Van Maandag weer 2 vlugte na Johannesburg
Van Maandag weer 2 vlugte na Johannesburg

Van Maandag weer 2 vlugte na Johannesburg

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Air Namibia sal vanaf 1 Julie weer twee keer per dag tussen Windhoek en Johannesburg vlieg, met ook twee vlugte daagliks tussen die Kaapstad en die Hosea Kutako Internasionale Lughawe.
Die vlugte tussen Windhoek en Luanda bly egter opgeskort, het die nasionale redery Donderdag in ’n verklaring gesê.
Air Namibia met sy vloot van tien vliegtuie is tans tot so ’n mate deur sy skuld lamgelê dat hy vanaf 3 Junie die vlugte op sy streeksroetes drasties moes verminder.
Vlugte op die Windhoek-Luanda-roete is weens die operasionele krisis gekanselleer, terwyl die drie daaglikse vlugte tussen Windhoek en Johannesburg tot net een verminder is. Die onekonomiese Airbus A330-300 moes toe op hierdie roete gebruik word.
Tussen Kaapstad en Windhoek is die drie daaglikse vlugte tot net twee verminder – ’n direkte vlug met ’n Embraer ERJ en een via Walvisbaai met die enigste oorblywende Airbus A319.
Dit moes gedoen word omdat net een van die vier Airbus A319-100’s in sy vloot in gebruik was.
Twee het diepgaande roetine-onderhoudswerk by South African Airways Technical (SAAT) in Suid-Afrika ondergaan en die ander een is vir soortgelyke onderhoudswerk na Siprus gestuur, waarna dit vir verdere werk na SAAT moet gaan.
Volgens Air Namibia sal die vliegtuig in Siprus hierdie naweek na Johannesburg vlieg waar daar volgende week daaraan gewerk sal word. Die verwagting is dat die vliegtuig die week daarna weer in gebruik sal wees.
“Verder vlugte sal dan heringestel word en inligting daaroor sal later bekend gemaak word,” sê mnr. Xavier Masule, waarnemende hoof uitvoerende beampte van Air Namibia.
Die maatskappy in Siprus het vroeër aangedui Air Namibia se Airbus A319-100 sal nie vrystel word voor ’n betaling van N$5,1 miljoen nie gemaak is nie.
Verder sou SAAT ook nie die vliegtuie wat hy gediens het aan Air Namibia terugbesorg het voor ’n betaling van N$20 miljoen en ’n terugbetalingsooreenkoms vir die res van die skuld, nie gemaak is nie.
Dié inligting het bekend geword toe Masule die uitvoerende direkteur van die ministerie van werke en vervoer, mnr. Willem Goeiemann, hieroor ingelig het.
Dit blyk N$19 miljoen is reeds in April aan SAAT betaal en ’n verdere N$6,9 miljoen is aan die einde van Mei betaal.


Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer