Van Outjo na New York

Tanja Bause
Tanja Bause – Sy het met haar tradisionele Hererorok in die strate van New York geloop.

Mense het foto’s geneem en haar gevra van waar sy kom.

“Die mense ken nie vir Namibië nie. Hulle weet nie eens waar die land geleë is nie. Ek moes hulle verduidelik en van my land vertel. Dit was baie lekker.”

Só vertel me. Elfriede Amporo (59) wat vir die eerste keer op ‘n vliegtuig én buite die landsgrense was – vir haar seun se troue op 12 Mei in New York.

Amporo is op Fransfontein in die Khorixas-omgewing gebore. Sy het daar grootgeword en skoolgegaan. Na skool het sy vir ’n paar jaar in Windhoek huiswerk gedoen voordat sy in 1983 Outjo toe getrek het. Hier het die ma van vyf by verskillende winkels as verkoopsdame gewerk voordat sy vyf jaar gelede by die Privaatskool Moria se koshuiskombuis begin kook het.

Haar seun Felix het aan die Universiteit van Namibië gestudeer. Hy het daarna by die ministerie van buitelandse sake begin werk wat hom vir vyf jaar na Parys, Frankryk, gestuur het. Tydens ‘n vergadering in Uganda twee jaar gelede het hy vir Angelica – oorspronklik van New York – ontmoet. Die liefde het geblom. Dit was nie lank nie, toe bring Felix haar Namibië toe om sy ma te ontmoet.

Vir die groot dag het Felix vir sy ma en ’n oom vliegtuigkaartjies gekoop. Hulle is via Johannesburg en Londen na New York.

“My twee broers en my oudste dogter het ook saam met my na Amerika gevlieg,” vertel Amporo.

“Die mense het my voor die tyd baie bang gemaak. Hulle het vir my gesê as die vliegtuig opstyg, sal ek naar voel en opgooi. Maar dit was nie so nie! Toe ons opstyg, het ek heel rustig teruggesit en dit was glad nie erg nie.”

Oor haar ervaring in New York sê Amporo daar is “miljoene mense wat nooit slaap nie. Die winkels maak ook nie toe nie en jy loop oral tot waar jy wil wees.”

Die hoë geboue het haar ook beïndruk. “Dit is so lank en groot dat jy nie die einde of die dak kan sien nie. Ons was ook by King Kong se gebou (die Empire State Building), maar dit het my baie deurmekaar gemaak omdat dit 102 verdiepings het. Ek het nie opgegaan nie.

“Daar is treine wat onder die grond ry. Jy gaan met trappe af tot onder, dan klim jy op ’n trein wat daar onder ry,” het Amporo gesê.

Sy droom nou nog van New York en die besonderse atmosfeer daar.

“Dit is net ’n ánder plek. Daar is nie klein huise nie. Die voertuie word nie toegesluit nie; hulle staan sommer oornag op die straat voor die geboue. Dis baie anders as hier.”

Angelica het met haar besoek aan Namibië vir haarself ’n Hererorok laat maak. Die aand voor die troue het al die vroue in dié rokke uitgegaan en tydens die troue het die Namibiese vroue ook dié rokke gedra. “Dit was vir ons as familie belangrik dat daar ’n bietjie van ons tradisie by die troue is,” het Amporo gesê.

Felix is terug in Namibië en Angelica sal by hom aansluit sodra haar sake in New York afgehandel is. Intussen is Amporo besig om die verwelkoming van haar skoondogter te reël. “Sy is nou deel van ons en ons moet haar ordentlik welkom heet.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!