Van rugbyballe tot aandrokke - mooi met ’n doel

Karin Eloff
Lloyd Zandberg

Op 20 Mei 1995 het Andeline Wieland die wêreld sonder enige drama binnegekom. Sy het nie juis anders as enige ander peinkvoet gelyk nie. Eintlik is dit ’n grillerige besigheid. Niemand is mooi of reg vir ’n foto as hulle pas uit iemand anders se liggaam geklim het nie. Dalk oulik of ’n soort wonderwerk, maar beslis nie voorbladgehalte nie.

Andeline se ouers, Wulff-Dieter en Suzaan, het op daardie oomblik nie geweet hul dogter sou eendag op verskeie voorblaaie en podiums staan nie. Sy het nou wel rooi hare gehad, maar sy was nog net ‘n baba. Andeline het eintlik geen bekendstelling nodig nie. Ons weet almal wie sy is. As jy nou nog nie weet van wie ek praat nie, stel ek voor jy Google gou haar naam voor jy hierdie artikel verder lees. Kom by, asseblief.

Sy is een van daai wat jou twee keer laat kyk as sy op straat verby jou loop.

Jy hou dadelik op waarmee jy besig was en verstaar jou aan haar alles.

Andeline het op Swakopmund grootgeword en het deur die jare twee sussies gekry.

Ek dink toe haar ouers sien hoe mooi hul eerste baby ná ’n paar jaar uitgedraai het, besluit hulle om nog te bou. Die ander twee is net so mooi. Ek het al ‘n foto van al drie saam gesien. Ek soek nog my asem.

Andeline sê vandat sy kan onthou, het sy in die uitvoerende kunste belang gestel.

Om te perform het haar opgewonde gemaak.

Toe haar ouers agterkom die kind moes eintlik op ‘n verhoog gebore gewees het, het hulle besluit om haar klassieke ballet- en sanglesse te laat doen.

Andeline het onmiddellik aanklank gevind daarby en jare later, in 2012, sou sy aan haar eerste World Championships of Performing Art, in Los Angeles, deelneem.

Dit was, volgens haar, die ommekeer in haar loopbaan.

Sy het nog altyd die droom gekoester om in die TV- en vermaaklikheidsbedryf te werk.

Andeline het in 2013 matriek voltooi aan Namib High School in Swakopmund en het ná skool drama aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Sy het verlede jaar graad gevang.

Tans is sy besig met haar honneursgraad in joernalistiek.

Hoewel Andeline druk besig is met allerhande dinge, het sy die afgelope vyf jaar haar liefdadigheidsorganisasie, The Snow White Project, suksesvol bestuur.

Sy het haar eie juwelereeks, Untold Jewellery, tydens haar studies aan die gang gehou.

In 2011 het sy aan skoonheidskompeitisies begin deelneem.

Sy sê dit was haar seunspelle wat haar uitgedaag het om dit te probeer, toe gee sy dit ‘n go.

En daar loop Andeline in 2012 met die titel van Mej. Tiener Namibië weg.

Op daai oomblik het sy besef: Hier mag dalk ‘n toekoms aan die broei wees.

Skoonheidskompetisies het haar baie van haarself geleer, sê sy.

“Mej. Tiener Namibië het baie deure vir my oopgemaak. Dit het aanleiding gegee tot my passie om my hart met die gemeenskap te deel. Ek het baie selfvertroue opgebou en dit het baie aspekte van die lewe vir my duidelik gemaak.

"Ek het skielik geweet hoe dit voel om te verloor en ek kon my vaardighede soos toesprake lewer, lyftaal en diplomasie vir ander leer wat nooit die geleentheid gehad het om dit te leer nie."

Andeline was in 2016 Mej. Namibië se eerste prinses.

Vroeër vanjaar het sy die goeie nuus ontvang dat sy Namibië in Lizelle Esterhuizen, 2016 se Mej. Namibië, se plek by die Mej. Vastelande-kompetisie moet verteenwoordig. Lizelle het ander verpligtinge gehad en kon nie die geleentheid self bywoon nie.

“Dit was oorweldigend,” sê sy.

“Ek het nooit gedink so ’n geleentheid sou oor my pad kom nie."

Die voorbereiding vir ’n kompetisie van hierdie standaard is intens, vertel Andeline.

Dit vat baie meer as net ‘n mooi gesiggie en bruin bene.

Andeline is toe vanjaar van 27 tot 31 Junie na Las Vegas om aan Mej. Vastelande 2017 deel te neem.

“Die kompetisie was baie streng en al die meisies is beeldskoon. Toe hulle my as die wenner kroon, het dit amper onwerklik gevoel.

"Hier staan ek, ‘n rooikopmeisie van Swakopmund, en wen die kompetisie."

Andeline woonagtig tans op Stellenbosch.

Wat is die doel van skoonheidskompetisies in die samelewing?

Dis nie ‘n nuwe konsep nie. Die eerste kompetisie van dié soort, het volgens my al in die Bybel plaasgevind. Ek verwys na die storie van koningin Esther. Sy was een van honderde vroue wat deur die koning gekies is om sy nuwe bruid te wees. Die rede waarom ek dink die Bybel deel hierdie storie met ons, is sodat ons kan sien hoe Esther haar platform gebruik het om ander mense se lewens te verbeter.

Sy het lewens gered. Ek dink nie ek sal ooit daai vlak bereik nie, maar dit is ‘n goeie verwysingspunt. Mooi vroue word altyd raakgesien, maar mooi vroue wat hul skoonheid en talente gebruik om mense in die samelewing te beïnvloed is hoekom ek glo skoonheidskompetisies is steeds relevant.

Waar sien jy jouself oor 15 jaar?

Ek wil baie graag my eie TV- of radioprogram aanbied. Ek wil goeie beleggings in groeiende maatskappye hê. Ek wil my raad oor skoonheidskompetisies in Namibië en Suid-Afrika deel. My juwelereeks, Untold, moes teen daai tyd ook al baie ontwikkel het en hopelik is ek verloof of selfs getroud.

Wie is die belangrikste persoon in jou lewe?

My ouers is my rots. Eerlikwaar, hulle het vir my die regte fondasie gegee om ‘n sterk, hardwerkende en eerlike vrou te wees. Ek word ook gereeld deur toonaangewende mense geïnspireer soos Rolene Strauss, Elon Musk en Trevor Noah.

Wat is jou lewe se temalied?

“The Reason” deur Hoobastank. Dit laat my gelukkig voel, maar dit is die koor wat vir my so hartroerend is. Die woorde verduidelik hoe ‘n mens na enige verhouding moet kyk, hetsy op ‘n professionele of intieme vlak.

As jy eendag ‘n biografie oor jou lewe moet skryf, wat sal die titel wees?

Finding Your Limits. Ek wil hê mense moet my onthou as die persoon wat al die stereotipes van die lewe uitgedaag het.

As daar iets in jou verlede is wat jy sou wou verander, wat sal dit wees?

Ek wens ek was meer selfversekerd as ‘n tiener. Ek wens ek het geweet hoe om vir myself op te staan en my innerlike konflik te konfronteer. Ek het ook in ‘n stadium ‘n eetversteuring gehad, maar as ek nie daai donker tyd in my lewe gehad het nie, sou ek nooit my regte doel op aarde gevind het nie.

‘n Aand voor die TV of op die dansvloer?

Beide. My ma noem my partykeer "ouma" omdat ek baie daarvan van hou om dokumentêre en talk shows op my laptop kyk. Maar ek is ook mal daaroor om myself mooi te maak en ‘n lekker sokkie-aand te hê.

Demins of rokke?

Rokke. Altyd.

Wat is vir jou mooi? Of wanneer is iets vir jou mooi?

Ek is mal oor moeite. Iemand is vir my mooi wanneer jy kan sien daai persoon het baie moeite ingesit om sy "thing" te ontwikkel. Hetsy dit innerlik of uiterlik is. Dit is hoekom ek dink mense wat "average looking" is, kan so aantreklik wees. Hulle moes baie moeite en tyd insit om charismaties en snaaks te wees. Dieselfde geld vir argitektuur, mode en literatuur. Ek bewonder tyd en moeite.

Wat is jou gunstelingkleur?

Glitter en roosgoud.

Hou jy van reis?

Ek is verlief daarop. Ek is nie ‘n groot aanhanger van die son nie, so strande is nie my droomplekke nie.

Wat is die belangrikste les wat jy al geleer het?

Ek het geleer om alles met ‘n knippie sout te neem. En om met jou hele wese lief te hê as jy liefhet.

Het jy enige fobies?

Hoogtevrees. Vlieg kan ek hanteer, maar bungee jumping sal my einde wees.

Is daar iets wat mense nie van jou sal verwag nie?

Seker die feit dat ek in ‘n stadium rugby gespeel het.

Wat is jou grootste wens?

Vir mense om mekaar te sukses te gun. Jaloesie ontstel my.

Wat is volgende vir Andeline?

Ek toets nog die waters. Ek weet dat deure vir jou oopgaan wanneer jy dit die minste verwag. Vir nou is my fokus op my studies en om my jaar as Mej. Vastelande 2017 met lof en eerlikheid te voltooi.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!