Van Kunene tot Kaap vir outisme

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh -‘n Groep vrywilligers gaan ten bate van outisme 2 400 km oor nege weke van die mond van die Kunenerivier in die Skedelkus tot in Kaapstad stap.
Die doel is om ‘n N$1 miljoen vir twee ondersteuningsgroepe vir outisme in te samel.
Tussen 1 September en 5 November sal twee bestuurders van ondersteuningsvoertuie en ses stappers, onder wie ‘n blinde man, die staptog onderneem om geld vir die Cornerstone Leersentrum asook Ethan Onderwys en Opleiding in te samel – twee groepe in Suid-Afrika wat ondersteuning vir kinders met outisme en hul families bied.
Die organiseerders beplan om soortgelyke Namibiese organisasies aan boord te bring, wat van die geleentheid gebruik kan maak om self ook geld in te samel.
Die The Big Autism Thing, ‘n groep wat homself daarvoor beywer om geld vir outisme deur uithou-geleenthede in te samel, het in 2012 en 2015 soortgelyke staptogte van onderskeidelik 1 200 km en 1 500 km lank vir outisme gereël.
“Ons soek egter nog na twee 4x4-motors vir die 2016-geleentheid. Ons het borgskappe vir byna alles – wat hierdie geleentheid moontlik maak – maar kort nog motorvoertuie. Dit kan geborgde voertuie wees, of miskien is daar iewers twee entoesiaste wat 4x4's besit en graag deel van ons span wil wees. Lopende uitgawes sal gedek word,” het die woordvoerder en een van die organiseerders, me. Janine Johnson, gesê.
“Die staptog sal nege weke lank duur en word op 5 November afgesluit met ‘n staptog deur die gemeenskap in die Kaap, waartydens die stad se burgemeester asook ander hooggeplaastes teenwoordig sal wees,” het Johnson gesê.
“Die aantal kinders wat met outisme gediagnoseer word, verander nou in ‘n epidemie. Statistieke dui daarop dat tussen 1 in 110 kinders of 1 in 68 Afrika-seuns hiermee gediagnoseer word. Instansies in Afrika wat met outisme werk, word oorweldig en kan nie byhou nie.
“Wêreldwyd kom outisme in een in 88 kinders voor, terwyl minder as 0,5% van kinders met dié toestand onderrig ontvang wat by hul spesiale behoeftes aangepas is. Seuns word meer as meisies hierdeur geraak,” het Johnson gesê.


DIE STAPPERS
Die vrywilligers wat aan die staptog gaan deelneem, sluit in ‘n blinde stapper, ‘n vrou wat vir jare aan chroniese moegheidsindroom gely het, ‘n ervare organiseerder van uithoustapritte vir outisme, ‘n atleet wat gereeld deelneem aan geleenthede waar sy uithouvermoë getoets word asook ander entoesiaste.
Mnr. Angus Moore bestuur die The Big Autism Thing-groep en was die meesterbrein agter vorige staptogte, waaraan verskeie outisme-groepe, gemeenskappe en skoolkinders deelgeneem het om te help om geld in te samel.
Die tweede stapper, mnr. Hilton Johnson, wat in Zimbabwe gebore is maar tans in Nieu-Seeland woon, het 80% van die funksie van sy optiese senuwee verloor en is blind. Hy sê hy moet daagliks uitdagings weens sy gebrek oorkom en verstaan die uitdagings en hartseer van families met outistiese kinders. Boonop is hy passievol oor kinders en wil hy graag ander mense met gebreke help.
Sy eggenote, Janine Johnson, is die enigste vrou wat aan die staptog gaan deelneem en het vir bykans 20 jaar lank weens blootstelling aan toksiese middels aan chroniese moegheidsindroom gely, maar kon weens ‘n deurbraak in genetiese tegnologie weer haar gesondheid herwin. Sy is passievol daaroor om ander te help om ook hul gesondheid terug te kry.
Gareth Moore, Angus se broer, is ‘n entoesiastiese uithou-atleet wat reeds aan verskeie geldinsamelingsgeleenthede deelgeneem het. Behalwe vir sy deelname aan die vorige twee The Big Autism Thing-staptogte, het hy in 1997 met sy fiets vanaf die Victoria-watervalle tot in Kaapstad gery om groter bewustheid van dwelmmisbruik te wek. In 2008 het hy vanaf Kaapstad na Port Elizabeth ten bate van bejaardes gery.
Stapper Wayne Rutherford is lief vir die buitelewe en om mense te help het reeds voorheen aan dié staptogte deelgeneem. Craig Procter, die laaste stapper, bestuur die familiebeheerde Shell-diensstasie in Groenpunt in die Kaap en het ook voorheen aan die staptog deelgeneem.
Vir meer inligting, kontak vir Angus Moore by +27 79 523 0223, +27 22 772 1130 of [email protected].

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer