vakansie kon begin.
“Die speurders was baie streng en hoewel ons as kinders kon doen en speel waar ons wou, het hulle ons dopgehou en ons kattekwaad altyd gou agtergekom en oopgevlek.
“Daar was 'n winkel wat aan oom Morris behoort het. Wanneer ons die hoenderhokke skoongemaak het, het ons 'n tiekie gekry. Met daai tiekie het ons 'n sak lekkers by die stoor, soos ons die winkel genoem het, gaan koop.”
Elke Vrydag het vars groente en vrugte vanaf Oranjemund op Kolmanskop aangekom en elke Donderdag het 'n voertuig saam met die vroue Lüderitz toe gery sodat hulle inkopies kon doen.
“My ma het egte Weense worsies vir ons vanaf die Duitse slaghuis saam huis toe gebring wanneer sy dorp toe is.”
LAASTE MENSE VAN KOLMANSKOP
Justin het 'n sogenaamde vleiskas by sy huis. Die vleiskas het 'n slot op gehad en die eienaar van die kas en die slagter het 'n sleutel gehad. Die eienaar het sy inkopielys en geld ingesit en saam met die speurders Lüderitz toe gestuur. Hulle het die kas in die aand teruggebring met die dag se vleislys binne-in.
“Deel van die werkswinkel is afgebreek en die ander deel se vensters is met sinkplate toegemaak, sodat mense nie kan inkyk nie. Maar ek weet dat in die een werkswinkel 'n vliegtuig van die dak af gehang het of nog hang wat deur die speurders gekonfiskeer is.”
Die onderhoudskostes van die huise op Kolmanskop het te hoog begin raak en dit is hoekom die gesinne die dorp verlaat het.
“My pa moes elke paar weke reël dat die padskrapers kom om die sand by die huise weg te skraap. Jy het uit jou kamervenster gekyk en in die sand vasgekyk. Soms het 'n strandwolf op die sandhoop gestaan en by jou venter ingeloer. Ons het nooit probleme met hulle gehad nie en selfs wanneer jy in die nag by hulle verbyloop het – wat baie gebeur het – het hulle niemand gepla nie. Die strandwolwe was baie, maar ons het nooit probleme met hulle gehad nie,behalwe as hulle soms die hoenders gevang het.
“My pa het met 'n ou Austin-vragmotor die gesinne gehelp om vanaf Kolmanskop na Lüderitz te trek. Nadat almal die dorp verlaat het, het ons ook getrek en dus was my gesin die laaste mense wat ooit daar gewoon het.”
Sy pa het egter nog steeds saam met die speurders na Kolmanskop uitgery om in die werkswinkel aan die vragmotors te werk.
Die gesin het in 1962 Aus toe getrek om daar te boer.
“Van ons huis af kon ons die wilde perde sien. As daar droogte was, het ons by die boorgat by Garub in 'n pondokkie gaan bly wat uit garagedeure gebou is. So het ons agter die skape aangetrek daardie jare tot in die Koichab-pan.”
Justin het sy skoolloopbaan op Aus voortgesit en dit in Wolmaransstad in Suid-Afrika afgesluit.
“Wanneer ek huis toe wou kom moes ek op 'n trein klim. Dit het drie dae gevat om met die trein tot op Aus te ry.”
Ná skool het hy as 'n vakleerling vir 'n motorwerktuigkundige by General Motors op Keetmanshoop begin werk.
In 1973, nadat hy met Aletta in die huwelik getree het, het hulle Mariental toe getrek en Justin het by die destydse Waterwese by die Hardapdam begin werk.
“Hulle het my verplaas om bestuurder van die Nautedam naby Keetmanshoop te wees. Ek het daar vir baie jare gewerk voordat ek na Suid-Afrika verplaas is om eers by die Hendrik Verwoerddam, wat nou die Gariepdam is, en toe by die Kamfersdam in Kimberley te gaan werk.”
Nadat hy weer terug na Namibië verplaas is, het hy en sy gesin hulle uiteindelik in Windhoek gevestig.
“Van Windhoek af het ek oraloor die land gewerk. Ek was drie weke in die veld en een week by die huis. Ek het in 1997 die tuig neergelê en gesê genoeg is genoeg.”
Pensioen
Van stilsit ná sy aftrede was daar egter geen sprake nie en Justin het met sy eie besigheid begin.
“Ek en my vrou, Aletta, het met Suikerbekkie begin. My vrou het die koeke versier. Sy het talle pryse vir haar koeke gewen. Ons het ook mense gehad wat vir ons gebak het totdat ons die woonstel agter in ons erf in 'n bakkery omskep het. Ons het mense in diens geneem wat vir Suikerbekkie gebak het. In daai bakkery is alles van koeke tot brötchens vir Suikerbekkie gebak. ”
Die egpaar het ook die Moth Klub se kroeg bestuur en die klub se spyseniering vir al die funksies gedoen.
“My galblaas het toe gebars en ek moes talle operasies ondergaan en ek kon net nie meer die pyp rook nie,” vertel Justin.
Hulle het alles verkoop en Hentiesbaai toe verhuis met die voorneme om dié keer regtig af te tree en vis te vang, maar opnuut kon Justin en sy vrou nie so lank stil sit nie en hulle het 'n koskar gekoop.
“Ons maak en verkoop al ons geregte. Ons verkoop onder meer vis, bratwurst en Weense worsies, maar ons is landswyd vir ons calamari bekend.”
Die egpaar verkoop egter nie net hul tuisgemaakte disse op Hentiesbaai nie. Hulle reis die land vol en probeer by elke skou, ekspo, kunstefees of skoolbyeenkoms met Mobi Grill, hul koskar, te wees.
“Om besig te bly, hou ons uit die kwaad uit,” het hy laggend gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie