Van kop tot hand

Lloyd Zandberg
Lloyd Zandberg - Lynette Diergaardt sien haarself as ‘n professionele student.

Sy sê dis omdat sy alewig met een of ander akademiese projek besig is, hoewel sy ‘n kunstenaar en lektor is.

“Ek geniet dit om meer oor myself en my talente te leer. Ek verryk myself voortdurend en dis belangrik vir my om die beste weergawe van myself te wees. Ek leer soveel moontlik,” sê sy.

Die StArt Art-galery bied tans Lynette se solo-uitstalling in weefwerk getiteld Mind to Hand aan.

Sy het haar BA-graad in tekstiel- en modeontwerp aan die Universiteit van Namibië (Unam) voltooi en dit was in haar finale jaar dat sy haar passie vir tekstiel ontdek het.

“Ek het meer aanklank by beeldende kunste as by mode gevind. Die universiteit het vir my ‘n pos as deeltydse dosent aangebied. Ek het dit vir ‘n tydperk van drie jaar gedoen en daarna aansoek gedoen om my meestersgraad te voltooi.”

Sy sê dit was met die hulp van haar mentor, dr. Meredith Palumbo, dat sy ‘n Fullbright Scholarship ontvang het en sodoende haar meestersgraad in tekstiel in Amerika kon doen.

In 2015, ná sy gegradueeer het, het Lynette na haar geboorteland teruggekeer. Sy is tans ‘n lektor in kunsstudies by Unam se Khomasdal-kampus.

“Ek moet sê my lewe het baie anders uitgedraai as wat ek verwag het. Die Here verstaan wat elke mens nodig het. As ‘n mens net luister, eindig jy op waar jy die nodigste is. Dit is die beste vir jou,” sê sy.

Lynette sê haar loopbaan het háár gekies en nie andersom nie.

“Dit was net belangrik vir my om al my talente te gebruik. Ek kan myself nie iets anders sien doen nie. Partykeer dink ek kuns is die enigste ding wat ek kan doen. My familie is baie belangrik vir my. Hul geluk en sukses maak my gelukkig. My werk as lektor en my sukses as kunstenaar maak my gelukkig. En dis genoeg.”

Hoe het dit gebeur dat jy met weefwerk begin het?

My eerste ervaring met weefwerk was by Unam tydens my studentejare. Dit was baie basies, en ek moet sê ek het daai tyd nie ‘n groot liefde daarvoor gehad nie. Ek het wel in tekstielwerkmetodes belang gestel. Dit was toe ek as meesterwewer gekwalifiseer het, dat my passie ontwikkel het. Ek was bevoorreg om deur iemand wat self ‘n meestersgraad het, opgelei te word.

Waaroor gaan jou solo-uitstalling?

Hierdie uitstalling het uit 10 weefstukke ontstaan wat ek in 2015 in Amerika gemaak het. Die inspirasie vir die werk het ek tydens ‘n Textiles Production and Design-klas gekry. Ons het onder meer van die Digital Dobby-metode geleer. Die Digital Dobby verwys na ’n semi-outomatiese masjien wat deur ‘n rekenaar “gelees” word. ‘n Mens doen steeds al die handewerk self, soos om die wol op te sit en ook die weefwerk, maar die rekenaar sê vir die masjien wanneer wat geweef moet word.

Ná ek na Namibië teruggekeer het, het ek besluit om die werke bymekaar te sit en aansoek vir ‘n solo-uitstalling te doen, hoewel ek geweet het 10 weefstukke sal te min wees. Ek het dus verder begin werk om nuwe weefstukke te maak. Die moontlikheid om nóg weefstukke met ‘n Digital Dobby te maak, was nul. Spasie is vir meeste kunstenaars problematies en dus het ek besluit om alles op ’n klein skaal te maak. Dis hoe die miniatuur-konsep ontstaan het.

Die uitstalling bestaan uit tussen 30 en 45 werke. Ek verskaf gewoonlik meer as wat nodig is aan die galery, sodat hulle self kan besluit watter werke goed genoeg vir die uitstalling is.

Daar is altyd ‘n paar flops in en ‘n mens wil seker maak net die beste van die beste word ten toon gestel.

Ek sien myself as ‘n konseptuele kunstenaar en dus werk ek altyd met temas. Hierdie temas handel gewoonlik oor persoonlike ervarings, verhoudings wat ‘n impak op my lewe gehad het en die dieper betekenis van die mens.

Die uitstalling bestaan uit drie afdelings.

Die eerste afdeling is die Adinkra Weaving Collection.

Dit behels nege belangrike verhoudings in my lewe. Die Adinkra-simbole behels karaktertrekke wat toegeken word aan mense wat dit toon. Ek wou getuienis lewer oor nege belangrike individue wat die grootste impak op my lewe gehad het.

Dan is daar die Recycled Weaving Collection.

Dit gaan oor hoe om gemors in wonderlike kuns te omskep en terselfdertyd jou omgewing skoon te hou. Ek werk elke dag met studente wat onderwysers wil word. Ek sien dit as die perfekte manier om my studente in te lig oor hoe belangrik dit is om hul toekomstige leerlinge interessante maniere te leer om hul omgewing skoon te hou.

Die derde afdeling is die Experimental Weaving Collection.

Hierdie reeks het ontstaan uit my frustrasie omdat ek nie meer kon weef op die manier waaraan ek gewoond geraak het nie.

Toe ek na Namibië terugkeer, het ek nie meer toegang tot die wonderlike masjiene en materiale gehad wat ek in Amerika gebruik het nie.

Ek moes alternatiewe maniere gebruik om te bly weef en om my kennis uit te brei.

Op hierdie manier het ek hierdie reeks self ontwikkel.

Dit was meer ‘n eksperimentele manier om uit te werk hoe ek dit wat ek toegepas het op meer gesofistikeerde masjiene op ‘n eenvoudige hout- weefraam kon toepas.

Hoe het jy op die titel besluit?

Die inspirasie daaragter het te doen met die feit dat alle werke in die uitstalling uit miniatuurkonsepte bestaan. Die Experimental Weaving Collection is ’n studie van die direkte kommunikasie tussen die brein en die hand. Weefwerk is baie georganiseerd en vereis baie beplanning. Die basiese raam waarop ek werk, het baie beperkings en ek wou nie myself aan een spesifieke weefraam toewy nie. Ek wou sonder beplanning weef. Ek wou die terapie van weef ervaar. En vir my speel dit ‘n groter rol as die beplanning van die eindresultaat.

Werk jy by die huis of het jy ‘n ander ruimte?

Ek werk meestal by my huis. Soms werk ek waar ek myself ookal bevind. Die kompaktheid van my rame laat my toe om dit oral saam met my te neem. ‘n Groot deel van die werke wat tans in die uitstalling is, het ontstaan terwyl ek met my familie kuier en gesels. Ek het altyd aan die Experimental Weaving Collection gewerk wanneer ek tussen mense is, sodat ek myself kan keer om te beplan terwyl ek werk. Die patrone moes spontaan wees. Op die oomblik skryf ek ’n opstel wat hierdie konsep breedvoerig bespreek.

Wat is vir jou die lekkerste deel van jou werk?

As ‘n lektor is die lekkerste deel van my werk wanneer ek ‘n verskil in ‘n student se lewe maak. Ek hou daarvan om hul denkwyse op ‘n positiewe manier te beïnvloed. Ek sien die verandering wat hulle toon en dit maak my gelukkig. Dikwels vra mentors my of ek ‘n sketsboek vir idees aanhou. Ek is te ongeduldig vir so iets. Ek moet die idee in die werklikheid tot uiting bring. Wanneer hierdie idees ’n werklikheid word, is ek op my gelukkigste.

Watter een van jou werke is jou gunsteling?

Ek is trots op al die weefstukke wat ek al gemaak het, maar onder elke reeks werke is daar ‘n gunsteling. In hierdie uitstalling is Meredith: Loyalty & Devotion (2015) en Series 4 of 6 Phase 4 (2018) my gunstelinge.

Buiten jou weefwerk, skep jy enigiets anders?

Ek doen meestal enigiets met tekstiele: drukwerk, shibori en viltwerk. Ek skets soms vir myself of vir ‘n projek. Ek maak ook kledingstukke vir kunsprojekte.

Is daar iets van Lynette wat mense nie weet nie?

Ek is ‘n baie oop en reguit mens, maar ek kan ook liefdevol wees. Min mense in my lewe besef dit, omdat ek dit so selde wys. Dis tragies dat ek min geleentheid het om hierdie deel van myself te wees.

Wat is vir jou spesiaal aan Namibië?

Die sonsondergang.

Watter rol het kuns in die samelewing?

Dit is een van die fondamente waarop menswees gebou word. Ons kan nie daarsonder nie, en ek wens die wêreld wil wakker skrik en dit in onderrig ook as belangrik beskou.

Wat is volgende vir Lynette?

Tans is ek besig om aan ‘n groot projek te werk, wat onder meer die maak van afdrukke behels. Die voorlopige titel is tans Namibian Identity. Ek hoop om dit volgende jaar uit te stal. Die projek word deur die National Arts Council of Namibia geborg.

Waar en hoe kan mense jou kontak?

By [email protected] of [email protected].

*Hand to Mind is tans by die StArt Art-galery in die ou Grüner Kranz-kompleks in Macadamstraat, in die suidelike nywerheidsgebied, te sien. Die uitstalling duur tot 8 Junie en kan tussen 16:00 en 19:00 vanaf Dinsdae tot Saterdae besoek word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!