Van klimaat tot vetsug bedreig gesondheid
Die huiwering of versuim om te immuniseer, dreig om vooruitgang wat siektes kan voorkom, uit te wis, sê die WHO.
Henriette Lamprecht - Die uitbreking van masels, toenemende vetsug en klimaatsverandering onder meer skets ’n donker prentjie vir wêreldgesondheid in 2019.
In die lig hiervan het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) ’n vyfjaarplan opgestel wat op ’n trippelmiljarddoelwit fokus – ’n miljard meer mense trek voordeel uit toegang tot wêreldwye gesondheidsdekking, ’n miljard meer mense word teen gesondheidsnoodgevalle beskerm en ’n miljard meer mense geniet beter gesondheid en welstand.
Die WHO sonder die volgende kwessies as die grootste bedreigings uit:
Lugbesoedeling en klimaatsverandering – Nege uit tien mense asem daagliks besoedelde lug in, wat volgens die WHO die grootste omgewingsrisiko vir gesondheid is. Mikroskopiese besoedeling in die lug kan respiratoriese en sirkulasiestelsels binnedring en na die longe, hart en brein versprei en sodoende jaarliks tot die dood van sewe miljoen mense weens kanker, beroertes en hart- en longsiektes lei. Sowat 90% van dié sterftes is in lae- en middelinkomstelande met hoë volumes uitlaatgasse van nywerhede, vervoer en landbou.
Nieaansteeklike siektes soos diabetes, kanker en hartsiektes is gesamentlik verantwoordelik vir meer as 70% van alle sterftes (41 miljoen mense) wêreldwyd. Dit sluit 15 miljoen mense in wat voortydig tussen die ouderdomme van 30 en 69 sterf. Meer as 85% van dié voortydige sterftes kom in lae- en middelinkomstelande voor, en risikofaktore sluit tabakverbruik, ’n gebrek aan oefening, die skadelike gebruik van alkohol, ongesonde diëte en lugbesoedeling in. Die risikofaktore verhoog voorts ook geestesgesondheidskwessies wat op ’n vroeë ouderdom kan kop uitsteek. Selfdood bly die tweede grootste oorsaak van sterftes tussen 15 en 19 jaar.
Wêreldwye grieppandemie – Volgens die WHO is dit nie ’n kwessie van óf daar ’n pandemie gaan wees nie, maar wanneer, en hoe ernstig dit sal wees. Jaarliks maak die WHO aanbevelings oor watter stamme by die griepentstof ingesluit moet word om mense teen seisoenale griep te beskerm.
Kwesbare omgewings – Meer as 1,6 miljard mense (22% van die wêreld se bevolking) leef met swak gesondheidsdienste en ’n gebrek aan basiese sorg op plekke waar uitdagings soos droogte, hongersnood, konflik en ontworteling heers. Dit is ook hier waar sleuteldoelwitte wat deel van volhoubare ontwikkelingsdoelwitte is en die gesondheid van kinders en swanger vroue behels, nie bereik word nie.
Anti-mikrobiese weerstand – Die vermoë van bakterieë, parasiete, virusse en fungi om weerstand teen bv. antibiotika op te bou, dreig om die wêreld terug te neem na ’n tyd toe dit moeilik was om infeksies soos longontsteking, tuberkulose en salmonella te behandel. Ook kan die onvermoë om infeksies te voorkom chirurgie en prosedures soos chemoterapie ernstig ondermyn.
Ebola en ander gevaarlike patogene – Verlede jaar het die Demokratiese Republiek die Kongo twee verskillende Ebola-uitbrekings beleef, wat albei na stede met meer as ’n miljoen inwoners versprei het.
Swak primêre gesondheidsorg – Primêre gesondheidsorg is dikwels die eerste kontak wat mense met hul gesondheidsorgstelsel het, en is veronderstel om bekostigbaar en omvattend te wees. In baie lande skiet dit ver te kort – dikwels weens ’n gebrek aan hulpbronne in veral lae- en middelinkomstelande.
Weerstand teen immunisering – Die huiwering of versuim om te immuniseer ten spyte van die beskikbaarheid van entstowwe dreig om vooruitgang wat gemaak is om siektes wat voorkom kan word, uit te wis. Volgens die WHO is immunisering een van die kostedoeltreffendste maniere om siektes te voorkom. Tans voorkom dit twee tot drie miljoen sterftes per jaar, terwyl ’n verdere 1,5 miljoen vermy kan word sou wêreldwye dekking van immuniserings verbeter.
Knokkelkoors – Dié siekte, wat deur muskiete versprei word en griepverwante simptome veroorsaak, se bedreiging styg jaarliks. ’n Beraamde 40% van die wêreld loop die risiko vir die siekte wat jaarliks tot 390 miljoen infeksies lei.
MIV – Ten spyte van vooruitgang sterf byna ’n miljoen mense jaarliks aan MIV/vigs. Sedert die begin van die epidemie is meer as 70 miljoen mense geïnfekteer, terwyl sowat 35 miljoen aan die siekte gesterf het. Wêreldwyd leef sowat 37 miljoen mense met MIV. Jong meisies en vroue tussen 15 en 24 jaar val onder hoërisikogroepe en staan pa vir een uit elke vier MIV-infekterings in Afrika suid van die Sahara.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie