• Tuisblad
  • Afrika
  • Van Rupert tot Bekker: Só word SA rykes in 2018 armer

Van Rupert tot Bekker: Só word SA rykes in 2018 armer

2018 was nie ‘n goeie jaar vir Suid-Afrika se superrykes nie.
Hanlie Stadler - Al Suid-Afrika se dollarmiljardêrs – van Nicky Oppenheimer en Johann Rupert tot Patrice Motsepe en Koos Bekker – het in 2018 op papier armer geword.

Die vryval in Aspen Pharmacare se aandeelprys in 2018 het selfs meegebring dat Stephen Saad (54), stigter en uitvoerende hoof, nie meer lid van die tiensyferklub is nie.

Saad is nie meer ingesluit op Forbes se daaglikse lys van die wêreld se dollarmiljardêrs nie. Hy was nog in Maart 2018 nr. 1 867 op die 2018-ranglys, met ’n geraamde netto batewaarde van $1,2 miljard.

Aspen se aandeelprys het in 2018 met 52% tot R133,31 geval nadat die farmaseutiese maatskappy teleurstellende syfers uitgereik het. Beleggers is veral oor Aspen se skuldvlakke bekommerd. Saad hou volgens MarketScreener ’n belang van 12,3% in Aspen, wat hom die grootste aandeelhouer ná die Openbare Beleggingskorporasie, met 13%, maak.

Dis egter nie net Saad se fortuin wat in 2018 gekrimp het onder Suid-Afrika se superrykes nie.

Volgens Bloomberg se lys van die wêreld se 500 rykste mense is Nicky Oppenheimer (73) die rykste Suid-Afrikaner. Sy netto batewaarde het van $7,18 miljard tot $5,8 miljard gedaal – ’n verlies van $1,38 miljard oftewel 19,2%.

Oppenheimer, wat die familie se 40%-belang in 2012 vir $5,2 miljard aan Anglo American verkoop het, is nr. 212 op Bloomberg se lys en nr. 202 op Forbes se lys.

Forbes raam sy netto batewaarde veel hoër, op $7,6 miljard, wat die verskille weerspieël in hoe die twee finansiële publikasies hul somme doen.

Bloomberg sê Oppenheimer se grootste bate is kontant.

Volgens Bloomberg het Johann Rupert (68) se netto batewaarde van $8,1 miljard tot $6,03 miljard gedaal. Dis ’n daling van $2,07 miljard oftewel 25,6%. Rupert is nr. 232 op Bloomberg se lys.

Forbes plaas hom nr. 318 op hul lys en raam sy netto batewaarde selfs laer, op $5,2 miljard.

Rupert se grootste bate is die aandele wat hy in die Switserse luuksegoederegroep Richemont hou. Richemont – wat in 1998 gevorm is toe bates van Rembrandt ontknoop is – besit onder meer luukse horlosies en juweliersware, onder meer Montblanc, Jaeger-LeCoultre en Cartier.

Bloomberg lys ook vir Natie Kirsh (86) as ’n Suid-Afrikaner, en dui aan dat sy netto batewaarde van $6,39 miljard tot $5,71 miljard – $680 miljoen, oftewel 10,6% – gedaal het. Hy is nr. 256 op die lys.

Forbes lys hom as ’n burger van eSwatini (Swaziland), op nr. 412 en met $4,4 miljard se rykdom.

Volgens Wikipedia is Kirsh in Suid-Afrika gebore. Hy het in Potchefstroom grootgeword, waar hy aan Potchefstroom Boys High gematrikuleer het. Hy het ’n B.Com-graad aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal.

Hy het Suid-Afrika finaal in 1986 verlaat nadat ’n transaksie tussen sy maatskappy en Sanlam skeefgeloop het.

Kirsh is nog ’n burger van eSwatini (wat sy naam verlede jaar verander het) en het verblyfreg in die VSA en Brittanje. Hy beheer die Kirsh Group, ’n konglomeraat wat onder meer die beherende belang in die kruideniersware-groothandelaars Restaurant Depots en Jetro Cash & Carry in die VSA besit.

Omdat Forbes álle miljardêrs lys, nie net die rykste 500 mense soos Bloomberg nie, sluit hy ook Koos Bekker (66), voorsitter van Naspers, in. Sedert Forbes se 2018-lys uitgereik is, het Bekker se welvaart van $2,6 miljard tot Woensdag se $2,2 miljard gedaal. Dié daling van $400 miljoen oftewel 15,4% weerspieël bes moontlik grootliks die 16%-daling in Naspers se aandeelprys in 2018.

Bekker het van nr. 924 op Forbes se 2018-lys in Maart tot nr. 986 op 2 Januarie gedaal.

Ook Patrice Motsepe (56) het in 2018 armer geword.

Sedert Maart het hy, nes Bekker, $400 miljoen se batewaarde afgeskryf, maar dit verteenwoordig 16,7% van sy netto batewaarde, wat van $2,4 miljard tot $2 miljard gedaal het.

Motsepe het sy fortuin in die mynbou gemaak. Hy is stigter en uitvoerende voorsitter van African Rainbow Minerals, wat goud, ystererts, platinum en ander metale myn. Die afgelope jare het hy gediversifiseer na finansiële dienste en is die voorsitter van African Rainbow Capital.

Motsepe het sy eerste miljard dollar in 2008 gehaal en was die eerste mens uit Afrika op die Forbes-lys. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!