Van lieg en bedrieg
Van lieg en bedrieg

Van lieg en bedrieg

Tielman van Lill
Hy is twee jaar oud, sit voor die yskas met stroop, grondboonjiebotter en mayo oraloor gepleister.

Veral oor sy gesig, die vloer en yskas, en die helfte van een van sy pa se germaanse bruisskommels lê op die vloer.

“Wat maak jy?” vra sy ma skielik agter hom terwyl dié mannetjie hom met groot oë boeglam tot stilstand en stilswye skrik.

“Niksie,” sê hy met ewe groot, onskuldige kinderogies terwyl hy in sy reine kinderonskuld daar sit.

Klink dit dalk bekend? Vir menige ouer wat sy dierbare Frikkie of Louwnatjie ná ’n onaardse stilte in die huis opspoor waar dié sy eie Picasso teen die slaapkamermuur en gesig met sy ma se duur lipstiffie sit en skets het. Of daardie hele duur pot room (waarvoor sy drie maande gespaar het) mildelik in die hare, klere, oor die spieëlkas en omliggende gebiede gesmeer het.

Op daardie ouderdom is dit dalk snaaks en die ontkenning word vergewe nog voor die “issie ekke nie” gespreek word. Die kinderlike onskuld is veronderstel om later soos ons ouer word te verdwyn. Maar dit wil voorkom of dié tipe gedrag by ’n sekere volwasse subspesie (soos dronk en egbrekende gades, politici, prokureurs en hul kliënte, tandartse en sportmense) in felheid toeneem.

In 2014 word ’n Suid-Afrikaanse topfietsryer net voor die begin van die ikoniese Tour de France-fietstoer weens ’n verbode middel in sy bloed terug RSA toe gepos. Hy weet van niks nie, seg die klong en verkondig wyd en syd dat hy nie die sousie in sy bloed ken nie.

Met die geskiedenis as verdoemende getuie is menige atleet in die verlede van verneuk verdink en in die beskuldigdebank geplaas nadat sy A-monster positief vir tjietsous getoets het.

Dié arme siele is soos altyd nes die kind voor die friedge totaal en al stomgeslaan oor die verdoemende getuienis van sy A-monster en versoek dat sy B-monster ook bekyk moet word.

Ná die B-monster dieselfde uitslag soos die sakkende son in die weste se donker oor hulle toegeslaan het, word die ontkenning en onskuld selfs verder gedryf.

“Ek wetie hoe dié pro-skelm sousie in my are gekom het nie, want ek wetie eens van so ’n ding nie! Ek djuse glattie, dis net tjiekkenbrests en eierwitte, pappie,” word deur die beskuldigde vertel.

Wel, ons almal glo hulle, maar al hul ekse (veral eksmans en eks-skoolhoofde) en al wat ’n gewese ding is wat hul streke ken, weet van veel beter. Lieg is soos steel – kom een keer daarmee weg en die betrokkenes word loopbaanbedrieërs wat iewers langs die pad ’n spoedlokval of tien aftrap. Een leuen lei tot ’n ander liegstorie en so karring die ou brousel aan.

Ek sien vandeesweek ’n paalpouster van die Citizen-koerant in Suid-Afrika wat vertel dis oukei om as gesuipte polisieman aan diens te wees.

“Drunk cop on duty not a crime,” blêr die stuk karton dit in swart letters uit.

Wie dié wysheid uitgedink het, sal ek nie weet nie. Die Citizen dra net die booskap van ’n totaal en al volslae breinlose idioot vir almal oor om te lees en heimlik oor sy tjol te giggel.

Ek het wel die gewraakte video gesien waar die beampte met onvaste bene en ewe onvaste tong ontken dat hy dronk is. Dit verg nie ’n kenner om te sien die polisieman in uniform wat helder oordag langs sy patrolliemotor met ’n vuurwapen aan sy sy staan, gesuip is nie.

Lieg en bedrieg kom deesdae uit alle oorde. Wat my stomslaan, is dat die leuenaars hul daaglikse gang met breë tred aanpak asof hulle sopas die heelal en sy omliggende gebiede ’n helse guns bewys het om die mensdom van totale uitwissing te red.

Is ons almal deur die bank al so gekondisioneer om enige snert soos leuens gedwee te ervaar?

Wel, die blondine vertel haar kollega hoe slim haar man is.

Sy sê: “Toe ek my vriendin bel, antwoord my man en hy sê vir my ‘hallo liefie’ – hy’t sommer geweet dis ek.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer